Markus 8: 27-33
Die dood ruk die mat onder ons uit. Meestal kom dit soos ’n dief in die nag. Sonder waarskuwing of tyd vir voorbereiding. Die meeste van ons het al hierdie ervaring gehad. Soms het ’n mens dalk geleentheid om voor te berei, maar die finaliteit kom ruk nogsteeds die mat onder ons voete uit.
Die dissipels word met die aankondiging van Jesus se dood gekonfronteer. Hy kondig dit driemaal aan en telkens sien ons die dissipels se skok en onbegrip. Petrus se reaksie is baie intens: Dit sal nie met U gebeur nie. Ons lees by die ander aankondigings dat hulle baie bedroef was en nie die betekenis kon verstaan nie. Vir drie jaar stap hulle saam met Hom, luister na sy prediking en sien die wonders. Vir drie jaar probeer hulle eintlik verstaan wie Hy is.
In die vertelling van Markus word dit duidelik dat die mense nie verstaan het wie Hy is nie. Selfs sy volgelinge het nie verstaan nie. Petrus antwoord op Jesus se vraag wie Hy is, asof hy verstaan, maar sy optrede wys gou die teendeel.
U is die Christus, was sy belydenis maar hy het niks verstaan van die lyding waardeur Jesus sou gaan nie. Sy eerste reaksie is om Jesus eenkant toe te roep en stil te maak. Hy sou gewildheid verloor. Jesus het dadelik geweet dat Petrus nie verstaan nie. Hy wys sy volgelinge daarop dat Hy die gestuurde van God is wat as die Seun van die mens baie moet ly en gaan sterf en uit die dood gaan opstaan. Dan berispe Jesus vir Petrus omdat hy dink aan wat mense wil hê.
Jesus stap hierdie lydensweg gehoorsaam aan God se wil. Hy moes wroeg oor die dood wat voorlê, maar Hy stap dit enduit.
Ds Manda le Roux, Weskus