Lukas 24: 13-35

Ek het onlangs die fout gemaak om ’n uitnodiging van my dogtertjie heeltemal verkeerd te interpreteer. Sy vra my om saam met haar sandkastele te bou, en ek gaan sit toe by haar en kyk wat sy doen. Maar dit is nie wat sy gevra het nie. Toe begin ek bou, en ek raak bietjie in vervoering, en bou ’n groot kasteel, maar sy was steeds ongelukkig want sy het gevra: bou SAAM met my. Hierdie insident het my bietjie laat dink aan die Emmausgangers.

Die Emmausgangers was op pad terug uit Jerusalem uit, ongelukkig omdat Jesus nie voldoen het aan hul verwagtinge nie. Toe Jesus met hulle praat, het Hy aan hulle mooi verduidelik hoekom Hy juis wél aan die verwagtinge voldoen het. Dit was amper of Jesus aan hulle verduidelik dat die mens geroep en genooi was om saam met Hom te bou, maar hulle het bly verwag dat Jesus saam met hulle sou bou. Ons sien dan hoe hulle ’n baie spesiale ervaring saam met Jesus gehad het waar hul oë toe oopgegaan het en hulle tot ’n besonderse besef gekom het. Omrede hulle Jesus ingenooi het om ook gasheer by hulle te wees, kon hulle ervaar watter effek dit het om by wyse van spreke dan saam met Jesus te bou. Hul harte het warm geword, en in Sy teenwoordigheid begin verander. Jesus se opstanding en teenwoordigheid in hul lewe het ’n warmte gebring wat hulle toe dryf om onmiddellik op te staan en terug te gaan na die dissipels toe. Waar hulle aanvanklik gehoop het dat Jesus saam met hulle sou bou, het hulle teleurgesteld teruggestap, maar toe hulle saam met Jesus bou, het hul harte warm geword en verander.

Ons word deur die opstanding geroep om saam met Jesus te bou en in Johannes 13 leer ons dat ons dit kan doen deur mekaar lief te hê. Miskien as ons leer en streef om saam met Jesus aan Sy koninkryk te bou, en nie wag dat Hy op ons manier ons kasteel moet bou nie, mag ons dalk ook ’n warmte begin beleef wat ons laat opspring.

Ds Schalk Zastron, Ermelo / Ermelo-Suid