Gedurende Maart en April vanjaar is een van die NHKA se emerituspredikante en drie predikanteweduwees oorlede.
Emerituspredikant ds NCJ (Nico) Brayshaw (83) is vroeg Dinsdagoggend 12 April 2022 in Ons Tuis oorlede. Hy is onlangs daar opgeneem nadat hy baie verswak het.
Ds Nico het aan die einde van verlede jaar geval en ’n ernstige sny aan sy regterbeen opgedoen. Na verskeie operasies en veloorplantings het die pyn na sy ander ledemate versprei, en het hy probleme met bloedsomloop begin ervaar. Weens die herhaaldelike narkose het hy baie angstig en verward geraak. Die roudiens het plaasgevind op Saterdag 16 April in Gemeente Pretoria-Oos, terwyl sy dogter nog hier was op besoek uit Australië. Dr Daan van Wyk (sr) het die diens gelei, en ds Hannes van der Merwe het namens die Kommissie van die AKV gepraat.
Ds Brayshaw is in Februarie 1964 georden, en het gedien in gemeentes Dordrecht, Springs-Oos, Ermelo, Welkom, Drie Riviere, Drie Riviere-Oos, en na sy emeritaataanvaarding in 2003, van 2014 tot 2017 in Heilbron.
Ons innige simpatie gaan aan mev Henriëtta Brayshaw en hul familie.
In dieselfde week is twee predikanteweduwees ook oorlede. Mev E (Isie) Beytell (81), weduwee van ds F (Frik) Beytell wat in 1999 oorlede is, is Saterdag 9 April na ’n lang siekbed oorlede. Sy laat drie kinders na: Thys en Frikkie Beytell en Sibbie Swart. Hul ander seun, PW, is ’n paar jaar gelede oorlede. Die roudiens op Vrydag 15 April in Gemeente Waterberg is gelei deur dr Barry van Wyk. Ons innige simpatie gaan aan die familie.
Mev JI (June) Roos (89), weduwee van ds WJ (Willie) Roos wat in 2019 oorlede is, en van ds HR (Hennie) Visser wat in 1999 oorlede is, is Saterdagmiddag 9 April oorlede nadat sy drie weke lank in die hospitaal was weens ’n embolisme en vog op die longe. Sy het die afgelope paar jaar in Fleurenville gewoon en geworstel met Alzheimersiekte. ’n Gedenkdiens is by mev Roos se dogter se huis gehou, gelei deur ds Peet Esterhuizen. Ons innige simpatie gaan aan die familie.
Mev HC (Rina) du Toit, weduwee van ds JJ (Johan) du Toit wat op 7 Junie verlede jaar oorlede is, is Sondag 20 Maart om 13:00 in Unitas-hospitaal oorlede. Sy het die vorige Sondagmiddag ’n ernstige breinaneurisme beleef. Haar behandeling in Unitas se intensiewesorgeenheid het behels dat sy pynvry en rustig gehou is. Die troosdiens op Maandag 28 Maart is by Huis Hermon gehou. Ons innige simpatie gaan aan mev Du Toit se dogters en ander familie.
