Psalm 19: 1-15

Hierdie psalm is nog ’n pragtige poëtiese natuurpsalm. Dit verteenwoordig ’n interpretasie van die skepping. Daar is drie duidelike onderdele en dit is juis in die samehang tussen die dele waar ons die treffende boodskap van die psalm vind.

In verse 2 tot 7 skets die digter vir ons ’n makrobeeld. Hy vertel vir ons wat die ganse uitspansel oor die majesteit van God verkondig. Om sy uitsprake verstaanbaar te maak, stel hy daarna die hemel, dag en nag as mense voor. Hy sê hulle praat woordeloos, tog verkondig hul onhoorbare stemme tot aan die uithoeke van die aarde ’n boodskap oor die mag en majesteit van God.

In die tweede deel, verse 8 tot 12 stel die digter hoe die wet die wil van God openbaar. Die digter konsentreer slegs op ’n deel van die makrobeeld. Hy leer vir ons twee waarhede oor die wil van God. Die eerste: God openbaar sy wil in sy wet. Die tweede: God beloon gelowiges wat sy wet getrou onderhou met lewe, wysheid, blydskap en insig.

In die laaste deel in verse 13 tot 15 bring die digter die vorige dele bymekaar deur te stel dat hierdie kennis van wat die natuur en die wet oor God openbaar, die gelowige in sy verhouding met God wil versterk. In hierdie laaste deel fokus die digter op die kleinste deel van die makrobeeld. Dit gaan oor die enkeling se kennis en sy verhouding met God.

Psalm 19 leer ons om bekende dinge op ’n nuwe manier te sien. Dit sê: Sien die natuur vir wat dit is, ’n sigbare verkondiging van God se majesteit. Verder, verstaan God se wet as waarborg dat ons aan God behoort en dat Hy ons nie wil laat verlore gaan nie en derdens, voed jou geloof op albei hierdie verkondigings.

Gebed

Here, uit u skepping leer ek u majesteit sien; uit u wet die troos dat ek aan U behoort en dat U my redding bewerk. Albei versterk my geloof in U.  

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort