Johannes 13: 1-17
In die Bybelse tyd was dit die gebruik dat mense nie alleen hul hande gewas het voordat hulle gaan eet het nie, maar ook hul voete. Dit laat die vraag: Wie was wie se voete? Vir welgestelde families sou slawe hierdie werk moes doen. By ’n arm gesin wat nie slawe kon bekostig nie, sou die een wat die laagste sosiale rang in die familie het almal se voete moes was. Die een wat voete was, is in die geselskap geag as die minste belangrik.
Maar dan kom Jesus en Hy draai hierdie idee om wat sy dissipels ook al van kleins aangeleer het: Hy was sy dissipels se voete. Ons kan onsself net indink terwyl Jesus saam met sy dissipels aan tafel gesit het, kom die oomblik van voetewas al hoe nader en die dissipels kyk onderlangs na mekaar wie dit gaan doen, want niemand wil dit tog doen nie. Jesus, die een wat hulle almal se meester is, die belangrikste aan die tafel, staan op en begin elkeen se voete was… En daar heers ’n ongemaklikheid, want iemand hoër was ’n mindere se voete.
Met goeie intensies wil Petrus nie deelneem aan hierdie spel van vernedering van sy Meester nie. Daarom sê hy ook dat hy dit sal aanvaar as Jesus ook sy hande en gesig sal was, want deur dít te doen, haal Jesus die groot vernedering van slawewerk eintlik uit. Jesus se antwoord maak dit heel duidelik dat dit hier nie soseer gaan oor die fisiese daad van voete was of die hoeveelheid water wat gebruik word nie, maar die simboliek van geestelike reinheid.
Jesus maak dit duidelik dat Petrus en die dissipels nie die impak verstaan van wat Hy nou doen nie, maar binnekort sal dit duidelik wees. Jesus wat die dissipels se voete was, wys vooruit na die kruis wat binnekort sal volg. Dit wys vooruit na God se mag en liefde in die opoffering van die kruis. Die kruisgebeure ís God wat die mensdom se voete was.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam