Johannes 13: 3-14
Jesus wat die dissipels se voete was, word ’n sleutelmoment wat ons leer om in diens van ander te wees. Dit is hierdie houding van Jesus wat vir die kerk die pas aangee om in die wêreld betrokke te raak. Die opdrag dat ons nodig het om te dien waar ons ook al kom. Wat egter kritiek belangrik is vir die verstaan van hierdie gebeure, is vanuit watter besef Jesus dit gedoen het. Dit was vanuit die wete dat alles in sy hande is. Jesus was die dissipels se voete met die wete dat alles aan Hom onderwerp is en dat Hy volmag het oor die hele skepping.
Vanuit Jesus se groot mag is sy optrede om te dien soos ’n slaaf of dienskneg van die tyd. Jesus se besef en sy houding daaroor, is vir ons ’n belangrike voorbeeld. Wanneer ons ander dien, doen ons dit nie omdat ons niks werd is nie. Ons dien nie ander want God vra van ons om sagmoedig te wees en maklik om oor te loop nie. Ons dien nie omdat dit al is wat ons kan doen nie. Ons dien omdat ons weet ons is deel van God se huishouding. Ons is saam erfgename in Christus en dit is vanuit hierdie aangrypende posisie, wat net uit genade aan ons gegee is, dat ons diensbaar is.
Ons diensbaarheid is wat God se werk in ons lewens laat uitvloei na ander om ons se lewens. Dit laat ons wel met die vraag: Gaan ek kerk toe om iets te ontvang? Vol te kom vir die week? Of gaan ek kerk toe om diensbaar te wees, te kyk waar ek kan dien in my gemeente en in my gemeenskap? Ons is nie geskep om bedien te word nie. Ek en jy is geskep om in Christus se voetspore van diensbaarheid te volg. Dit is egter belangrik dat ons besef ons diensbaarheid is vanuit ’n ere posisie by en saam met God.
Ds Thomas Dreyer, Malelane