Hebreërs 10: 11-14
’n Maratonwedloop is ’n lang wedloop en ’n mens kan langs die pad moeg raak en uitsak. Tyd kan ’n groot bedreiging vir ’n mens se geloof raak. Dae word maande en maande word jare en jare word dekades en voor jou oë gebeur niks. Mense wat boonop onder druk verkeer, raak moeg en moedeloos. En vra: Is die geloof, die swaarkry, die gesukkel en die opofferings die moeite werd?
In teenstelling met die priesters wat dag vir dag hul diens staan en verrig, word hier in die teks nou beklemtoon dat Christus, nadat Hy één offer vir die sondes gebring het, vir altyd aan die regterhand van God gaan sit het. Hy staan nie soos die aardse priester nie, Hy sit op die ereplek by God. Dit beteken enersyds dat Hy sy offerdiens voltooi het en dat sy offer deur God aanvaar is, en andersyds dat Hy nou ’n posisie van koninklike hoogheid en heerskappy beklee en wag op die volslae onderwerping van sy vyande aan Hom.
Teenoor die nutteloosheid en kragteloosheid van die ou bedeling, leer die skrywer nou die evangelie in ’n neutedop: Deur die één offer het Jesus dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak. Nou is die vraag: Wat hou dit in vir elke volgeling van Christus en watter eise stel dit aan ons?
Wanneer ons wil moeg raak en uitsak in die geloof, moet ons onthou: Christus self is ons sekuriteit deur die nuwe verbond wat ons uitnooi om met vrymoedigheid na God se genadetroon te gaan, sodat ons barmhartigheid en genade kan ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Heb 4:16).
Gebed
Here, leer my hoe om te lewe – wanneer kommer my oorweldig, wanneer ek baie foute maak, wanneer die wêreld nie sin maak nie, wanneer ontstellende nuus versprei word, wanneer siekte en dood ons bedreig, wanneer alles dol raak, wanneer vriende my teleurstel, wanneer vreugde dreig om te verflou. Here, leer my hoe om te lewe! Amen.
Dr Johan Bester, Randfontein Midpark / SGB