Prof Theuns Dreyer (emeritus) is gedurende die nag van 15/16 November oorlede. Hy sou op 8 Desember 74 jaar oud geword het.

In die woorde van prof Wim Dreyer in sy huldeblyk in die 2021 Almanak: Waar begin ’n mens om met enkele woorde hulde te bring aan iemand soos prof Theuns Dreyer? Die hemelse Vader het hom met ’n skerp intellek, menslikheid, inherente leierskapsvaardighede, akademiese integriteit en diep geloof geseën en toegerus. Hierdie gawes uit die Vaderhand het hy onbaatsugtig en met toewyding tot voordeel van die Hervormde Kerk aangewend.

Nadat hy in Junie 1970 georden is, het hy gedien in gemeentes Newlands(Johannesburg), Noordrand/Krugersdorp-Noord, Noordrand, Hartebeestpoort, en was hy ook Weermagkapelaan in Voortrekkerhoogte. Hy was sedert 1984 hoogleraar aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Teologie en het in 2000 die eerste hoof van die Hervormde Teologiese Kollege geword. Na sy emeritaat in 2011 het hy steeds by Montana (benoeming) en Rustenburg-Suid (werkooreenkoms) diens gedoen, en kosbare werk gelewer met die Kerk se Welstandsprogram.

Die roudiens op Vrydag 20 November was vanuit Gemeente Montana, waar hy die afgelope jare as pastorale hulp gewerk het. Ons innige simpatie gaan aan sy kinders, dr Anet Dreyer-Krüger (Rustenburg-Suid) en ds Thomas Dreyer (Wapadrant), sy kleinkinders en ander familie.

Op die foto is prof Theuns saam met sy seun en dogter tydens 2019 se AKV.

(Lees ook elders in hierdie uitgawe prof Bieks Beukes se gedenkskrif oor sy verbintenis met prof Dreyer.)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap