
Geagte Redaksie
Die onverkwiklike kerkskeuring waartydens ’n groep gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) weggebreek het om die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes (GHG) tot stand te bring, is hopelik nou iets van die verlede. Dit is my vaste oortuiging dat skade aan die kerk van Christus oor al die eeue telkens aangerig is deur priesters, biskoppe en predikante. Selde ooit het gewone lidmate kerkskeuring veroorsaak.
Die NHKA het verliese gely: verlies aan ’n groot aantal lidmate, verlies aan inkomste, verlies aan kerkgeboue en pastorieë. Die Kerk het eintlik as instituut hierdie verliese gely, maar dit bied aan ons die geleentheid om nou waarlik kerk van Christus te wees.
Na my beskeie mening moet die NHKA nie voortgaan met ’n appèlsaak nadat die hof uitspraak gegee het dat die kerkgeboue en pastorieë wat tans onder beheer is van die GHG, wettig aan hulle behoort nie. Ons moet wat gebeur het met hartseer aanvaar, maar verder werk en leef as kerk van Christus. Ons moet dankbaar wees dat die evangelie ook in die GHG verkondig word. As Christelike kerk is dit gepas dat ons ook vir die GHG sal bid dat nie hul eie verlede nie, maar die verlede wat hom op Golgota afgespeel het, die grondslag sal wees vir hul bestaan as kerk.
Prof APB Breytenbach, Emeritus/Vanderkloof