Johannes 20: 1-10

Die grootste van alle voorbeelde van nuwe lewe in die ganse Skrif, is natuurlik die beskrywings van die opstanding van Jesus Christus, ons Here! In die Johannes-weergawe is daar ’n interessante en veelseggende verwysing dat met Simon Petrus se binnegaan van Jesus se leë graf, hy die doek wat om Jesus se kop gedraai was, eenkant afsonderlik gevind het, netjies opgerol.

In daardie tyd het die diensknegte wat hul heer aan tafel bedien het, hom altyd van ’n doek voorsien sodat hy sy hande daarmee kon afvee wanneer hy klaar geëet het. Hy sou dan sy hande afvee en die doek gefrommel op die tafel Iaat as hy klaar is. As die heer se ete egter onderbreek word en hy van die tafel opstaan en later sou terugkeer om sy ete te voltooi, sou hy die doek netjies opvou en eenkant neersit as aanduiding daarvan dat hy gaan terugkeer.

Simon Petrus sou die betekenis van die opgerolde doek dadelik verstaan het: ’n belofte van sy Meester dat Hy weer sal terugkeer. En daarin kon hy glo, soos in al Jesus se wonderlike beloftes, dat Hy hulle nie alleen sal Iaat nie, maar die Trooster sal stuur om by hulle te wees; dat Hy gaan om ’n plek voor te berei en dan sal kom om hulle te haal; en ook dat Hy by hulle sal wees tot die voleinding van die wêreld.

Die grond van ons lewens wat elke dag weer nuut kan wees, is die opstanding van ons Here. Dit gee aan ons nie net die ewige lewe nie, maar bring ook hier en nou vernuwing. Ook ons lewens staan in die teken van Christus se grootste belofte, die belofte van die opgerolde doek – dat Hy weer sal kom. Dit gee ons die krag om in die Here ons lewenspad met vreugde te loop.

Gebed

Here, dankie dat U wat die Opgestane Heer is, weer gaan kom en dat ek elke dag uit die hoop wat daardie belofte van U bring, kan leef. Amen.

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort