Toe ek in standerd 7 (graad 9) was, het my Afrikaanse onderwyseres ’n klein groepie in ons klas uitgedaag om Dalene Matthee se Kringe in ’n bos te lees tydens ons Desembervakansie. In ons destydse kurrikulum is die boek eers in standerd 8 (graad 10) voorgeskryf.

Ek sukkel eers om in die verhaal in te kom. Dit lees aanvanklik moeilik en swaar. Geleidelik word ek ingetrek by al die verskillende kringe wat die karakter Saul Barnard loop: moeilike kringe wat hom tot by sy mense bring en hom weer van hulle verwyder; ver kringe om verby sy mense se vrees vir olifante te kom sodat hy naby kan kom aan Oupoot, sy olifant siele-maat. Groterwordende en kleinerwordende kringe ten opsigte van sy afhanklikheid van die houtkopers en sy uiteindelike vryheid en onafhanklikheid as delwer en meubelmaker. Kringe oor sy eie identiteit – as binne- en buite-Boskind. En uiteindelik ook die naby-ver-kring rondom Kate MacDonald, die Britse meisie op wie Saul verlief raak in die teenstrydige kring van die Bos-Outeniekwa-kultuur en die Britse koloniale kultuur.

Kringe.

Op die punt om al hierdie kringe te loop en te onthou wat hy vergeet het, staan daar: Saul Barnard loop die Bos in en dit voel vir hom hy loop agteruit in homself in. Toe ek bewus word dat dit amper weer tyd is in die liturgiese jaar vir ons gemeente om Ewigheidsondag te vier – die dag waarop dié wat gesterf het, onthou en gedenk word, op die laaste Sondag van die kerklike jaar voordat Advent aanbreek – toe dink ek skielik aan kringe. Ek dink aan ’n kring wat nou weer voltooi is, naamlik die kring wat laasjaar begin het op Ewigheidsondag en hierdie Sondag voltrek is.

Terloops: Nie alle kerklike tradisies vier Ewigheidsondag op die laaste Sondag van die kerklike jaar nie. Sommige gemeentes, soos in Protestantse Nederland, gedenk diegene wat oorlede is in die laaste kalenderjaar op Oujaarsdag. Ander Christelike kerklike tradisies, soos die Rooms-Katolieke, Anglikaanse en Oosters-Ortodokse, vier weer Allerheilige op die eerste Sondag in November. Ek het dit meegemaak meer as 15 jaar terug toe ek in Wene my voorgraadse studie voltooi het.

Hierdie jaar dink ek aan mense se lewenskringe. Terwyl ek dit doen, onthou ek nie net vir Saul Barnard nie, maar ook die kringe van ’n boomstam waarna Pieter Cilliers verwys in sy boek Soeker. Hy sê dat ’n mens se seerkry en pynlike herinneringe soos die kringe van ’n boomstam is – dat jy met elke kring probeer terugkeer na die kern van dit wat seer is. Hy wonder hoekom mense dit doen, en kom dan tot die slotsom dat ’n mens jou seer oor en oor besoek omdat jy hoop dat ’n herbesoek genadiger sal wees –  dat dit minder seer sal wees.

Soos Saul Barnard se karakter en Pieter Cilliers se denke aantoon, is ons lewe eintlik nie voltooide kringe nie – dit is sirkelgange van wisselende voltooiing en onvoltooidheid. Hierdie jaar is so ’n kring: om oor en oor met verlies, onuitgespreekte woorde of wense en onafgehandelde afskeid of afsluiting te leef, was hierdie jaar ons werklikheid. Meer as ooit is ons met die dood gekonfronteer. Meer as ooit moes ons nadink oor wat gesê is en wat nog gesê kon word. In sekere opsigte het die dood hierdie jaar selfs ’n groter verskrikking vir baie geword, juis as gevolg van ons eg menslike behoeftes en verwagtings, wat maak dat ons altyd dink daar moes nog tyd gewees het, daar was nog te veel lewe om geblus te word, daar was geen waarskuwing nie, daar was onafgehandelde take. In sulke omstandighede mag dit voel asof die dood die simbool is van die onvoltooide.

En tog, as ons die geskiedenis van mensheid en die kosmos in oënskou neem, kan ons sien dat daar nie ’n tyd was toe die dood nie deel was van lewe nie. Dood is deel van ’n verdere begin, soms van voor af, van alles wat leef. Dit beteken nie ons romantiseer die dood nie. Maar, in ’n poging om met die afsnypunt van die dood te kan leef – want dit is hoe ons voorberei op die dood – help die kosmiese kring ons om ’n tikkie vrede te vind te midde van ons onrus en frustrasie. Soos die filosoof en sielkundige Wilhelm Jordaan skryf, dood is die sin wat jy voltooi, om klaar te maak wat jy begin het. In hierdie sin maak elkeen van ons klaar wat ons begin het – nie een word uitgelaat nie. Dit is ’n stuk voltooiing wat elkeen van ons gegun word – maak nie saak wanneer en hoe ons gesterf het, of hoe ons geleef het nie.

Dit beteken, selfs al is daar geen antwoorde of afskeid ten opsigte van ons geliefdes nie, dat die dood “vrede” kan bring, al is dit geleidelik, omdat dit die laaste stukkie van ’n legkaart is wat in plek val, wat in die ontbrekende holte ’n tuiste vind – te midde van al die legkaartstukkies wat skeef en krom is. Daardie laaste stukkie – pas.

Op Ewigheidsondag herbesoek ons ons eie kring, en ook die kringe van ander. Ons loop agteruit, in onsself in. Soms is hierdie onthou soos kringe in die stam van ’n boom: groterwordende, na buite toe, al hoe ligter, hoe verder dit van die donker kol in die middel beweeg. Sommige kere is ons miskien weer nader aan die donker kol. En nog ander kere ervaar ons die nader-en-verder-kringe wat moeilik is om in te beweeg. Die punt is: In hierdie eb en vloei is daar ’n ontvouende perspektief te vind … die gerusstelling dat God, in lewe en in sterwe, die een of ander voltooiing teweegbring. Vir ons is gegee die geskenk en die gawe en die dapperheid om saam met God hierdie onvoltooide voltooiing te dans.

Hierdie gewaarwording laat spontaan die skanse by my sak en die woorde kom. Ek dra die gedig op aan elkeen wat met hul eie kringe besig is:

Nog ’n kring, nog ’n kans
nog ’n geleentheid vir die bittersoet dans
van aanvaarding en ontkenning, van aankoms en vertrek,
vir kerse wat herinneringstafels dek.

Nog ’n kring, nog ’n seisoen
wat wisselend die rondte doen
met wipplank klank en uiteenlopende kleur
met gedempte trane en uitbundige lag se geur.

Nog ’n kring, opnuut die ritme
van ’n mosaïek se geheel én van die stukke
van sonlig wat deur die geslote blaredak breek
van ’n verlore skat wat jare later onverwags kop uitsteek.

Nog ’n kring, opnuut ’n reis na die sin
van eindes en ’n herhalende kring,
van weet en nie-weet
van onthou en vergeet
van vreugde, verlossing en van leed.

Nog ’n kring van dwaal en lig
nog ’n aanpak na beter sig,
weer leer om te dra
aan die mooi wat dit gee en die seer wat dit laat:
’n onvoltooide lewe van afgegrensde tyd
wat grensloos, onbevange voltooiing vind in ewigheid.

 

*** Hierdie oordenking is geskryf vir die geleentheid van Ewigheidsondag by die Nederlandssprekende Gemeente van die NHKA op Sondag 22 November 2020.

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link