Op versoek van die redaksie deel ek graag met lesers ’n paar gedagtes rondom die liefde wat ek vir fotografie het en die genot wat ek uit my stokperdjie put. Ek dink dit is een van die mees bevredigende stokperdjies wat ’n mens kan beoefen, en aangesien daar soveel genres in fotografie bestaan, is daar iets vir elkeen se smaak en belangstelling.

My groot liefde en spesialisveld lê by makrofotografie aangesien daar ’n hele onsigbare wonderwêreld deur die makrolens ontvou wat vir die blote oog onsigbaar is. Maar ek sal in hierdie artikel poog om julle aan ’n verskeidenheid van genres bekend te stel en hopelik jul belangstelling in hierdie wonderlike stokperdjie te prikkel.

Hoopvol-stasie (Hooffoto)
Hierdie is waarskynlik die foto waarmee my fotografie afgeskop het. Toe ek en Georgene in Oktober 2012 met vakansie was, het ek hierdie foto by De Hoop, 10 km buite Oudtshoorn, geneem. Daardie jaar was dit droog in Oudtshoorn en die onweerswolke het vir die eerste keer in ’n lang tyd opgesteek en langverwagte uitkoms gebring. Die foto is in die rigting van Oudtshoorn geneem met die simboliek van hoop duidelik af te lei uit die De Hoop-stasie wat lankal nie meer in gebruik is nie. Hierdie foto is destyds met my eerste kamera, wat ’n intreevlakkamera was, geneem en het die prys gewen vir die beste foto van die betrokke maand in die koerant Beeld. Ek het later opgradeer na meer spesialistoerusting.

Oorlewing
Hierdie is ’n tipiese voorbeeld van straatfotografie. Volgens die puriste is daar baie reëls waaraan ’n foto moet voldoen ten einde te kwalifiseer as ’n goeie foto. Ja, ek dink daar is basiese reëls, maar vir my “werk” ’n foto of dit “werk” nie. Ek dink wanneer ’n foto die een of ander emosie by die kyker wakker maak, is die foto suksesvol, ongeag reëls.

Bejaarde man
Indien jy ’n “mense-mens” is, sal jy dalk belangstel in portretfotografie as genre. Wanneer jy iemand se karakter in ’n foto kan vasvang, het die foto geslaag. Om mense se emosies in ’n foto vas te vang, is ’n uitdaging, maar dit kan baie bevredigende resultate en unieke foto’s lewer.

In die (pers) wolke
Die woord fotografie beteken “om met lig te verf”. Daarom speel die kwaliteit van lig altyd ’n belangrike rol in ’n foto, soos hier gesien kan word. Die son skyn van agter af (trubeligting) op die bytjie en omhul hom in sagte lig, wat sy lyfie amper deurskynend laat vertoon.

Olifant
As jy ’n diereliefhebber is, kan dit ook sorg vir baie mooi en soms prettige foto’s. Ek het hierdie foto in die Indalu-wildreservaat tussen Mosselbaai en Albertinia geneem. Die foto het op 3 Maart 2021 in Die Burger verskyn onder die opskrif Welkom in die mooie Suid-Kaap.

Naaldekoker
Hier is die rede waarom ek so lief is vir makrofotografie. Dit ontsluit ’n absolute wonderwêreld wat vir die blote oog onsigbaar is. Is dit nie wonderlik nie om die volmaaktheid van die skepping tot in die fynste detail op hierdie manier te mag ervaar? Kyk net die oulike gesiggie en ragfyn vlerkies! Alhoewel ’n mens nie ’n duur kamera hoef te besit om fotografie oor die algemeen te geniet nie, is makrofotografie ’n spesialisveld wat ’n spesiale lens vereis. Maar indien jy regtig in hierdie genre belangstel, is dit die moeite werd om in die nodige toerusting daarvoor te belê.

Bejaarde blommeverkoper
Ek het hierdie bejaarde blommeverkoper in Jeffreysbaai afgeneem. Hy woon op straat en verkoop ’n paar blomme en skulpkuns om te oorleef. Die geheim van straatfotografie is dat die foto ’n storie moet vertel. Die foto moet vanself spreek sonder dat dit nodig is om die foto te verduidelik. Weer eens ontlok hierdie foto ’n emosie.

Harvard
Hierdie foto en die nadraai daarvan is wat vlerke gegee het aan my fotografie. Dit is ’n Harvard-vliegtuig wat ek by die Randse Lughawe afgeneem het. Beeld het op 31 Augustus 2018 hierdie foto as voorbladfoto gebruik met die bekendstelling van hul nuwe logo Beeld my wêreld. ’n Beeld-leser en voormalige SA Lugmag-vlieënier het die foto gesien en die vliegtuig aan sy registrasie herken as die vliegtuig waarmee hy 50 jaar gelede sy opleiding ontvang het en sy vleuels by die Sentrale Vliegskool op Dunnottar gekry het. Beeld het na aanleiding van hierdie foto en as deel van die bekendstelling van hul nuwe My wêreld-rubriek met my en Georgene ’n onderhoud gevoer en ’n artikel gepubliseer oor my liefde vir fotografie.

Graffiti
Ek het ’n baie interessante projek aangepak wat oor ’n paar weke gestrek het. Ek het deur Johannesburg gery en baie van die graffiti afgeneem. In hierdie tyd het ek waarskynlik digby 200 van hierdie tekeninge afgeneem. Die tekeninge strek vanaf fantastiese kunswerke tot sosiale en politieke kommentaar. Baie van die graffiti se simboliek verstaan ek nie, maar tydens my projek het ek onder die indruk gekom van die feit dat daar ’n hele subkultuur bestaan waarvan ons absoluut niks weet nie. Tydens die afneem van hierdie projek het ek opnuut bewus geword van die wonderlike gawes en talente wat mense uit God se hand ontvang. Let op die vensters aan die linkerkant van die gebou om ’n indruk te kry van die omvang van hierdie tekening. Die tekening beslaan ongeveer drie verdiepings.

Kleurvolle kosmos
Indien jy van blomme hou, kan jy altyd daarin ook spesialiseer, en met ’n bietjie kreatiwiteit kan jy pragtige foto’s met ’n gewone intreevlakkamera neem. Hier weerkaats die kosmosblommetjie van agter in die reëndruppels om ’n pragtige effek te gee.

Abstrak
Dalk is jy meer aangetrokke tot abstrakte fotografie. Met die eerste oogopslag lyk hierdie foto soos die een of ander sonsondergang. Maar dit is inderwaarheid ’n foto van een van Georgene se botteltjies parfuum. Die “son” is ’n borreltjie in die parfuum. Dié foto is ook met ’n makrolens geneem. Die abstrakte genre word net beperk deur jou eie verbeelding en hou groot potensiaal in vir die kreatiewe fotograaf.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap