Geen mens kan vir lang tye klaarkom sonder basiese hulpmiddels soos water, kos en behoorlike skuiling teen wind en weer nie. Karyn Hall skryf in Psychology Today (24 Maart 2014) dat om tuis te voel (a sense of belonging, soos sy dit stel), vir ’n mens net so belangrik is vir jou oorlewing.

Om sin in die lewe te ervaar en om moeilike emosionele tye te oorleef, vra steun en hulp uit jou kring of groep. Sommige mense vind hierdie steun in vriendskapsbande, ander vind dit by familielede, en nog ander kry hul steun op sosiale mediums. Vir party is dit voldoende om met een of twee individue sulke bande te hê, terwyl ander die behoefte het om op die een of ander manier met die wye wêreld verbind te wees. Daar is persone wat eers iewers kan tuis voel wanneer hulle mense wat nie soos hulle dink en voel nie, van hul intieme groepie kan uitsluit.

Hall skryf verder dat om êrens tuis te hoort jou innerlike motivering (dryfkrag) en jou gesondheid verbeter, en grootliks bydra tot jou algehele geluk. Om tuis te raak, vra egter dat sowel die een wat wil tuis voel as die een wat die tuiste help skep, moeite sal doen met die proses. Die eerste belangrike punt is om te soek na ooreenkomste en nie so erg te fokus op verskille nie. Aanvaar gewoon dat ons dikwels uniek dink en eie idees oor die lewe koester. ’n Ouer persoon kan byvoorbeeld tegnologiese kennis en vaardighede leer by ’n jonger persoon. ’n Jeugdige kan weer put uit die ouere se ryke skat van lewenservaring. Jou eie idee van glo en die uitleef van jou geloof is dus nie die enigste nie. Om te vas te val in argaïese strukture kan sommige se tuisraak belemmer, terwyl die summiere verwerping van kosbare tradisies en gebruike ander s’n kan verhoed. Wanneer ons mekaar se uniekheid misken en weier om dit te huisves, verarm ons ons lewens en dienswerk in die wêreld.

Een van die dinge waarin ek my telkens verkneukel in ons eie huishouding, is wanneer ons kinders, wat vir alle praktiese doeleindes almal reeds uit die huis is, tuiskom vir ’n naweek. Hulle loop keer op keer reguit na die yskas of koskas en soek na lekkernye. Hulle is tuis. Hulle hoort daar. Hulle is deel van die span of groep, en daarom leef daar ’n vrymoedigheid by hulle. Die jongmense van die Kerk se tuisvoel het ook baie daarmee te doen dat hulle op so ’n wyse gemaklik sal wees. Dis húl kerk, hulle ís volledig deel van die span. Wanneer ons hulle so sien en waardeer, raak bediening aan die jeug makliker.

Voorts moet kerklike aktiwiteite vir jongmense sin maak. Ek moes dikwels as kind hoor dat dit tradisie is, en dat dit die wyse is waarop ons sake aanpak, of dit sinvol was of nie. Die “dit” was selde oop vir bespreking of onderhandeling. Sodra die aksies waarmee die jeug besig is sin maak, kan ’n mens reken op hul betrokkenheid. Wanneer hulle van oordeel is dat dit waarop hulle hul kosbare tyd bestee ’n verskil maak aan ons gebroke wêreld, dan is hul hande, voete en harte die kerk s’n.

Geloof en kerklike betrokkenheid kan nooit net ’n kognitiewe saak wees nie. Ons ouer geslagte het grootgeword met ’n sogenaamde “kopgeloof”. Jy moes ken, weet en verstaan. Miskien mag ons soms maar voel ook. Wanneer verstand en hand ook die hart bereik, het ons veel meer bereik as om net feite te kan opsê of herhaal.

Ten diepste het almal begeertes. Ek vermoed elke gelowige, ook die jeug, het ’n begeerte om so tuis te voel dat hulle die yskas kan oopmaak en kan rondkrap in die koskaste van die Kerk, by wyse van spreke. Dit word byna ’n voorwaarde vir opregte betrokkenheid. Die Kerk se roeping is onder andere om in ’n eie kring of in die wêreld daarbuite forums vir bediening te skep wat sin maak, wat inspireer en aktiveer. Ons taak is om vir almal ’n tuiste en ’n bedieningsveld te help skep.

 

af
af
Deel met behulp van
Copy link