Afkondiging (minstens twee weke voor die voorbereidingsdiens)

Geliefdes in die Here,

U weet dat die vroeëre lidmaat/lidmate N ‘n tyd gelede van die gemeente van Christus afgesny is.

Nou kan ons u meedeel dat hy/sy/hulle deur hierdie tugmiddel, sowel as deur paslike vermanings en u gebede oor sy/haar/hulle sonde berou het en gevra het om weer in die gemeenskap van die kerk opgeneem te word. Ons moet kragtens die opdrag van God hulle wat berou oor hulle sondes het, met blydskap terug ontvang.

Aangesien dit ordelik en gepas moet geskied, gee ons u hiermee kennis dat tensy een van u ‘n wettige beswaar daarteen voorlê, ons deur die genade van God die afsnyding van hierdie lidmaat/lidmate sal herroep en hom/haar/hulle weer in die gemeenskap van die kerk sal opneem. Dit sal ons by die eersvolgende nagmaalviering van die gemeente doen.

Elkeen van u moet die Here dank vir die weldaad wat Hy aan hierdie arme sondaar bewys het, en ook bid dat die Here sy verlossingswerk aan hom/haar/hulle sal voltooi.

As daar geen wettige beswaar ingebring is nie, moet die dienaar van die Woord die persoon/ persone wat afgesny was, soos volg weer in die kerk opneem.

Formulier (om gelees te word tydens die voorbereidingsdiens)

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ons het reeds aan u bekend gemaak dat die vroeëre lidmaat/lidmate N, hom/haar/hulle bekeer het. Ons het dit gedoen met die doel dat hy/sy/hulle met u instemming, weer in die gemeente van Christus opgeneem kan word. Omdat niemand ‘n wettige beswaar teen sy/haar/hulle heropname voorgelê het nie, gaan ons nou daartoe oor.

Toe die Here Christus volgens Matteus 18 die gesag aan sy kerk gegee het om die hardkoppige sondaar af te sny, het Hy daarby die versekering gegee dat alles wat sy dienaars op die aarde oopsluit, in die hemel oopgesluit sal bly. Daarmee het Hy nie bedoel dat iemand wat van die kerk afgesny is, alle hoop op redding ontneem is nie, maar dat die veroordeling ook weer herroep kan word. God verklaar immers in sy Woord dat Hy nie wil hê dat die sondaar deur sy of haar sonde moet sterf nie, maar dat elkeen van sy en haar optrede moet afsien en lewe. Daarom hoop die kerk altyd op die bekering van die afgedwaalde sondaar en staan die kerk gereed om hom of haar met ope arms terug te ontvang.

In sy briewe aan die Korintiërs gee die apostel Paulus opdrag dat iemand wat in sy sonde volhard, uit die gemeente verwyder moet word. Daar sê hy ook dat wanneer so ‘n sondaar deur die bestraffing van baie tot inkeer gekom het, hy vergewe en bemoedig moet word, sodat hy nie so hartseer word dat hy heeltemal moed verloor nie.

Verder leer Christus ons in Matteus 18 dat die hertoelating van so ‘n bekeerde sondaar deur God self as bindend en vas beskou word. Daarom hoef niemand wat hom of haar opreg bekeer, enige twyfel te hê dat hy of sy beslis deur God in genade aangeneem is nie. Christus sê trouens: ‘As julle die mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nié vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.’

Vrae

Om nou oor te gaan tot u heropname, vra ek u, N:

  • Verklaar u, in alle opregtheid, voor God en sy gemeente dat u werklik berou het oor die sonde en hardkoppigheid waaroor u met reg van die gemeente afgesny was?
  • Glo u werklik die vergewing van sondes om Christus ontwil en glo u dat u sonde deur die Here vergewe is?
  • Wil u weer in die gemeente van Christus opgeneem word?
  • Belowe u om voortaan gelowig en gehoorsaam volgens die gebooie van God te lewe?

Antwoord: Ja.

Vermaning (hierop moet die dienaar van die Woord sê)

N, ons, wat hier in die Naam en op gesag van die Here Christus vergader is, verklaar dat u afsnyding van die gemeente hiermee opgehef word. Ons ontvang u nou terug in die gemeente van Christus. Ons verkondig aan u dat u weer deel het aan die gemeenskap van Christus, aan die sakramente en aan al die geestelike seëninge en weldade wat God aan sy gemeente beloof en bewys. Mag die ewige God u tot die einde toe deur sy eniggebore Seun, Jesus Christus, daarin bewaar. 
Amen

Aanspraak

Geliefde broer(s)/suster(s),

U kan nou seker wees dat die Here u in genade aangeneem het. Wees nou voortaan baie versigtig vir die listigheid van Satan én die verdorwenheid van die wêreld, sodat u nie miskien weer in die sonde val nie. U moet Christus baie liefhê, want baie sondes is u vergewe.

Geliefde Christene,

Ontvang hierdie broer(s)/suster(s) met hartlikheid en vriendelikheid. Wees bly, want hy/sy/ hulle was dood en hy/sy/hulle lewe weer. Hy/sy/hulle was verlore en ons het hom/haar/hulle teruggekry. Wees saam met die engele in die hemel bly oor hierdie sondaar(s) wat hom/haar/hulle bekeer het.

Beskou hom/haar/hulle nie langer as ‘n buitestaander(s) nie, maar as ‘n medeburger(s) van die gelowiges en ‘n lid/lede van die huisgesin van God. Omdat ons uit onsself tot niks goeds in staat is nie, laat ons die Here, die Almagtige, loof en dank en om sy genade bid.

Gebed

Barmhartige God en Vader,

Ons dank U deur Jesus Christus dat U ons broer(s)/suster(s) tot die lewe bekeer het en dat U aan ons sodoende rede gee om oor sy/haar/hulle terugkoms verheug te wees. Ons bid U, skenk hom/haar/hulle u genade dat hy/sy/hulle steeds meer en meer seker kan wees van die vergewing van sy/haar/hulle sondes en daaruit groot vreugde kan put en ‘n begeerte om U te dien. Voorheen het hy/sy/hulle deur sy/haar/hulle sonde aan baie aanstoot gegee. Gee nou, o Heer, dat hy/sy/hulle deur sy/haar/hulle bekering net so baie mense in die geloof mag versterk en dat hy/sy/hulle tot die einde toe steeds aan U gehoorsaam sal wees.

Laat ons uit hierdie voorbeeld leer dat daar by U genade is, sodat U gedien mag word. Laat ons solank ons lewe U met kinderlike vrees en gehoorsaamheid dien.

Dit vra ons deur ons Here, Jesus Christus, wat ons geleer het om so te bid:

Ons Vader wat in die hemel is, 
laat u Naam geheilig word; 
laat u koninkryk kom; 
laat u wil ook op die aarde geskied, 
net soos in die hemel. 
Gee ons vandag ons daaglikse brood; 
en vergeef ons ons oortredinge 
soos ons ook dié vergewe 
wat teen ons oortree; 
en laat ons nie in versoeking kom nie 
maar verlos ons van die Bose. 
Aan U behoort die koninkryk 
en die krag en die heerlikheid 
tot in ewigheid. 

Amen

Share via
Copy link
Powered by Social Snap