Eksodus 16

Honger laat ’n mens vreemde dinge doen. Ook die Israeliete het iets hiervan beleef ná die euforie van die uittog uit Egipte. Skielik is die wonderwerk van God met hulle vergete. Hulle is honger en verlang na die vleispotte van Egipte. Pleks dat hulle hul nuutgevonde vryheid uit slawerny vier, kla hulle dat hulle honger is. God hoor die klagte en Hy voorsien. Hulle kry elke dag manna en kwartels, net genoeg vir hul daaglikse behoefte. Nie ’n spens vol nie. Gehoorsaamheid is gevra. Daar is die verband tussen die voorsiening van die manna en die heerlikheid van God. Die Israeliete het 40 jaar lank manna geëet, totdat hulle die grens van die land Kanaan bereik het.

Uit hierdie verhaal ontdek ’n mens opnuut hoedat God voorsien en dat dit genoegsaam was. Die waarskuwing was om nie meer te vat as wat vir die dag nodig was nie. Só is daar genoeg van God se goedheid vir elke dag. Hier is ’n verhaal van God se voorsiening as Skeppergod wat na sy skepsels omsien. Hy voorsien. Hy sien die nood, honger, verlange en verleentheid raak wat die mens beleef. Hoe kyk ons vandag na God se voorsienigheid? Beoordeel ons dit met die lens van oorvloed of tekort? Die lewenskoste het hoog geword. Kos het duur geword. Kla ons oor die hoeveelheid en verskeidenheid vleis wat ons nie meer kan bekostig om te eet nie? Dank ons Hom vir die feit dat ons nog kan eet en is ons dankbaar vir die kos wat ons wel kry om te eet? In goeie tye en slegte tye, sy genade is daar en dit is genoeg.

Heer, gee vandag ons dag se brood – U staan ons by in al ons nood,

ook wanneer ons so gou vergeet dat U ons dag se brood uitmeet.

Heer, seën tog vandag se brood en laat ons ander help in nood,   

laat ons bereid wees om te deel, want U gee altyd weer soveel.  

Heer, U is self die lewensbrood – U deel Uself uit in u dood.

U het ons selfsug só vergeef, nou kan ons uit u liefde leef.

(Gesang 568: 1-3)

Ds Kathleen Smith, Kaapstad