Psalm 80: 1-7 en 17-19

God se beloftes gaan in vervulling met die geboorte van Jesus. Psalm 80 vertel van die volk wat staatmaak op die Here se goedheid en guns. Hulle bid en herinner die Here aan sy goedheid, hulle dink aan al die beloftes en vra dat Hy sy barmhartigheid aan hulle sal bevestig. ’n Oproep en smeking word aan God gerig dat Hy nie van sy goedheid en beloftes sal afsien nie. Die Psalm herinner ons aan die intieme verhouding tussen God en sy mense. God word aangeroep as die Herder. Soos met Psalm 23, kan elke gelowige op die Here steun vir versorging, beskerming, leiding en skuiling in tye van nood. Hy is ook Heerser oor die kosmos, die Een wat omgee en red. God word aangeroep en erken as die enigste God wat herstel kan bring. Die volk word met ’n wingerdstok vergelyk wat Hy uit Egipte gaan haal het om in Israel te kom plant. God die Boer wat intens betrokke is by die wingerdstok.

Dis tog die Here self wat vir Israel uit Egipte gaan haal het, ’n plek reggemaak het, sodat die volk kan floreer in sy gebied en sy lote laat groei tot aan die Eufraat. Dis God wat omgee, versorg en intiem betrokke is. Die Psalm versterk ons geloof met die wete dat God altyd betrokke sal wees, dat ons gebede God in beweging bring.

Ons oordink hierdie Psalm ook in die lig van die Nuwe Testament. Weer eens is ons verras oor God se beloftes wat in vervulling gegaan het met die geboorte en verlossing van die Here Jesus Christus. Elke gelowige in Jesus Christus is ’n loot wat vrug wil dra. Ons behoort aan God. As die Herder en Almagtige van Psalm 80 wil Hy ons op ’n besondere manier versorg en betrokke wees. Laat ons met ’n opregte pleidooi tot God as Almagtige nader en Hom smeek om op te tree ter wille van sy gelowiges, sy wingerdstok. Slegs Hy is in beheer van alles en almal.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth