Ds PP (Paul) Jooste is Dinsdag 18 Augustus 2020 in die ouderdom van 77 jaar aan Covid-19 oorlede.

Ds Jooste se heengaan was so klinies en eensaam soos alle ander Covid-sterftes, veral omdat hy sonder enige van sy kinders of enige ander bekende alleen gesterf het. Genadiglik as Christengelowige nie sonder God nie.

Sy vier kinders en kleinkinders het ’n geliefde pa en oupa verloor, die res van sy familie en vriendekring het ’n steunpilaar verloor, en die Kerk ’n waardige en lojale predikant. Ons sal hom onthou as ’n nederige mens met ’n innemende geaardheid en goeie humorsin. Hy kon met almal ’n geselsie aanknoop en sommer lekker gesels. Mense het hom oor die algemeen vertrou en na hom opgesien.

Hy was ’n veelsydige mens met vele gawes. Naas die feit dat hy ’n predikant was wat altyd goed voorbereide preke gelewer het, was hy ook ’n skilder van formaat, ’n “motorwerktuigkundige” en in sy jonger dae selfs ’n amateurpaneelklopper. Hy was ook ’n fanatiese Peugeot-entoesias. In die min of meer 53 jaar wat ek hom ken, het hy meestal dié fabrikaat motor gery.

Hy was vir 25 jaar kapelaan in verskeie afdelings van die SA Weermag en het op dié wyse ’n belangrike rol vervul in die lewe van menige dienspligtige asook in dié van staandemaglede. Terselfdertyd was hy ook deeltyds predikant in Gemeente Voortrekkerhoogte tot 1997 toe die gemeente ontbind het en saamgesmelt het met Gemeente Swartkop, en daarna tot met sy emeritaat in 2014 deeltyds predikant in Swartkop. Hy en sy vrou, Bettie, wat hom twee jaar gelede ontval het, het totdat hulle in Maart 2017 inwoners van Ons Tuis geword het, getrou elke Sondag die eredienste bygewoon en was deel van die aand-Bybelstudiegroep. Na Bettie se afsterwe het Paul steeds elke Sondag sy plek in die erediens ingeneem.

Sy kinders wat in Pretoria woon, het gesorg dat hy elke naweek by een van hulle kon kuier en hulle het hom lekker bederf. Daarvoor het hy altyd soveel waardering gehad. Ook by Ons Tuis het hy sy plek volgestaan deur Bybelstudie vir die inwoners aan te bied en te preek.

Met die afsterwe van ds Jooste was die enigste oorlewende van sy jaargroep prof Piet Geyser, wat uiteindelik na ’n lang lyding op 29 Augustus oorlede is. Ons innige meegevoel gaan aan ds Jooste se kinders, kleinkinders en oorlewende broer.

Ds Dries Beukes, Swartkop

Share via
Copy link
Powered by Social Snap