Lees vandag ook Lukas 2: Geboorte van Jesus (AFR2020).
’n Vyfde ent: Stilte soos waarvan ons lees in Matteus 6: 6 (AFR2020): Maar jy, wanneer jy bid, gaan na jou binneste kamer, maak jou deur toe en bid tot jou Vader wat in die verborgenheid is, en jou Vader wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.
Begin vandag met vrae gemik op introspeksie: Wat weerhou my daarvan om in stilte te bly? Waar in my dag is daar vir my stilte, en wat kan ek doen om in die stilte in my werklik stil te wees?
Stilwees in jouself neem ’n entjie (tyd) se wandel terwyl jy bewustelik die geraas van die wêreld en jou gedagtes toelaat om verby te gaan. Stilte, aan die ander kant, is ’n luuksheid in ons wêreld. Hier in jou stilwees, en in stilte dan, ervaar jy God se teenwoordigheid buite jou rasionele konsepte (lees: kognitiewe idees). Buite jou besig wees, en beheptheid, met jou persoonlike gedagtes en begeertes, ervaar jy die teenwoordigheid van God.
Daar is ’n tyd vir stilwees, herinner die Prediker (3: 7) ons. Om hierdie stilwees in stilte (om jou) te beoefen, maak jou dadelik bewus van God-met-jou. Soos in die stal waar Jesus gebore is, ’n heerlike teenwoordigheid wat op sigself die stilte vul met sy teenwoordigheid. Die Heiland is gebore!
Wanneer jy vandag in stilte stilwees beoefen, raak bewus van die geraas in jou gedagtes wat die stilte wil vul. Veg teen die ongemak en herhaal jou paadjie van bewuswording: stilwees, afsondering,verbondenheid, dienaarskap, in stilte.
Dr Pierre Jacobs (jr), Gaborone