Prof PA (Piet) Geyser is Saterdag 29 Augustus 2020 in die ouderdom van 76 jaar na ’n uitmergelende siekbed oorlede.

Piet Geyser – dominee, doktor, professor in Nuwe Testament – was ’n wyse mens, ’n volwasse grootmens. ’n Groot mens, ruim en oop. By hom kon jy mens wees, selfs ’n vrou of ’n kind. Want hy kon ’n vrou en ’n kind soos ’n mens behandel.

Sy eie wysheid en waarheid, sy eie woorde, beskryf hom die beste. “Jesus van Nasaret is vir my ’n konstante verleentheid. Ek is ’n fan.” Vir hom was die klem op Jesus-die-mens, wat Hom voorturend vasgeloop het teen mense en hul maniere van doen. Dit is moeilik om in sy voetspoor te probeer volg. Maar Piet kon nie anders nie. Hy was ’n bewonderaar, ’n volgeling, ’n dissipel. “Ek is Bart Nel van altyd af en ek is nog hy,” het hy dikwels gekonstateer. Hy noem homself ’n flat character. In die verhaalkunde is dit ’n ongekompliseerde karakter. ’n Mens weet waar jy met hom staan, want hy weet wie hy is. Hy is getrou aan homself. Integriteit, egtheid, heelheid.

“Jy moet genoeg vir iemand omgee om vir hulle die waarheid te sê,” was sy uitgangspunt met menseverhoudings. Want die waarheid is soms ongemaklik. Die ongemak doen jy jouself nie aan, tensy jy regtig omgee nie. Die waarheid maak heel en vry. Dit is ’n groot geskenk vir die ander. “Die vloek van weet,” is hoe hy insig wat dieper gaan as die gewone oppervlakkige vanselfsprekendhede beskryf het. ’n Wyse mens dra swaar aan die vloek, maar sou dit nie anders wou hê nie.

“L’Chaim”, was sy heildronk as hy ’n glasie geklink het: op die lewe in Hebreeus. Vir die lewe is humor nodig en, in die woorde van Zorba, die Griek: You need a little madness.

Benewens Jesus van Nasaret, was Piet ook ’n fan van Elvis Presley en sy musiek. Met die uitdra van sy kis moes Elvis se Glory, glory, hallelujah gespeel word, het hy gelag en aangehaal:

So hush little baby, don’t you cry.
You know your daddy’s bound to die.
But all my trials, Lord, will soon be over.
Glory, glory, hallelujah.
His truth is marching on.

Soos die Here se waarheid voortmarsjeer, sal Piet Geyser se wysheid en waarheid voortleef in en deur almal wat die voorreg gehad het om hom te ken.

Prof Yolanda Dreyer, UP

*** Prof Piet Geyser is in Februarie 1968 georden en het gemeentes Pretoria-Suid, Delareyville, Pollakpark-Springs en Noordelike Pretoria bedien. Hy was direkteur by KITAL, en sedert 1997 by UP se teologiese fakulteit betrokke, eers as dosent in Bybelkunde, en later as hoogleraar, Hy het in 2004 by UP emeritaat aanvaar, en het daarna in Gemeente Pretoria-Oos en vir ’n jaar as redakteur van Die Hervormer gedien. In 2009 het hy by die NHKA geëmeriteer, en sedert 2014 was hy betrokke by Gemeente Meyerspark. Ons innige meegevoel gaan aan sy vrou, Louise, hul dogters Charnelle, Talita en Petroné, en al sy naasbestaandes, kollegas en vriende.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap