Handelinge 2: 37-47; 1 Timoteus 2: 1-7

Die laaste saak wat in ons teks genoem word, is die saak van gebed. Gebed was iets waarsonder hulle nie kon klaarkom nie – iets wat ons vandag baie maal erg verwaarloos en/of misbruik. Reg aan die begin van 1 Timoteus 2 sê Paulus dat daar vir alle mense gebid moet word. Daar kan van eksklusiwiteit in die kerk geen sprake wees nie. Die oomblik wanneer Christene net vir sekere mense bid, verraai hulle hul Christenskap.

Die groot opskrif waaronder gebed staan, is die saak van vier. Die HAT verduidelik onder die woord vier onder andere dat dit beteken om aan iemand eer te bewys en dit is presies wat ons doen met iets soos gebed. As ons gebed nie verwaarloos nie, as ons ons heelhartig toelê op gebed, dan beteken dit dat ons God deel wil maak van ons lewe. Ons erken Hom as die Een na wie toe ons gaan met al ons probleme en ons vreugdes. Ons weet almal hoe dit voel as iemand ons ignoreer. Mense sê dikwels: Daardie of daardie persoon ignoreer my, vermy my. Weet u wat sê hulle dan eintlik? Daardie of daardie persoon erken nie my bestaan nie – hy dink so min van my dat hy my heeltemal ignoreer.

Terloops, in teologie noem ons hierdie aksie van vier: leitourgia. U kan sien dat ons woord liturgie – dit wat onder andere in die erediens gebeur – hiervan afgelei is. Hoe vier ons nog ons geloof? Hoe vier ons nog God se genade? Deur Hom te eer, sy lof te besing, sy Naam te bely. Dit doen ons onder andere deur in die erediens hartlik saam te sing wanneer dit ter sprake kom; deur só te lewe dat mense kan sien dat Jesus Here is, dat God almagtig en die enigste ware God is.

Ds Hannelie Botha, Beroepafwagtend