Rut 1: 16; Johannes 14: 21-25

Hoe ouer ek word, hoe meer waardeer ek die geskenk van ’n persoon se teenwoordigheid eerder as ’n tasbare geskenk. Telkens as ek ouer lidmate besoek, hoor ek hulle sê: Al wat ek wil hê, is dat jy soveel moontlik vir my moet kom kuier. Ek het niks nodig nie, behalwe jou teenwoordigheid. Om ’n meeloper te wees in ’n ander se lewe, is die geskenk wat ons almal in staat is om aan ander te gee, saam met die metgeselgeskenk van luister na ’n ander.

Rut, ’n jong vrou, het so ’n meeloper geword vir ’n veel ouer vrou, Naomi. Rut het Naomi belowe dat sy haar meeloper gaan word. So het sy vir Naomi die beste geskenk ooit gegee. Sy het haarself gegee. Hoekom sou sy dit doen? Ek dink dit was haar liefde vir Naomi wat haar gemotiveer het.

Wat behoort my te motiveer om teenwoordig te wees in ’n persoon se lewe? Ek glo dit is net soos in Rut se geval: liefde. Die liefde wat so mooi verwoord word in Rut se uitspraak: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God (Rut 1: 16, AFR53).

Dit is presies wat God se Gees kom doen het. In en deur Hom het ek ’n ewige meeloper gekry, ’n meeloper wat my voortdurend oortuig van God se teenwoordigheid in en by my. ’n Meeloper wat ’n metgesel word, iemand wat luister. ’n Meeloper wat my voortdurend herinner aan alles wat Jesus gedoen het, en my veral daaraan herinner dat God my God is, en waar ek gaan, gaan Hy, en waar ek vertoef, vertoef Hy, en waar ek sal sterwe, sal Hy met my meeloop tot waar tyd en ewigheid een word.

Gebed

Here, dankie dat U my liefdevolle meeloper is. Amen.

Ds Mariët Robbertze, Kempten