The worries of the old year still torment us:
the long days of our sorrow still endure.
Oh Lord, give our frightened souls
what you have promised – the healing and the cure.

Dit is ’n uittreksel uit ’n gebed/gedig van die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer. Volgens oorlewering is dit moontlik geskryf ’n paar dae voor sy teregstelling op 9 April 1945. Bonhoeffer is skuldig bevind aan ’n komplot om Adolf Hitler dood te maak. Terwyl Bonhoeffer in die tronk was, het hy talle briewe en gedigte geskryf. Vandag lees mense uit verskillende kulture en godsdienste alles wat hy geskryf het omdat dit ’n kragtige uitdrukking is van gelyktydige angs, teleurstelling en weerstand, maar ook van moed en hoop. In hierdie opsig is Bonhoeffer se gedig en sy geskrifte nogal gepas vir die begin van ’n nuwe jaar waarin al hierdie emosies miskien ook by ons teenwoordig is.

Vroegoggend op 31 Desember 2020 begin mense soos altyd nuwejaarswense rondstuur. Vroeër het almal mos sulke boodskappe ’n paar minute voor of na middernag per SMS (en later WhatsApp) rondgestuur. Maar ek onthou goed dat ons tegnologie in ’n stadium nie die magdom boodskappe kon hanteer nie, en soms het ’n nuwejaarsboodskap mense eers laat op die middag of aand van die 1ste Januarie bereik.

Mense begin toe om die boodskappe al vroeër te stuur. Op hierdie manier ontvang ek toe my eerste boodskap hier rondom die 30ste Desember 2020. My vingers begin outomaties terug tik: Gelukkige 2021. Halfpad vries my vingers egter. Ek raak bewus van die woord gelukkig wat ek hier wil tik, en ek vra skielik vir myself: Kan ek regtig hier gelukkig tik? Ek raak stil terwyl ek dink hoekom my hand ook stil geraak het: Ons gaan die nuwe jaar in te midde van ’n gedeeltelike grendeltoestand. Die strate sal leeg wees, geen vonkelwyn behalwe as jy reeds voorsiening gemaak het … geen familie of kerkbyeenkomste om middernag nie. En as jy besluit het om voortydig by familie of vriende bymekaar te kom en miskien êrens oor te slaap omdat jy nie na 21:00 buite mag wees nie, is my vraag: Terwyl jy en hulle só die laaste tien sekondes aftel na die nuwe jaar, wat dink jy oor die nuwe jaar? Waarvoor hoop jy? Ons lewe te midde van ’n pandemie wat nie so vinnig gaan verdwyn soos wat ons almal gehoop of gewens het nie. Die ekonomie wêreldwyd kry swaar. Die aarde sug en kreun. En hier in Suid-Afrika is ons deesdae tussen middernag en 05:00 sonder elektrisiteit…

In die verlede het mense dikwels nuwejaarsvoornemens gemaak. Party mense het dit nie gedoen nie omdat sommige voornemens altyd onrealisties is en gedoem is tot onvervulling. Ander mense het dit aanhoudend gedoen. Maar wat van 2021? Kersfees 2020 is reeds totaal en al gestroop van al die oordadigheid: te veel kos, te veel mense, te veel Kersfeesmusiek in die winkelsentrum, te veel geskenke. Dit kon nie tydens Kersfees 2020 nie. Het ons geleer om betekenis te ontdek in die alledaagse en blydskap te vind in dit waarvan ons van oomblik tot oomblik seker kan wees? Is dit getoets toe ons besig was om die tien sekondes na die nuwe jaar af te tel? Ek weet nie. Daarom moes ek tot stilstand kom om nuwe woorde en wense uit te dink vir mense wanneer ek vir hulle ’n goeie nuwe jaar, 2021, probeer toewens. Dit is nie dat ek nie voorspoed vir mense wil toewens nie – ek wil! Dit is eerder hoe om dit te doen te midde van ons huidige omstandighede.

Na ’n hele paar ure se nadenke besluit ek dat ek nie ’n generiese boodskap kan stuur nie. Vir my een vriend wat lief is vir Star Trek soos ek, skryf ek die Vulcan-groet van die karakter Spock: Live long and prosper. Vir ’n vriendin wat nie baie godsdienstig is nie maar wel baie spiritueel, stuur ek lirieke van Laurika Rauch se een lied: Ek wens vir jou ewewig en stilte. Vir ’n ander vriend in die Kaap skryf ek dat ek hoop daar is goeie verrassings (’n mens kan mos doen met goeie verrassings en nie die onaangename soort verrassings nie!). Vir ’n vriend in Pretoria skryf ek: See you on the other side. So gaan ek vir ’n dag en ’n half deur wisselende emosies en wense, totdat ek afkom op hierdie gebed/gedig van Bonhoeffer, wat danksy sosiale media per WhatsApp aan my gestuur word. Daar is verskeie weergawes in Duits en in Engels beskikbaar:

 

With every power for good to stay and guide me,
comforted and inspired beyond all fear,
I’ll live these days with you in thought beside me,
and pass, with you, into the coming year.

By gentle powers lovingly surrounded,
with patience we’ll endure, let come what may.
God is with us at night and in the morning
and certainly on every future day.

The worries of the old year still torment us:
the long days of our sorrow still endure.
Oh Lord, give our frightened souls
what you have promised – the healing and the cure.

And though you offer us the cup so heavy,
so painful, it’s the most that we can stand.
Not faltering, with thanks we will accept it
and take it as a gift from your good hand.

And should it be your will once more to grant us
to see the world and to enjoy the sun,
then all the past events we will remember, and with
what we’ve learned will dedicate our lives to you.

Let candles shed their warm and radiant light
that you have given us in our darkness,
for when we are together again, we will know:
You can illuminate our darkest night.

Let this cup pass from me
Kunstenaar onbekend

Die kunswerk hierbo het my aangegryp omdat dit iets van Bonhoeffer se laaste dae en wense uitbeeld. Wat dink jy en skryf jy as jy weet jy is op die punt om te sterf? Aan die een kant spreek jy die menslike versugting uit dat dit nie gebeur nie. Maar wat anders? Wat bly vir jou as gelowige oor behalwe om jou in God se hande oor te gee? Daarom beeld die kunswerk sowel as Bonhoeffer se gedig iets uit van absolute weerloosheid én absolute oorgawe. En is dit nie waar ons ook nou is nie? Êrens tussen absolute weerloosheid en absolute oorgawe, omdat ons meer as ooit weet dat ons nié weet nie. Ons wetenskaplike en mediese kennis, sowel as ons tegnologiese vordering, kon nie keer wat op die oomblik gebeur nie. Ons is bitter weerloos en die werklikheid daarvan begin nou miskien, ’n jaar later, eers by ons insink. En wat is daar vir ons om te doen? Ons kan nie beheer in ons hande neem nie, ons kan nie die toekoms met ysterhande bestuur nie, en ons emosies gaan dag tot dag wipplank ry. Sekere dinge gaan dieselfde bly, maar ander dinge gaan vinnig en onherroeplik verander.

Na my dae lange geworstel het ek besef dit is beter om oor te gee – geen een van ons vooropgestelde idees oor geluk of voorspoed en ons vaste reëls oor sukses of ons tien-stap-planne om by inner peace uit te kom gaan ons help nie. Dit gaan ons ook nie by ’n plek uitbring waar ons realisties en gebalanseerd kan lewe in die aangesig van die lewe se mooi en minder mooi nie. God belowe nie om die beker by my of ons te laat verbygaan nie. Wandel saam met God beteken egter dat ek al my gemengde emosies en my wisselende menslike toestand konstant aan God se voete kan neersit.

Bonhoeffer se geloofsbelydenis in die aangesig van sy angs, onsekerheid en die einde van sy lewe, is tegelyk gevul met vrede, sekerheid en die vreugde van ’n nuwe begin. Dit herinner my aan die baie bekende woorde en belydenis van Paulus (Rom 8: 31-38) as hy sê-vra: Wat kan ons dan nou oor al hierdie dinge sê? … Net dit: As God vir ons is, wie kan dan teen ons wees? … Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige kragte of hoogte of diepte of enige iets anders in die heelal kan ons skei van die liefde van God nie, die liefde wat daar is vir ons in Christus Jesus, ons Here.

Dit is my troos – maar dit is ook ’n belofte. En so, na ’n lang worsteling, ontdek ek uiteindelik met die skryf van hierdie oordenking die woorde wat ek vir elkeen kan toewens vir 2021:

Mag die Heer jou seën en beskerm.
Mag die Heer die lig van sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees.
Mag die Heer sy aangesig tot jou rig en aan jou vrede gee.

(Dr Tanya van Wyk is senior lektor in die Departement Sistematiese en Historiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, UP)