(Orde 5) 
Lofsang: Gesang. 152 en 157 
Ná wet: Gesang 231:1 en 2 
Ná belydenis: Gesang 599:1-3

Geliefdes van die Here Jesus Christus!

Wat is dit wat ek hier in my hand vashou? [Botteltjie naellakverwyderaar] 
Waarvoor word dit gebruik?

Dis reg: 
Vrouens gebruik dit meeste van die tyd om die naellak op hulle vingernaels mee af te haal sodat hulle weer ’n ander kleur kan opverf. 
’n Mens kan dit ook gebruik om enigiets wat baie vuil en taai is mee skoon te maak – dit haal selfs verf af!!!

Nou wat sal gebeur as vrouens nie hulle naels met hierdie naellak verwyderaar skoonmaak voordat hulle ’n volgende lagie naellak opsit nie?….. 
Korrek!…

Hulle naels sal so ’n boog staan van al die naelverf….. 
Die naellak sal afdop en krake maak…. 
Die vrouens se naels sal regtig nie mooi en versorg lyk nie….

Liewe kinders en ouers: 
Die Bybel leer vir ons in dié Skrifgedeelte dat ALLE MENSE geneig is om sonde te doen. En wanneer ons ons nie steur aan wat die Here vir ons wil leer nie, maak ons eintlik nes daardie vrouens wat altyd net nog naellak opverf sonder om die oues af te haal….

En weet julle wat gebeur dán met ons as mense?

Ons maak al hoe leliker en word sommer ook al hoe leliker….. 
Ons beweeg al hoe verder weg van wat die Here se bedoeling met ons as mense is – Die Here se bedoeling met ons as mense was en is nog steeds dieselfde: Hy gee om vir ons; Hy versorg ons en woon selfs in ons sodat ons kan leef en werk soos Jesus geleef en gewerk het toe Hy op aarde was!!!!

Die goeie nuus wat ons hier in die Bybel hoor, is dat die Here ons gehelp het en steeds wil help om te kan leef soos Hy bedoel het dat ons sal leef…. ons hoor hier dat die Here soos naellakverwyderaar werk: 
Die Here het self die ou, lelike sonde wat aan ons vasklou, afgehaal toe Hy aan die kruis op Golgota in ons plek as sondaar behandel is!

Maar die Here wil vandag nog steeds in ons lewens werksaam wees soos naellakverwyderaar:

Elke keer wat ons kerk toe gaan en ons Bybels lees en bid en voorberei vir ons kategeseklasse en tyd spandeer om oor die Here en Sy wil vir ons lewens te dink en te praat gebeur daar iets wonderliks…. 
Die Here berei ons ook voor vir die mooi dinge wat Hy wil hê ons sal doen.

Ek het gesê dat dit iets wonderliks is hierdie ding dat die Here ons voorberei – hoekom is dit iets wonderliks?

Kom ons luister net weer wat staan daar in verse 4-6 (lees voor) 
Uit hierdie paar verse sien ons en hoor ons dat die bestanddeel om sonde teen te werk en dié dinge te doen wat die Here wil hê ons sal doen, LIEFDE is, nie waar nie? 
Maar ons sien en hoor nog belangrike dinge – ons sien en hoor wat hierdie LIEFDE doen en kan doen: 
Daar staan dat dié LIEFDE waarmee die Here ons liefhet en HOM oor ons ONTFERM, iets met ons doen…… 
Dié LIEFDE (God self) vergewe ons en spreek ons vry….Dit is wat barmhartigheid doen en wat genade is! Die Liefde sal altyd eerder red as verwerp; eerder uitreik as wegstoot; eerder wil heelmaak en nuutmaak as verder afbreek en afskryf….. 
Dié Liefde bind ons ook aan Jesus. Ek dink die maklikste om dit te verduidelik is om net weer na die naellakverwyderaar te kyk. Hierdie naellakverwyderaar bestaan uit verskillende chemiese stowwe wat aan mekaar vashou…wat aan mekaar verbind is. Sodra hierdie verbinding plaasvind, ontstaan naellakverwyderaar. Voordat die verbinding plaasvind kan die verskillende chemiese stowwe nie doen wat naellakverwyderaar doen nie….daar moet eers ’n verbinding plaasvind!!! 
Geliefdes: dis die wonderlike ding wat LIEFDE doen!! Die liefde (GOD self) berei ons voor vir ’n verhouding met Jesus: 
Op Golgota sterf Jesus in ons as sondaars se plek omdat God (die LIEFDE) sonde haat en dit straf! 
Op Golgota is ons sonde vergewe én dáár op Golgota word aan alle sondaars ’n tweede kans gegee…..’n tweede kans vir ’n verhouding met Jesus sodat ons iets anders kan word as wat ons was vóórdat ons Jesus geken en in verhouding met HOM geleef het! 
Kom ons luister net weer na verse 3b, 8 en 10. [LEES VOOR]

Verse 8 en 10 sê baie duidelik dat die Here God hierdie verhouding met Jesus moontlik maak. Hy bewerk dit. Hy trek ons in hierdie verhouding met Jesus in…..

Hoe gebeur dit? 
Kom ons luister wat sê die apostel Paulus in Romeine 10:17 waar hy dit aan die lesers in Rome verduidelik. Daar staan (lees voor): 
Hier hoor ons dit baie mooi: Wanneer ons luister na die verkondiging van Jesus Christus as ons Here en Verlosser….dan wek en versterk die Heilige Gees in ons ’n verlange om aan Jesus vas te hou…..Hy maak dat ons onsself al hoe minder vertrou en al hoe meer op Jesus vertrou…. 
En hierdie verlange om aan Jesus vas te hou en op HOM alleen te vertrou, noem die Bybel, GELOOF!

Kyk nou mooi wat gebeur wanneer ons kerk toe gaan; kategese bywoon; ons Bybels lees en bid en met mekaar en ander mense oor die Here Jesus en Sy wonderlike LIEFDE praat: 
Die Liefde werk soos ’n magneet…ons wie se sonde vergewe is, word nadergetrek deur die LIEFDE en sodra ons bewus word van die LIEFDE en wat die LIEFDE alles vir ons gedoen het, ontstaan daar in ons ’n verlange om naby hierdie LIEFDE te leef. Dis wat geloof is…en hoe meer hierdie geloof versterk word hoe sterker word die verlange om naby Jesus en Sy Woord te wees en hoe sterker word die vertroue dat ons deur HOM tot alles in staat is…..maar daar gebeur dan ook nog méér: 
Ons begin dieselfde oor sonde te dink en te voel as Jesus…..ons is mos nou in ’n nuwe verhouding…in ’n nuwe verbinding….ons begin al hoe meer die eienskappe en kenmerke te vertoon van die EEN met wie ons in verhouding staan. 
Dit bly egter nie net by dieselfde dink en voel nie…..Nee, die Here roep ons nie na Hom toe en soek ons nie net op sodat ons lekker warm en snoesig by Hom kan sit en niks doen nie……Die LIEFDE – GOD self – is werkend teenwoordig in ons lewens en in die wêreld. Die LIEFDE trek altyd nader en skep verbintenisse met Jesus sodat die LIEFDE werksaam sal bly. Kom ek verduidelik wat dit beteken: 
Dit beteken net dat – 
wanneer ons GOD se liefde ontvang, ontvang ons dit heel eerste in die vorm van vergifnis. Dis die eerste geskenk wat die Here vir sondaarmense gee – maar dis ’n geskenk wat nie bedoel is om weg te bêre nie….dis ’n gawe/vermoë waarmee die Here wil hê dat elkeen wat in verhouding met HOM lewe, sal gebruik!!!! 
Net so bewerk die LIEFDE wat ons ontvang ook ’n klomp ander maniere van lewe as waaraan ons gewoond was voordat ons in verhouding met Jesus geleef het. Die LIEFDE wek en versterk byvoorbeeld gehoorsaamheid aan die Here; die wil om altyd SY WIL die meeste punte te laat tel; die vermoë om getrou te wees en te doen wat ons sê en belowe; om om te gee vir ons medemens omdat die LIEFDE altyd nood raaksien en diensbaar wil wees.

Wanneer ons ’n volgende keer aan gesprekke deelneem oor ons medemens, die kerk, kategese, huisbesoek en al die plekke waar die Woord van die Here verkondig word, moet ons onthou dat die Here se bedoeling met elkeen van ons is om soos naellakverwyderaar te wees!!!!! 
Dis hoekom ons vir onsself hierdie vraag gereeld moet afvra: 
Beplan, dink en praat ek soos iemand wat in ’n nuwe verbinding staan? 
Lê my lewe getuienis af van die feit dat ek deur die krag van Jesus lewe of het ek uitgeval uit die verbinding en weer geword wat ek was?

Volgende keer as ons weer ’n botteltjie naellakverwyderaar sien, onthou dan: 
Die Here werk deur sy Woord én Gees soos naellakverwyderaar…net Hy kan en wil ons skoonmaak en help om te lewe soos Jesus gelewe het

Amen 
Slotsang: Gesang 491: 1, 3, 5 
Seënbede 
Stilgebed

Share via
Copy link
Powered by Social Snap