Efesiërs 4: 30; 5: 2

Die volgende bede van die Onse Vader wat ons gaan behandel is die gebede: En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergewe wat teenoor ons skuldig staan (Matt 6: 12, AFR2020). Ons het gesê dat as ons dink aan gebed ons moet dink aan ’n selfoon. ’n Selfoon moet ingeprop en gelaai word om te kan werk. So ook moet ons as mense gelaai word om die werk wat ons hier op aarde moet doen te kan verrig. Ons word gelaai deur gebed.

In hierdie bede vra ons dat die Here ons eie sondes sal vergewe, maar die vergifnis wat ons medemens verskuldig is word as vanselfsprekend aanvaar. Tog weet ons dat dit nie so vanselfsprekend is nie. Vergifnis is een van die moeilikste opdragte wat die Here Jesus ons oplê.

Die sleutel tot vergifnis vind ons in Efesërs 5: 2: Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ’n offergawe gegee. Die besef dat Christus uit liefde vir ons sondes gesterf het, motiveer ons om ander ook te vergewe. Ons besef dat ons nie vergifnis werd is nie, maar dit nogtans uit genade ontvang het. Dit motiveer ons om die persoon wat voor ons staan, ’n sondaar net soos ons, met daardie selfde genade en vergifnis te hanteer.

Maar vergifnis is vreesaanjaend. Wat as die persoons ons weer teleurstel of seermaak? Gelukkig het ons die versekering dat ons ’n Vader in die Hemel het wat vir sy kinders wil sorg, wat ons sal beskerm en sal dra wanneer ons hierdie groot geloofsprong maak.

Wanneer ons dus bid: En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergewe wat teenoor ons skuldig staan, bid ons eerder: Here herlaai my batterye, maak my geloof sterk om ander te kan sien soos wat U my sien. Om ander te sien as ’n sondaarmens wat vergifnis werd is. Amen.

Ds Willem Dreyer, Groot Marico