Kom laat ons bid.  Hoe onskuldig kan so ’n versoek klink. En hoe omstrede!

Kom ons bid vir vrede en die onmiddellike beëindiging van Rusland se inval in Oekraïne. So vra die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK, of WCRC in Engels) in ’n brief aan al haar lidkerke die dag na Rusland se inval in Oekraïne. Kom ons doen dit saam met miljoene Christene – Lutherane, Metodiste, en ander kerke regoor die wêreld. Kom ons doen dit saam as Gereformeerde gelowiges, omdat Gereformeerdes ’n besondere sensitiwiteit het vir geregtigheid. Die WGGK se brief versoek ons gebede teen die agtergrond van 1 Petrus 3: 11, maar dit is dalk nog beter om verse 10 tot 12 aan te haal (Afr2020):

10 Immers, “wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef –
laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lippe daarvan om bedrog te spreek,
11 en laat hy afwyk van die kwaad, en die goeie doen,
laat hy vrede soek en dit najaag;
12 want die oë van die Here is op die regverdiges,
en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke,
maar die aangesig van die Here is teen dié wat verkeerde dinge doen.”

Die WGGK versoek verder hul lidkerke om ’n beroep op hul regerings te doen om alle moontlike nie-gewelddadige stappe te neem om Rusland te versoek om hul aanvalle in Oekraïne te staak, hul militêre magte terug te trek en hulle eerder tot konstruktiewe gesprek oor die konflik te wend.

In die media, en veral op sosiale media, sien ons hoe algemeen Rusland se inval in Oekraïne veroordeel word. En tog is daar verbysterende terughoudendheid en selfs kritiek op die “eensydige” veroordeling van Rusland ook – ja, en selfs in die Kerk.

Sommige mense rasionaliseer oor die onreg van die Russiese inval met verwysing na die VSA se invalle in Irak, Libië en Afganistan. Dat die VSA se invalle volledig skandalig en verwerplik was, regverdig helaas nie die Russiese aggressie teen Oekraïne nie. Dis soos om jou aangesig opsetlik weg te draai van “dié wat verkeerde dinge doen”.

Ander verwys na die ooreenkoms tussen Rusland en die Westerse moondhede na die einde van die koue oorlog in die 1990’s. Ja, inderdaad het die Weste onderneem dat NAVO nie ooswaarts in Rusland se rigting sou uitbrei nie en het verskeie Oos-Europese lande intussen lede van NAVO geword. Maar is dit nie wat soewereiniteit beteken nie – dat elke land self kan besluit met wie hy watter alliansies wil sluit nie? En die argument dat Oekraïne se moontlike aansluiting by NAVO vir Rusland ’n vreesaanjaende bedreiging sou inhou, is tog ’n opsigtelike drogredenasie. ’n Parallel uit ons eie geskiedenis sou die redenasie wees dat dit eintlik die destydse alliansie tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Vrystaatse Republiek – teen die agtergrond van die Jamesoninval en die sametrekking van derduisende Britse troepe op die grense van die Boererepublieke – was wat so ’n eksistensiële bedreiging vir die Britse Ryk ingehou het dat Brittanje nie anders kon nie as om die Boererepublieke in te val. Dit is “om bedrog te spreek” soos 1 Petrus 3: 10 sê.

Nog ander redeneer dat dit twee partye kos om oorlog te maak (it takes two to tango). Ja, seker. Maar wie val aan en wie verdedig? Wie se tenks is op wie se grondgebied? Wie se missiele skiet wie se skole, hospitale, woonstelle flenters? Wie se infrastruktuur en ekonomie word vernietig, en wie se burgerlikes sterf? Wie se burgers (reeds meer as twee miljoen van hulle) vlug? Hoekom vlug al hierdie mense met die minimum bagasie terwyl hulle hul huise, besittings en troeteldiere agterlaat om deur verowerende soldate gestroop en doodgemaak te word?

En dan is daar diegene wat nie wil bid vir die mense van Oekraïne nie, of minstens nie sonder om te bid vir die mense van Rusland nie. Ja, dis reg: Bid vir die mense van sowel Rusland as Oekraïne. Maar terwyl jy bid vir die mense van Rusland wat met ’n koppie koffie in die hand voor die TV sit en na Poetin se propaganda kyk, bid tog maar spesiaal vir die burgers van Oekraïne wat sonder water en elektrisiteit in ’n snerpend koue kelder sit terwyl hulle die gedreun van grofgeskut hoor. Ja, en bid tog maar in die besonder vir die kinders wat saam met hul ma’s vlug terwyl hulle nie weet of hulle hul pa’s (onderwysers of prokureurs of fabriekswerkers) weer sal sien nie.

Om in sulke omstandighede stil te bly oor onreg, is self onreg. Om in sulke omstandighede nie vir die lydendes te bid nie, is heiligskennis.

Mag die oë van die Here wees op die regverdiges,
en sy ore oop vir hul gebedsversoeke,
mag die aangesig van die Here wees teen dié wat verkeerde dinge doen.

(Hierdie teks is ’n persoonlike meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

af
af
Deel met behulp van
Copy link