Lidmate, kollegas, familie en vriende het die voorreg gehad om op Sondag 26 Julie saam met ds Geo en mev Elize Smit sy emeritaatsaanvaarding te vier. Ds Geo is in 1986 georden en voltooi sy diensplig in Gemeente Potchefstroom-Suid van 1986 tot 1987 waarna hy in 1988 na Gemeente Losberg in Fochville beroep is. In 1991 word hy weer na Gemeente Potchefstroom-Suid beroep.
Ds Smit het op verskeie komitees van die Kerk gedien en was ook by Bybelverspreiding betrokke. In 2018 het hy saam met die gemeenskap die Bybel met die hand oorgeskryf en 450 vriende was by hierdie projek betrokke. Dit het gemeentelede en lidmate van ander gemeentes asook gemeenskapslede en lidmate van ander kerke ingesluit. Hierdie oorspronklike geskrewe kopie is in vier bundels gebind en word tans in die Lutherhaus in Wittenberg, Duitsland, uitgestal. Die beplanning is dat hierdie Bybel in 2028 na die Bybelmuseum in Washington verskuif sal word.
Die Kerk kyk met dank en waardering saam met die Smit-gesin terug na meer as 40 jaar se toewyding aan die Kerk en wens hul net die beste toe vir die nuwe fase van hul lewe.
Na aanvang van sy emeritaat sal ds Smit steeds diens doen in Gemeente Potchefstroom-Suid, maar wel in ’n deeltydse hoedanigheid. Gemeente Potchefstroom-Suid is dankbaar om die Smit-gesin steeds as deel van hul familie te behou.
(Susan Visser is lidmaat en ouderling van Gemeente Potchefstroom-Suid en ouderlingslid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering)
Foto: Ds en mev Smit saam met hul kinders, hul dogter, Jana de Wet (links agter) en haar man Nico en hul kinders, Nicola, Jacques en Luan. Regs agter staan hul seun Petri en sy vrou, Sophie, met hul twee kinders, Claire en Caleb.