Die woord gasvryheid is ’n samestelling van twee Griekse woorde, naamlik philo wat liefde beteken en xenia wat vreemdelinge beteken. Gasvryheid is ’n liefde vir vreemdelinge. Dit is ’n liefde wat ’n sterk emosie uitdruk. Dit is om ’n gevoel van goedgesindheid te hê en dit met woord en daad oor te dra.
As ons aan die woord gasvryheid dink, dink ons soms aan ’n feesmaal wat ’n gasheer of gasvrou vir sy of haar gaste voorberei. Ons dink ook aan gaste wat lag, jubel en kuier. Gaste wat vry voel om absoluut hulself te wees in ’n veilige, meelewende omgewing. Om gasvry te wees, beteken vir ons om jou hart, jou huis, jou siel oop te maak vir die mense wat jy oor jou drumpel nooi.
As gelowiges beteken dit vir ons om gasvry te wees asof dit in ons gene sit! Dat dit op elke vlak van ons menswees moet wys en uit ons moet straal. Dat ons mense welkom sal laat voel en dat hierdie goue strale hulle sal help om te genees van ’n gebroke hart. Dat ons daardie stukkies van hul siele wat dalk seergekry het, deur ons gasvryheid as gelowiges saam sal kan optel, sodat hulle weer voluit mense kan wees wat vir die Here wil werk, wat wil lag, groei en sy koninkryk wil uitbou. Hebreërs 13: 2 (NLV) stel dit so mooi: Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!
Ons gasvryheid moet ander mense laat voel asof hulle by ’n herberg gearriveer het. Soms is die gaste op ons lewenspad reeds moeg, uitgeput en smagtend daarna dat hul dors geles moet word deur ’n gasheer of gasvrou, iemand wat net weer vir hulle die pad sal wys wat verdof het deur hul lewensomstandighede. Dit is ons plig as gelowiges om vir hulle met die Here in ons hart net weer die rigtingwysers te wees. Soms moet ons daardie veilige hawe, daardie herberg wees; moet ons vir hulle ’n bed met die skoonste linne gee, vir hulle warm water in die skottel gooi en selfs self buk en die seer voete was. Dan moet ons ’n warm bord kos voor hulle neersit en hul glase vul met die beste oes se soetste wyn! Wanneer julle in ’n dorp aankom, moenie van huis tot huis gaan nie. Bly op een plek, eet en drink wat hulle aan julle voorsit. Moenie huiwer om gasvryheid te aanvaar nie, want dié wat werk, verdien hulle loon (Luk 10: 7, NLV).
Wanneer ’n mens Psalm 23: 5-6 (AFR1983) lees, kry jy maklik ’n traan in die oog, want hierdie is die perfekte voorbeeld, die perfekte gasheer! Dis waarna ons moet streef. Hierdie voorbeeld moet ons aanspoor om elke dag as gelowiges die ritme van die orkes, die trilling van elke snaar te hoor om, soos Hy, die sagste melodie vir ons gaste te wees. U laat my by ’n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ’n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae. So laat Hy ons aansit by ’n tafel wat ons nie verdien nie, word ons bedien soos eregaste wat ons nie is nie, maar omdat ons gered is deur die Lam, mag ons deel in die ewige feesmaal!
In ons gemeente se Damesbediening het ons opnuut besef watter verskil dit maak om te gee, om liefde te leef. Die woord gasvryheid leef in ons harte. Watter heerlikheid is dit om te sien hoe iemand ’n gehekelde kniekombersie ontvang, of ’n opgetooide melktert wat met liefde afgegee word, of ’n pakkie beskuit om jou dag mee op te kikker. Mag ons opnuut weer, deur gasvry te wees, dankbaar wees vir elke gawe, elke stukkie vreugde in ons hart, en mag ons die gaste in ons lewe waardeer. Mag ons diensbaar wees en ons gaste met harte vol liefde ontvang en hulle by ’n feesmaal laat aansit. Mag ons geseënd wees met al die gaste wat deel van ons geesteskring word, sodat hulle nie meer vreemdelinge sal wees nie, maar hartsmense. Al stap hulle net ’n kort entjie saam op ons lewenspad, of al is hulle altyd aan ons sy. Mag ons gasvryheid leef, uitstraal en voel, sodat ons eendag almal saam ons goue uitnodiging met ’n blye hart sal aanvaar en by die ewige feesmaal kan aansit!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
NHSV Streekvoorsitter: Pretoria (Poppie) en haar dogter (Surina)