Op 1 Junie 2025 het Gemeente Swartkop saam met ds Dries Beukes sy 50-jarige ampsjubileum gevier.

Tydens hierdie 50-jarige viering gebruik ds Beukes Jeremia 18: 1-10, die verhaal van die pottebakker, om te probeer aantoon dat die pottebakker nie gefrustreerd raak met die klei en dit weggooi nie. Hy gebruik dit eerder weer en begin met ’n nuwe vormingsproses. Op dieselfde manier werk God met ons en verseker ons: Julle is soos klei in my hande. Wat ’n kragtige metafoor vir hoe God konstant besig is om gelowiges te vorm! Dit verwys ook na die vormingsproses wat ds Beukes oor hierdie 50 jaar in die amp ondergaan het.

Hierdie viering het die terugflits na ds Beukes se ordening ingesluit wat op 22 Desember 1974 by Gemeente Salisbury (Harare) plaasgevind het. Maar die uniekheid van dié intreepreek sal eers latere jare opvallend word wanneer ds Beukes weer die orrelis mev Joy Eckart by Gemeente Elandspoort raakloop. Mev Eckart het ds Beukes se intreepreek met die hand tydens die erediens neergeskryf. Sy het vertel dat jare later toe hul huis op die plaas afgebrand het daar slegs twee kartondose oorgebly het. Een van dié dose het die geskrewe preek bevat. Die dokument is geraam en aan ds Beukes oorhandig en dien nou nog as ’n besonderse herinnering van die vertrekpunt van sy loopbaan.

Na afloop van die erediens het ds Beukes groeteboodskappe vanaf mev Petro van Niekerk namens die AKV, dr Christo van der Merwe namens vriende en kollegas, mnr Johan van Loggerenberg names Gemeente Swartkop ontvang. Ds Adriaan Roets het ’n geskenk namens die mannebediening van die gemeente oorhandig.

Die volledige erediens en groeteboodskappe kan hier gevind word.

Ds David Barnard, Ds Adriaan Roets, Dr Christo van der Merwe, Dr Hein Delport, Ds Dries Beukes, Ds Elmien Shaw, Dr Frans Boshoff, Dr Gerhard Lindeque.