Handelinge 6: 1-8

Die voorstel het by al die gelowiges byval gevind, en hulle het Stefanus gekies, ’n man met ’n vaste geloof en vol van die Heilige Gees… (Hand 6: 5).

Ons staan ’n bietjie stil by die besonderse ampte wat die Here vir sy kerk gee, naamlik diaken, ouderling en predikant. Partykeer bestaan daar ’n persepsie dat die diaken-amp nie so belangrik is nie, dat hulle net vir geld vra. Tog kan dit nie verder van die waarheid af wees nie en moet ons nooit een amp belangriker ag as ’n ander nie.

In Handelinge 6 lees ons van die verkiesing van die eerste diakens in die vroeë kerk. Die onderlinge liefdesdiens het skade gelei en die apostels kon nie die verkondiging van die woord verwaarloos om aan die versorging aandag te gee nie. Persone met ’n vaste geloof en vol van die Heilige gees is toe gekies om te help met die belangrike taak van versorging en liefdesdiens in die gemeente.

’n Gemeente moenie net die waarheid van die evangelie verkondig nie, maar ook by die waarheid in liefde bly en onderling Christus se liefde sigbaar uitleef. Daarom is die oproep van diakens wat vol van die Heilige Gees is en ’n vaste geloof het, baie belangrik. So sal hulle werklik kan dien en veral die fokus van dienaars in die gemeente uitleef. Om hierdie liefde uit te leef, is natuurlik nie net die taak van diakens nie, maar van elkeen wat deel is van die liggaam van Christus. Diakens kan ook help om ander toe te rus vir hierdie opdrag.

Daarom is ons nie ’n kerk waar lidmate net ’n nommer is nie. Ons is ’n kerk waar ons mekaar ken en mekaar se laste dra, want hoe kan jy mense liefhê as jy hulle nie ken nie? Hoe kan jy mense help as jy nie hul nood ken nie? Laat ons met vrymoedigheid mekaar liefhê en ons diakens se hande sterk maak. Mag ons groei in ons liefde vir die Here ons God! Mag ons bid vir ons diakens. Amen.

Ds Henk Labuschagne, Silverton