Predikante moet daarop let dat volwassenes wat gedoop word met gebruikmaking van hierdie Formulier, nié weer afsonderlik belydenis van geloof aflê nie. Die volwassedoop is ‘n geloofsbelydenisaflegging. Indien die volwasse dopeling ook sy/haar kinders wil doop, sou dit natuurlik met die Formulier vir die Bediening van die Doop aan die kinders van die gelowiges, geskied. Hierdie geleentheid moet verkieslik tydens ‘n ander Sondagerediens plaasvind as dié een waartydens die volwassene gedoop is.
Geliefdes in ons Here Jesus Christus:
Die leer oor die heilige doop word in hierdie drie hoofpunte saamgevat:
Die eerste hoofpunt is dat ons en ons kinders van ons eerste lewensoomblik af sondig is en in sonde gebore word. Daarom staan ons onder die oordeel van God, sodat ons nie in sy ryk kan kom nie tensy ons weer gebore word (Ps 51:7).
Ons onrein en sondige bestaan word juis aangedui deur die noodsaaklikheid van die doop met water. So word ons deur die doop vermaan om die erns van ons sonde te besef, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en verlossing buite onsself te soek (Rom 6:6).
Die tweede hoofpunt is dat die heilige doop aan ons die afwassing van die sondes deur Jesus Christus betuig en beseël. Daarom word ons gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Met die doop in die Naam van die Vader betuig en beseël die Vader aan ons dat Hy ‘n blywende genadeverbond met ons sluit en dat Hy ons as sy kinders en erfgename aanneem. Daarom wil Hy ons in alles versorg en alle kwaad van ons afweer of dit vir ons ten goede laat meewerk (Gen 17:4; Gen 12:2; Rom 8:28).
Met die doop in die Naam van die Seun beseël die Seun aan ons dat Hy met sy bloed al ons sondes afwas en dat Hy ons saam met Hom laat sterwe, sodat ons ook saam met Hom kan lewe. Só word ons van ons sondes bevry en deur God as vrygespreektes gereken.
Met die doop in die Naam van die Heilige Gees verseker die Heilige Gees ons deur hierdie heilige sakrament dat Hy in ons wil woon en ons tot lede van die liggaam van Christus wil maak. Dit doen Hy deur tot ons eie te maak wat ons reeds in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe, totdat ons uiteindelik in die ewige lewe as deel van die gemeente van die uitverkorenes sonder sonde sal wees.
Die derde hoofpunt is dat God ons deur die heilige doop vermaan en verplig tot ‘n nuwe gehoorsaamheid. Ons moet hierdie een en enigste God, Vader, Seun en Heilige Gees, aanbid, vertrou en liefhê met ons hele hart, met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons krag (Mark 12:30).
Ons moet ons sondige bestaan beëindig deur nie meer in diens van die sonde nie, maar volkome in diens van God te lewe. As ons soms uit swakheid sondig, moet ons nie aan die genade van God twyfel of in die sonde bly nie. Die doop is immers ‘n seël, ‘n betroubare waarborg dat ons ‘n blywende verbond met God het (Rom 6:13).
Die kinders van die gelowiges word kragtens die verbond gedoop, al verstaan hulle hierdie dinge nie. Volwassenes kan egter net gedoop word as hulle eers berou oor hulle sondes betoon en hulle geloof in Christus bely het.
Daarom het Johannes die Doper wat op bevel van God verkondig het dat die mense hulle moet bekeer sodat God hulle sondes kan vergewe, ook net diegene gedoop wat hulle sondes bely het. Só het ons Here Jesus Christus ook sy dissipels beveel: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: Doop hulle in die Naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees. Hierby het Hy die belofte gevoeg dat hulle wat glo en hulle laat doop, gered sal word. Net so het ook die apostels volgens hierdie reël net dié volwassenes gedoop wat oor hulle sondes berou getoon het en hulle geloof bely het. Daarom is dit vandag ook nie geoorloof om ‘n volwassene te doop nie, tensy hy of sy deur die verkondiging van die heilige evangelie geleer het wat die betekenis van die doop is, dit ook verstaan en deur ‘n mondelinge belydenis rekenskap van sy of haar geloof kan gee (Mark 1:4, 5; Matt 28:19).
Om hierdie sakrament van God tot sy eer, tot ons troos en tot opbou van die gemeente te bedien, laat ons saambid:
Almagtige, ewige God, ons bid U vanweë u onmeetlike barmhartigheid, dat U in genade U oor hierdie volwassenes sal ontferm. Ons bid dat U hulle deur u Heilige Gees in u Seun Jesus Christus sal inlyf, sodat hulle saam met Hom in sy dood begrawe word en saam met Hom in ‘n nuwe lewe mag opstaan. Gee dat hulle hulle kruis blymoedig sal dra, Christus daagliks sal volg en aan Hom toegewy sal wees met ware geloof, vaste hoop en vurige liefde, sodat hulle uiteindelik hierdie lewe — wat tog niks anders is as ‘n voortdurende sterwe nie — soos U dit wil, getroos sal verlaat. Gee ook dat hulle op die laaste dag sonder vrees voor die regterstoel van Christus, u Seun mag verskyn. Dit bid ons deur ons Here Jesus Christus wat met U en die Heilige Gees, die een en enigste God is, wat leef en regeer tot in ewigheid.
Amen
Die volwassenes wat gedoop moet word, word nou opgeroep om op die volgende vrae te antwoord:
NN, u het begeer om gedoop te word, sodat dit vir u ‘n teken en seël van u inlywing in die kerk van God kan wees. Ons het u in die Christelike geloof gekatkiseer. U het dit aangeneem en voor ons daarvan belydenis gedoen. Sodat dit kan blyk dat dit so is en dat u ook begeer om u lewe deur die genade van God daarvolgens in te rig, moet u nou voor God en sy gemeente eerlik op hierdie vrae antwoord:
Eerstens: Glo u in die een ware God — onderskeie in drie Persone: Vader, Seun en HeiligeGees — wat hemel en aarde en alles wat daarin is, uit niks geskep het? Glo u dat Hy alles nog so onderhou en regeer en dat daar niks in die hemel of op die aarde sonder sy Goddelike wil gebeur nie?
Tweedens: Bely u dat u van u eerste lewensoomblik af sondig is en in sonde gebore word en daarom onder die oordeel van God verkeer? Erken u dat u van nature nie tot iets goeds in staat is nie en tot alle kwaad geneig is? Bely u dat u gedurig met gedagtes, woorde en dade die gebooie van die Here oortree het, en dat u opreg berou oor al hierdie sondes het?
Derdens: Glo u dat die Here Jesus Christus, wat tegelyk God en mens is, wat sy menslike natuur uit die maagd Maria aangeneem het, deur God aan u as Verlosser geskenk is? Bely u dat u deur dit te glo, die vergewing van sonde ontvang wat deur sy dood bewerkstellig is? Glo u dat u deur die krag van die Heilige Gees ‘n lidmaat van Jesus Christus en sy kerk geword het?
Vierdens: Onderskryf u al die artikels van die Christelike geloof soos dit hier in die Christelike kerk uit die Woord van God geleer word? Is u van voorneme om in hierdie leer tot aan die einde van u lewe standvastig te volhard? Verwerp u ook alle ketterye en dwalinge wat met hierdie leer in stryd is? Beloof u om saam met die gemeente getrou die eredienste en die viering van die nagmaal by te woon?
Vyfdens: Is dit u opregte voorneme om altyd gelowig te lewe en van die wêreld en sy sondige begeerlikhede af te sien, soos dit ‘n lidmaat van Christus en van sy kerk betaam? Belowe u ook om u aan die kerklike opsig en tug te onderwerp?
Wat is hierop u antwoord?
Antwoord: Ja.
Mag die goeie en grote God in sy liefde aan u sy genade en seën skenk om in hierdie voorneme te volhard deur ons Here Jesus Christus. Amen.
Wanneer die dienaar van die Woord die doop bedien, sê hy/sy:
‘NN, ek doop u in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.’
Na die doopbediening verklaar die dienaar van die Woord aan die gedoopte volwassenes soos volg:
Vanweë die feit dat u gedoop is, en op grond van die belydenis wat u nou afgelê het, verklaar ons u tot belydende lidmate van die Kerk en nooi ons u uit om gereeld, saam met die gemeente, aan die tafel van die Here aan te sit.
Die God van genade wat u in Christus geroep het om in sy ewige heerlikheid te deel, sal u belydenis bevestig en u steeds deur sy Woord en Gees lei en versterk. Amen.
Enigeen van die Skrifaanhalings wat voorkom in die Formulier vir die Afneem van Openbare Geloofsbelydenis, kan ook op hierdie punt aan die gedoopte volwassenes voorgehou word.
Dankgebed
Almagtige, barmhartige God en Vader, ons dank en loof U dat U ons en ons kinders se sonde deur die bloed van u geliefde Seun Jesus Christus vergewe het. Ons dank U dat U ons deur u Heilige Gees tot lidmate van u enigste Seun en daardeur tot u kinders aangeneem het. Ons dank U dat U dit alles met die heilige doop beseël en bekragtig.
Ons bid U ook deur Hom, u geliefde Seun, dat U hierdie volwassenes altyd met u Heilige Gees sal regeer.
Gee dat hulle in die geloof in die Here Jesus Christus mag groei en toeneem, sodat hulle u vaderlike goedheid en barmhartigheid, wat U aan hulle en aan ons almal bewys het, mag bely. Gee dat hulle in verbondenheid met ons enigste Leraar, Koning en Hoëpriester sal lewe en moedig teen die sonde, die duiwel en sy hele ryk sal stry en oorwin. Gee Here, dat hulle U en u Seun, Jesus Christus, en die Heilige Gees, die enigste en ware God, altyd sal loof en prys.
Amen