Die dood is die grootste vyand van die mens. Van Adam tot nou vul dit ’n mens met vrees. Dit veroorsaak onsekerheid, trane, pyn, verlange. Dit raak elkeen van ons.
Ons skram weg daarvan. Veral van ons eie dood. Predikante preek nie baie daaroor nie. Dit is asof hulle self nie weet nie, of selfs te bang is om dit te doen.
Ek dink die meeste van ons het al baie met die dood te doen gehad: My vrou is dood; my man is dood; my kind is dood; my ma, my pa, my broer, my suster, ’n goeie vriend, ’n kollega. Feitlik elke dag hoor en sien ons die dood. Miskien worstel jy nou daarmee. Ons weet wat dit beteken om ’n geliefde af te staan aan die dood.
Dit is erg om ’n geliefde af te staan aan die dood. Nog baie erger as dit gebeur op ’n onnatuurlike manier. Seker van die ergste as dit meer as een geliefde kort na mekaar is. Dit is erg as jou ouers sterf, maar nog erger as ’n ouer moet staan voor die geopende graf van sy of haar kind. Dink net hoe erg dit vir Job moes wees om te hoor al tien sy kinders is in ’n storm dood. As ons hoor van onnatuurlike sterftes, dink ons dikwels aan die woorde van die digter Totius nadat sy kind deur ’n weerligstraal gedood is:
o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ’n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
O Die bliksemgedagte! … Ja, lieflingskind,
één straal het jou skone liggaam verskroei,
maar bliksemstrale sonder tal
laat my binneste brand en bloei.
In 2 Samuel 12 lees ons Dawid se kind by Batseba is sterwend. Die magtige koning is magteloos. Wat doen hy? Hy gaan na die heiligdom. Hy gaan na die enigste Een wat werklik kan help. Hy doen die belangrikste wat ’n mens in die poorte van die doderyk kan doen. Hy is op sy knieë.
Die sewende dag sterf die kind. Wat doen Dawid nou?
Lees 2 Samuel 12: 21-25. Dawid glo steeds God is sy enigste toevlug. Hy gaan weer na die huis van die Here. Na God. Daarna staan hy op en gaan aan met sy lewe.
Die dominee het amen gesê na die begrafnis van my geliefde. Almal wat die begrafnis bygewoon het, is weg. Ek bly alleen agter met my hartseer, my pyn, my eensaamheid. My oë is droog gehuil. Ek kan nie meer huil of dink of lag nie. My geliefde is nie meer daar nie. Sy of haar plek is vir altyd leeg. Sy of haar stem is vir altyd stil.
Wat nou? Doen wat Dawid gedoen het. Gaan na God. Na Jesus Christus. Hy is jou enigste troos in lewe en in sterwe. Hy sal met sy Gees jou troos, die leë plek vul. Hy sal vir jou die sekerheid gee dat Hy ook jou geliefde wat gesterf het, se sonde vergewe het en aan hom of haar die ewige lewe gegee het. Hy sal vir jou krag gee om weer aan te kan gaan in die lewe.
Ruwe storme breek in woede,
alles om my heen is nag.
Tog hou God my in sy hoede –
Hy hou oor my heil die wag.
Kan ek soms sy hulp nie sien nie,
of sy liefde ooit verdien nie,
sal sy Gees my altyd lei –
Hy staan my in alles by.
Daarna, steeds met jou hand in sy hand, jou oog op Hom, jou hart by Hom, gaan aan om te lewe. Jy het steeds ’n lewe om te leef. Mense rondom jou wat jou nodig het. Die Here wat jou in sy diens wil gebruik.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)