Ons is vandag ook hier om erkenning te gee aan ’n merkwaardige persoon, Johannes Hendrik Koekemoer, wat op ’n paar dae na, vandag presies vyf en sestig jaar gelede tot predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) in die gemeente Turffontein georden is (23 Januarie 1960). Sy lewe en werk het ’n diepgaande invloed gehad op die Kerk en op die teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria (UP).
Laat ons ’n paar oomblikke neem om sy merkwaardige bydrae te herdenk.[i]
Begin- en vormingsjare
Johan Koekemoer is op 27 Augustus 1935 in Losberg, Potchefstroom, gebore as die oudste van drie kinders en die enigste seun. Hy het grootgeword in ’n Hervormde gesin en het sy skoolopleiding aan die Hoër Volkskool te Potchefstroom voltooi. Daarna het hy sy studies aan die Universiteit van Pretoria voortgesit, waar hy in 1956 sy BA-graad en in 1959 sy BD-graad behaal het. Sy verbintenis met die NHKA was diep gewortel, alhoewel sy familie aan moederskant meestal tot die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika behoort het. Hierdie agtergrond het hom ’n unieke vorming gebied op verskillende strominge binne die Protestantse tradisie van Suid-Afrika.
Predikant en pastor
Soos hierbo gemeld, het hy sy bediening in 1960 begin as predikant in die Gemeente Turffontein. Gedurende sy loopbaan het hy verskeie gemeentes bedien, waaronder Bethal (1963-1965), Zuurfontein (1965-1972), en Pretoria-Suid (1972-1978). Ná 1978 het hy voortgegaan om as pastorale hulp in gemeentes te werk, te wete Boksburg, Philadelphia en Villieria. Hy het ook gedurende sy bedieningstyd in verskeie ringskommissies gedien en was betrokke by bestuursrade van verskeie skole.
Sy pastorale werk het hom in staat gestel om die NHKA op gemeentevlak goed te leer ken – van die platteland tot die stad. Hy het ’n diepgaande begrip ontwikkel van die uitdagings en geleenthede wat gemeentes in verskillende kontekste in die gesig staar.
In 1978 is die Kerklike Instituut vir Toerusting van Ampsdraers en Lidmate (Kital) gestig en Johan Koekemoer is as die eerste direkteur aangestel. Hy het Kital tot ’n belangrike instelling vir die NHKA ontwikkel, met ’n fokus op die toerusting van ampsdraers en die publikasie van Christelike literatuur. Onder sy leiding het Kital ’n wye spektrum van toerustingskursusse ontwikkel en aangebied, wat die kerk se kapasiteit om sy leiers en lidmate te ondersteun, versterk het.
Johan Koekemoer het ’n belangrike rol gespeel in die ekumeniese bewegings van sy dag. Hy het verskeie internasionale konferensies namens die NHKA bygewoon, insluitend die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode. Sy betrokkenheid by hierdie konferensies het hom in staat gestel om eerstehandse kennis van die internasionale ekumeniese toneel te ontwikkel en die Hervormde Kerk se verhoudings met ander kerke ook krities te ontleed. Hy het ’n diepgaande begrip gehad van die belangrikheid van ekumeniese dialoog en samewerking, en het onvermoeid gewerk om hierdie verhoudings te bevorder.
Ondergetekende kan dit vandag op rekord plaas dat Johan Koekemoer verantwoordelik was vir finale formulering van die destydse Ordereël 4 van die NHKA se Kerkorde in 1997 wat die ou Artikel 3 vervang het en bepaal het dat die NHKA uitsluitlik kerk vir die Afrikaner wil wees. Na hewige debatte in die Algemene Kerkvergadering is sy amendement by die volkskerk-klousule aanvaar dat die NHKA die evangelie van Jesus Christus aan die Afrikanervolk wil verkondig, “en tegelykertyd aan alle mense”. Weliswaar is dit grammatikaal lomp en intrinsiek onlogies geformuleer, maar was wel ’n belangrike kompromis wat die NHKA daarvan gered het om volstrek ’n na-binne of introverte gerigte kerk te wees.[ii]
Teoloog en akademikus
In 1972 het Johan Koekemoer sy doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria behaal met ’n proefskrif, getiteld: “Die Christologie van die Nuwe Teologie – ’n interpretasieprobleem”. Sy siening oor die Christologie beklemtoon die werklikheid en betekenis van die heilsfeite soos dit in die Bybel beskryf word in terme van die geboorte, lewe, sterwe, en opstanding van Jesus Christus. Hy verwerp die idee dat hierdie gebeure bloot mitologies of simbolies is, en beklemtoon dat dit werklik plaasgevind het en van wesenlike belang is vir die geloof.
Johan Koekemoer kritiseer die Nuwe Teologie vir sy neiging om die onkenbaarheid van God te erken en daarmee saam, God se betrokkenheid in die geskiedenis te misken. Hy beklemtoon nietemin dat God soewerein is en nie beperk kan word tot die geskiedenis nie, en dat die Heilige Gees onmisbaar is vir die regte verstaan van die Bybelse boodskap.
Johan Koekemoer het gevolglik die Belydenisskrifte baie ernstig opgeneem.[iii] Hy het geglo dat hierdie geskrifte nie net klassieke dokumente is nie, maar belangrike getuienisse van die geloof van mense wat voor ons gekom het. Hy het geoordeel dat ons die Belydenisskrifte in die eerste plek moet verstaan binne die tyd en kultuur waarin hulle geskryf is, maar nietemin steeds vandag vir ons betekenis inhou. Hy waarsku daarom teen die idee om die Belydenisskrifte soos voorskrifte te gebruik wat streng nagevolg moet word. In plaas daarvan, het hy voorgestel dat ons hulle moet interpreteer op ’n manier wat getrou bly aan hul oorspronklike bedoeling, maar tog ook relevant is vir ons huidige situasie. Hierdie benadering help om die Belydenisskrifte lewendig en toepaslik te hou vir die kerk vandag. Hierdie oorklanking moet nie by die tydsgees aangepas word nie, maar moet in taal en begrippe van die tyd, tydgenote tot bevryding en bekering roep.
Volgens Johan Koekemoer moet teologiese uitsprake gebaseer wees op ’n luister na die Woord van God en ’n antwoord in geloof, eerder as om die Bybel aan te pas by moderne, gesekulariseerde denke. Hy waarsku dat die verwaarlosing van die Heilige Gees lei tot ’n oppervlakkige verstaan van die geloof wat nie die diep geestelike werklikhede van die Christelike boodskap erken nie. Gevolglik het hy, ten spyte van sy kritiek, Bonhoeffer se beklemtoning van die eksistensiële aspek van geloof oorgeneem, wat beteken dat geloof ’n lewe van navolging van Jesus en diens aan ander mense impliseer.[iv]
Derhalwe het hy geoordeel dat teologie nie net akademies van aard moet wees nie, maar ook ’n diep geestelike dimensie moet hê wat die hele persoon van die predikant vorm.
Dekaan en bestuurder
In 1989 is Johan Koekemoer aangestel as professor en hoof van die Departement Dogmatiek en Christelike Etiek aan UP en in 1992 word hy tot dekaan van die destydse Fakulteit Teologie (Afd. A) bevorder. As dekaan het Johan Koekemoer ’n leidende rol gespeel in die herstrukturering van die teologiese opleiding van Hervormde studente. Hy het ’n leidende rol gespeel in die proses om die destydse Fakulteit se kurrikulum te hersien en aan te pas by die veranderende behoeftes van die Kerk en die akademiese gemeenskap. Vermeldenswaardig is die leidende rol wat hy gespeel het in die proses van die samesmelting van die Afdelings A en B van die Fakulteit Teologie op 01 Januarie 2000 tot ’n sogenaamde veelkerklike fakulteit. Die afsluiting van twee afsonderlike afdelings van die Fakulteit het ook toevallig saamgeval met sy aftrede, wat die einde van ’n era finaal verseël het.
Vermeldenswaardig is dat hy het ook gehelp om die Fakulteit deur ’n tydperk van finansiële rasionalisasie te lei, wat die vermindering van doserende personeel tot gevolg gehad het. Sy leierskap en pastorale bewoënheid het gehelp om die betrokkenes deur hierdie moeilike tye te lei.
Johan Koekemoer het geglo dat teologiese opleiding nie net akademies moet wees nie, maar ook ’n diep geestelike dimensie moet hê. Hy het gepleit vir ’n sterker fokus op spiritualiteit en die vorming van studente, en het gewaarsku teen die gevare van ’n oormaat administrasie wat die geestelike groei van dosente en studente kan belemmer.
Sy visie vir teologiese opleiding het ’n blywende impak gehad op die HTK en die Fakulteit. Sy nalatenskap is vandag steeds in die aard van die huidige Fakulteit Teologie en Religie te bespeur in terme van ’n kerkeie-opleiding, naas die van die formele kurrikulum.
Persoonlikheid en karakter
Johan Koekemoer is bekend vir sy stabiele karakter, goeie menseverhoudings, en sy vermoë om vertroue in te boesem. Hy het respek afgedwing met sy realiteitsin en regverdigheid, en sy lojaliteit teenoor sowel die Hervormde Kerk as die Universiteit van Pretoria. Sy toewyding aan sy werk en sy vermoë om moeilike situasies te hanteer, het hom ’n gewaardeerde leier, kollega en mentor gemaak.
Die volgende aanhaling uit een van sy artikels, is vir my so tiperend van wie en wat hy is:[v]
Ons sal moet leer dat kennis met verwondering begin en in verwondering eindig. Daarom begin geleerdheid dikwels by stilte en lei tot stilte. Teologie begin met swye en eindig met swye. Wie oor God wil praat moet na God se Woord kan luister, kan stil word en kan bid. Anders praat jy in jou poging om iets oor God te sê later net oor jouself en luister jy gevolglik net na jouself.
Johannes Hendrik Koekemoer se lewe en werk het ’n blywende nalatenskap gelaat. Sy toewyding aan die kerk, sy akademiese prestasies, en sy leierskap het sowel die Hervormde Kerk as die Universiteit van Pretoria verryk.
Hierdie huldeblyk sal onvolledig wees as daar nie ook spesiale verwysing na sy oorlede vrou, Issie (née Symington) gemaak word nie met wie hy in 1961 getroud is en wat hom in 2021 ontval het. Diegene van ons wat met Johan Koekemoer ook op sosiale media kontak het, sal weet dat sy profielfoto op WhatsApp steeds dié van hom en Issie saam is. Drie seuns is uit hierdie huwelik gebore en hy spog met sewe kleinkinders.
Ons eer hom vandag as ’n waardige voorganger!
Johan Buitendag
NHKA Wapadrand
26 Januarie 2025
[i] Vir ’n volledige en uitstekende uiteensetting van die lewe en werk van Johan Koekemoer, kyk Van der Merwe, P. (2000). Prof dr J H Koekemoer as kerkman en akademikus. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 56(2/3), 335-351. https://doi.org/10.4102/hts.v56i2/3.1731
[ii] Vir Johan Koekemoer se worsteling met hierdie eksklusiwiteit van die NHKA, kyk na die volgende twee artikels veral: Koekemoer, J. (1990). Die na-binne of introverte gerigtheid van ‘Kerk en wêreld 2000’. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 46(4), 708-715. https://doi.org/10.4102/hts.v46i4.2365 asook Koekemoer, J. (1987). Die volkskerkvoorstelling in die Kerkwet van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 43(1/2), 13-24. https://doi.org/10.4102/hts.v43i1/2.5723.
[iii] Koekemoer, J. (1997). Enkele motiewe vir ’n eietydse verstaan van die belydenisskrifte. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 53(4), 1321-1330. https://doi.org/10.4102/hts.v53i4.1795.
[iv] Koekemoer, J. (1988). Die vraag na ‘verstaan’ in die Christologie van D Bonhoeffer. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 44(2), 329-336. https://doi.org/10.4102/hts.v44i2.2209.
[v] Koekemoer, J. (1999). Die Heilige Gees en spiritualiteit in teologiese opleiding. HTS Teologiese Studies / Theological Studies, 55(2/3), 322-333. https://doi.org/10.4102/hts.v55i2/3.1584





