Psalm 51: 10-12
Dit is dalk maklik om vas te haak op gedrag wanneer dit kom by geloof. Die antwoord op die vraag: Hoe lyk ’n gelowige, is selde iemand in verhouding met God. ’n Gelowige wil ons baie keer ken aan iemand wat reg optree, liefde wys en so meer. Hierdie is nie verkeerd nie. ’n Goeie boom word egter geken aan sy vrug maar dit is nie die vrug wat die boom maak nie.
Dink vir ’n oomblik hieraan: Die beginsel agter die vrug van die Gees is juis dat vrugte nie gemaak word nie maar die produk is van ’n gesonde boom. As ons nie van bome verwag om vrug te dra as die boom nie versorg is nie, waarom verwag ons dit van onsself en van ander? As optrede die fokus word van ’n gelowige se lewe gaan ons altyd bietjie harder probeer om lief te hê, bietjie harder probeer om om te gee, bietjie harder probeer om genadig te wees.
In hierdie psalm het Dawid berou oor ’n groot fout wat hy begaan het. Sy gebed is nie vir hom om ’n meer morele mens te wees of dat dit hom sal help om volgende keer beter besluite te neem nie. Dawid se gebed is dat God in hom ’n rein hart sal skep. Ons optrede is ’n resultaat van wat in ons harte aangaan, hetsy goed of sleg. Ons optrede is die uitvloei van ’n veel dieper saak.
In Lydenstyd word ons uitgenooi na die woestynareas van ons lewe en geloof. Dit word die tyd waar ons op ’n nuwe en vars manier God se teenwoordigheid leer ken en voorsiening beleef. Hierdie bied die gulde geleentheid om in hierdie woestynareas ook Dawid se gebed te bid: Skep in my ’n nuwe hart Here. Die uitvloei van ’n hart wat gerig is op God is ’n optrede wat getuig van ’n lewe toegewyd aan God.
Ds Thomas Dreyer, Malelane