Ons kom selde te staan voor die dilemma wat die Covid-19-entstof aanbring. Moet ek inent, of verbyhou?
Wat weet ons, te midde van ’n duisternis teenstrydighede, risiko’s, gerugte en samesweringsteorieë, van hierdie entstowwe? Net dít: Dat hierdie entstowwe inderhaas ontwikkel is, en nie die gewone pad van jarelange navorsing, wetenskaplike kritiek of strawwe toetsing deurloop het nie. Daar is goeie rede dat alle medisyne gewoonlik dié proses moet deur. Ons gewaande weerloosheid teen die siekte self, het tot gevolg dat hierdie entstowwe met verbygaan van die gewone versigtigheid toegedien word.
Dit is al wat ons (ek, ’n leek) van hierdie entstof weet. Van die siekte self weet ek nie veel meer nie. Ek is oor wat ’n virus nou eintlik is, so in die duister as oor ’n gravitasiekolk. Self leef ’n virus glo nie. ’n Virus muteer. ’n Virus wil (sic) glo nie sy gasheer doodmaak nie, maar verander om te keer dat sy gasheer hom uitskop. Of die ding nou van ’n vlermuis of ’n miervreter kom, of uit ’n Chinese laboratorium wat biologiese wapens ontwikkel het, het ek nog geen benul nie. Oor of daar regtig soveel mense daarvan doodgaan as wat beweer word, weet ek ook nie vir seker nie, want regerings lieg, soms om te oordryf, soms om iets af te maak. Ek verstaan geen snars van wat in mediese tydskrifte staan nie. Op die sensasiebeluste media kan ek lankal nie meer staatmaak om my die waarheid te vertel nie, want ek het goeie rede om te vermoed dat selfs berigte wat op die oog af ewewigtig verslag gee, na alle waarskynlikheid ’n eie agenda het. Sosiale media vaar nie beter nie. Samesweringsteorieë gedy.
Nou, ook oor die entstof, of is dit gif? Groot name in die kerkewêreld rý die karretjie: Ons is glo safgemaak deur die virus, met maskers verhinder selfs om God se “vars lug” (dat dáár nie meer veel van oor is nie, is nie nou ter sake nie!) vryelik in te asem. Jou hospitaalbed is jou Megiddo, Bill Gates die Antichris. Nou swig ons voor die entstof wat voorgee om ons te wil red, maar, só beweer ’n professor wat glo aan die Pfizer-entstof sou saamgewerk het, almal wat daarmee ingespuit is, binne die volgende drie jaar sal doodkry.
Is hierdie siekte en die medisyne daarteen alles ’n berekende oëverblindery om mense in groot getalle dood te kry in die waan dat die oorbevolkte planeet ’n blaaskans moet kry? Daar is diegene onder ons wat sal dink hulle doen Moeder Aarde (én God!) ’n guns.
Is ’n ganse wêreld se regerings, eerste- tot derdewêrelds, hieroor dit almal (soos nog nooit tevore nie) roerend eens en kop in een mus? Is die druk op regerings te groot, of die vergoeding net té goed, om te keer dat ekonomieë willens en wetens afgetakel word, met sosiale chaos tot gevolg?
Of is die sosiale ontwrigting juis die doelwit, sodat onrus gesaai word, die magsbalans versteur word, ’n nuwe wêreldorde hom vestig en die wapenbedryf kan geld maak? Is dit nie dalk gesofistikeerde sosiale ingenieurswese nie, wat welvaart gryp en ons in armoede gelyk moet maak?
Is Covid-19 ’n bemarkingsfoefie vir die globale farmaseutiese industrie, verdoeseling van hoeveel geld uit medisyne gemaak word? Wel, of dit nou die medisynemakers is of nie, iemand maak geld, en sommer baie daarvan.
Maar het die wêreld al ooit anders gewerk? Geld ís nog altyd ’n magtige dryfveer, en te min mense het gans te veel daarvan. Volhoubare lewe op ons planeet is net so ’n lewe-en-dood-saak, en wie weet hoe ver fanatici sal gaan om bevolkingsgetalle te manipuleer? Iets soortgelyk het immers al gebeur! En talle regerings slyp hul tande vir ’n geleentheid om samelewings om te keer. Dít is tog die wêreld waaraan (ek hoop) ons almal teen dié tyd al gewoond is?
Een of almal van die bogenoemdes mag waar wees. Dit is ook net moontlik dat nie een daarvan die werklikheid is nie. Hoe sal ons ooit weet? Nou staan voor my ’n verpleër met ’n spuitnaald: entstof of doodsteek? Ek moet besluit. Hoe nou gemaak?
Vir doodgaan, is ek nie bang nie. Ek was tog al ná daaraan. Sonder om die dood en die smart wat dit bring sommerso af te lag, neem ons die dood te ernstig op, ja, ons wat in opstanding en ewige lewe glo. Dié- of daaikant van die dood, God is hier én daar.
God gebruik medisyne. As Jerigo se grond en water misgeboortes veroorsaak, kommandeer Elisa ’n skotteltjie sout, dien dit toe, en spreek God se seën daaroor uit. Die water word gesond. Toe Jesus ’n blinde man laat sien, smeer Hy modder wat Hy met sputum aangemaak het, op die man se oë. Nie dat God nodig het om dit juis só te doen nie. Die centurio se slaaf word gesond nog voor Jesus by hom aankom. Maar van die grootste eietydse wonders kom uit hoe God oor die mediese wetenskap beskik.
Dokters hoef nie gelowig te wees vir God om hul werk te gebruik om ons gesond te maak nie. God gebruik Kores, die heidenkoning van Persië, om sy wil gedaan te kry. Wat ook al die geloofsoortuiging of die langtermynverwagting is van diegene wat agter die entstof sit, God besluit of ons lewe of sterwe.
Ek het hierdie twee opsies: Ek laat my nie teen Covid-19 inent nie, want God kan my sonder entstof teen Covid-19 beskerm, of ek nou daarvan siek gaan word of nie. Of ek laat my inent, want God gebruik ook medisyne om mense gesond te maak en gesond te hou. Oorleef ek dit nie, watter een van die twee ek ook al kies, ook dit is in die Here se hand.
Ek gaan my laat inent. Daarin skuil nie twyfel in God nie; juis nie. Ek besef maar alte goed hoe gevaarlik die entstof ook kan wees.
Ek gaan my laat inent omdat ek my bes wil probeer dat ander mense nie van my siek word nie. Ek versorg my ouers, albei van hulle ouer as 80. Hulle sien omtrent net vir my. Ek is dit aan hulle verskuldig om hulle te probeer beskerm. En ek werk met baie bejaardes. En ek doen huisbesoek, want ons mense smag na God. Ek probeer verhinder dat hulle my soos ’n Trojaanse perd in hul huise innooi. Ek bid daarvoor dat God sal keer.
Na Giel (ds Malan, my klasmaat) se dood aan Covid-19 registreer dit by my nie een van ons is immuun nie. Om dieselfde rede het ek my elke jaar teen die griep laat inspuit (en ten spyte daarvan etlike kere siek geword; ek weet ’n entstof waarborg nog niks, maar is dit gif?). Ek gaan dit weer doen. Ek is dit verskuldig aan alle mense by wie ek met die Goeie Nuus aankom.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Amen! Hiermee stem ek volmondig saam. SLEGS God besluit oor lewe en dood , waar, wanneer en hoe. En ek het groot vrede hieroor in my hart. Want ek sien uit na wanneer God my kom haal.
Dankie vir die skrywe. Ek gaan my nie laat inent nie. Ek het nog nooit verkoue of griep gehad en nog nooit ‘n griep inspuiting gehad nie. Ek kry wel hooikoors en sinus. Ek is geweldig allergies vir sekere medikasie en dra ‘n armbandjie as bewys daarvan. Na ‘n knieoperasie verlede jaar het ek so siek geword vd pynmedikasie. Ek moes dit staak, want ek was allergies vir iets in die tablet.
Wat weet ek wat in daardie entstof is waarvoor ek dalk allergies is?
Ek gee baie om vir my medemens daarom dra ek my masker, was en saniteer my hande gereeld sodat ek nie die oorsaak van iemand anders se dood nie. Ek is 68 en het perfekte gesondheid omdat ek gesond eet en gereeld oefen.
Vriendelike groete
Susan du Toit
Dankie vir jou openhartige en verantwoordbare antwoord, Susan. My besluit om te laat inent, is geen algemeengeldende reël nie! Ek wil juis sê dat dit elkeen van ons se eie besluit is. Jy loop duidelik n groter risiko weens jou allergieë. Dog doen jy alreeds alles in jou vermoë om jouself en ander mense veilig te hou. Niemand kan meer as dit van jou verwag nie.
Hennie ek dink dit is ‘n imperatief dat ons ons moet laat ent. Dit maak die wêreld veiliger vir almal. Covid toets ons naasteliefde.
Die gerugte oor oorhaastige en ongetoetste entstowwe kan nie verder van die waarheid wees nie.
Die entstof is groot genade. Entstowwe het bv. al in die verlede iets soos ysterlinge tot relekwieë van die verlede verban.
Uitstekend geskryf. Baie dankie. Ons moet tog net waak, dat ons verskille oor die entstof kry of nie kry, deur net nog ‘n wapen in die duiwel se hand te gee om die kerk verder uitmekaar te skeur nie. Ek is lief vir jou al vat jy of vat jy nie die entstof.