Broers en susters in onse Here Jesus Christus
Die verhaaltjie en betekenis van Jesus se tempelreiniging kan op verskillende verstaan word. Sommiges is van mening dat Jesus, toe Hy Jerusalem binnegekom het, al so moedeloos was met die Fariseërs en al hulle baie onsinnige wette en offers, en gesien het wat by die tempel aan die gang was, die Fariseërs se verstaan van God se genade net nie meer kon duld nie.
Die huis van my Vader, het Jesus gesê, moet ‘n plek van gebed wees, nie ‘n plek waar handel gedryf word en wins gemaak uit die verkoop van offers en die omruil van geld nie. Daarom het Jesus die tafels van die duiweverkopers en geldwisselaars omgekeer om ‘n einde te maak aan hierdie verstaan van God se genade en die maak van wins uit godsdiens.
Ander weer meen dat hierdie handeling van Jesus simbolies verstaan moet word. Die tempel was die plek waar die offers gebring is vir versoening van sonde. Jesus sou egter, met sy dood wat voorhande was, die eenmalige en finale offer vir alle mense se sonde word. Sy dood sou die einde van die offersisteem beteken.
Daarom keer Hy die tafels om, om daarmee te sê dat daar ‘n einde aan hierdie tafels gekom het. ‘n Handeling wat simbolies verstaan moet word. Soos Hy die tafels onderstebo omgekeer het, so sal Hy ook, met sy dood, die offersisteem op sy kop keer.
Sommiges beweer selfs dat Jesus geen rede gehad het om te gedoen het wat Hy gedoen het nie. Hy het tog in die tempel geleer, en selfs die tempelbelasting betaal (Matt 17). So het Hy gesê die tempel was reg soos dit is. Daarom kan hierdie verhaaltjie nie waar wees nie, en moet dit gesien word as ‘n vertelling wat later geskep is, maar sonder enige waarheid is.
Ek meen, broers en susters, dat wanneer ons Eksodus 30:11-16 (veral vers 16) saam met hierdie vertelling van die reiniging lees, ons oor ten minste twee sake ‘n bietjie meer duidelikheid kan kry: eerstens, wat Jesus met hierdie handeling bedoel het, en ook (en dit is op ons van toepassing), watter verband daar is tussen die tafels wat Jesus omgekeer het, en die tafel(s) waarby ons so pas aangesit het. Kom ons kyk na hierdie twee gedeeltes.
In Eksodus 30 lees ons dat Moses die volk moes tel. Die opdrag van God in hierdie verband was dat elke manspersoon bo die ouderdom van twintig jaar wat getel word, ses gram silwer (= ½ sikkel) aan die priesters moes gee. Of hulle baie of bietjie gehad het, maak nie saak nie. Almal moes dieselfde hoeveelheid gee.
Die priesters moes dan die geld neem en daarmee vee vir offerandes kop wat dan geoffer moes word, let wel, vir versoening tussen God en die hele volk. Met ander woorde, nie vir individuele sondes nie, maar vir die sondes van die hele volk. En wanneer hierdie offers gebring is, het God gesê (vers 12 en 16), sal hulle losgekoop wees, Hy sal aan hulle dink en sal sorg dat geen ramp oor hulle kom nie. In kort, elkeen se betaal van die ½ sikkel het die gevolg gehad dat die volk se saak met God altyd reg was.
Met hierdie agtergrond kan ons Matteus 21 dan soos volg verstaan: die tafels van die geldwisselaars by die tempel was in beginsel nie verkeerd nie. Elkeen bo twintig moes ‘n ½ sikkel betaal. Let wel, nie R5.00 of 1 denarius of 10 pond nie, maar ½ sikkel – die korrekte geldeenheid. Om allerhande soorte geld om te ruil tot sikkel was dus nodig. Hierdie geld was dan geneem vir die daaglikse versoeningsoffer vir die hele volk. Die volk se redding het hiervan afgehang.
Maar hoekom dan die tafels omkeer? Inderdaad omdat dit ‘n handeling was met simboliese betekenis. Omdat ‘n nuwe tafel in die plek van die ou tafel sou kom. ‘n Nuwe, ander en beter tafel, die tafel waarby ons so pas aangesit het.
Soos daardie tafels God se genade, aanvaarding en sondevergifnis vir die hele volk gesimboliseer het, so simboliseer hierdie tafel waarby ons vanaand aangesit het, op grond van die dood van Jesus Christus, nou die feit dat Christus vir ons die finale offer geword het, dat Hy ons liefhet, dat Hy ‘n genadige God is, dat ons sy kinders is, en daar tussen God en mens versoening gekom het.
Soos daardie versoeningsoffer (geld by tafels) almal gered het, kan nou alleen dit wat hierdie tafel simboliseer, iemand red. En om te toon dat Hy die nuwe offer gaan wees, keer Jesus die tafels om, omdat daar ‘n nuwe tafel sou kom.
‘n Nuwe tafel wat ons nuwe mense maak. Ons het vanaand (of vanoggend) by hierdie tafels aangesit. So het ons in wese die nuwe lewe ontvang. Of anders gesê: die moontlikheid tot nuwe lewe. Want wat ons ontvang het, moet toegeëien word. Dit moet geleef word. Dit moet waar in ons lewens word. En steeds word. En meer word. Dit moet sigbaar word. Jesus het immers gesê dat ‘n boom aan sy vrugte geken sal word.
Amen
Gebed
Here, hier waar ons nou as gemeente saam met u Woord besig is, en saam by U tafel gaan aansit vra ons U dat U uit genade ons die volgende sal skenk:
Lig waar ons net donker sien,
moed waar ons vrees,
hoop waar ons wanhoop
vrede waar ons gemoedere vol onvrede is,
vreugde waar ons hartseer is,
krag waar ons swak is,
wysheid waar ons verward is,
sagtheid waar ons bitter is, en
liefde waar ons haat.
Ja Here, uit genade vra ons:
vergifnis vir ons sonde,
Gee Uself weer in die plek van onsself.
Want dan alleen kan ons lewe!
Amen