Die 74ste Algemene Kerkvergadering (AKV) van die Hervormde Kerk wat in Oktober 2025 in Midstream vergader het, het ’n Geloofsverklaring uitgereik as getuienis teenoor die owerheid en al die inwoners van Suid-Afrika. Dit dien ook as riglyn vir die Kerk se verstaan van ons roeping, dienswerk, teologiese arbeid en verkondiging.

Die AKV het deur middel van die Geloofsverklaring getuig van die hoop wat in ons leef, en die inwoners van Suid-Afrika tot bekering en geloof in God Drie-enig opgeroep. 

Geloofsverklaring 2025 bestaan uit ses artikels. In vorige aflewerings is Artikel 1 (oor die Woord van God) en Artikel 2 (oor die Koninkryk van God) bespreek. In hierdie artikel kyk ons na Artikel 3 en 4, wat handel oor die Kerk.

Die 74ste AKV (2025) het die volgende stelling as deel van Geloofsverklaring 2025 aanvaar wat iets verwoord van die Hervormde Kerk se verstaan van kerkwees:

Die Kerk is ’n gemeenskap van gelowiges afgesonder vir diens aan God en mekaar.

As Kerk en kinders van God is ons mekaar se broers en susters in die geloof, en versorg ons mekaar in liefde.

Ons getuig met ons kerkwees dat die Kerk aan Christus alleen behoort.

Die Heilige Gees help ons om gelowig en gehoorsaam aan God te leef, in verwagting van die wederkoms.

Die gesprek in die Hervormde Kerk oor ons verstaan van kerkwees en kerkbegrip het veral na die stormagtige 64ste Algemene Kerkvergadering (1995) in omvang en intensiteit toegeneem. Met die opstel van ’n nuwe kerkorde het die debat aanvanklik gesentreer om die afskaffing van Artikel III van die Kerkwet (wat lidmaatskap van die Kerk tot blanke persone beperk het) en die aanvaarding van Ordereël IV van die Kerkorde (wat die Hervormde Kerk gedefinieer het as ’n volkskerk vir Afrikaners). Daarna het die behoud of die afskaffing van die begrip volkskerk die gesprek op verskeie AKV’s oorheers. Die kerkbegrip van die Hervormde Kerk is vir ’n geruime tyd deur die begrippe volkskerk en notae ecclesiae bepaal, soos dit verwoord word in die Nederlandse Geloofsbelydenis. Daarvolgens is die kenmerke van die ware kerk die suiwer verkondiging van die Woord, die regte bediening van die sakramente en handhawing van kerklike dissipline.

Die tradisionele verstaan van kerkwees het om verskeie redes problematies geraak. Nie net is ’n begrip soos volkskerk toenemend aan kritiek blootgestel nie, maar dit lei ook tot ’n na-binne-gerigte en institusionele kerkbegrip wat fokus op die instandhouding van bestaande kerklike strukture. Sedert die begin van die 21ste eeu, het daar ’n bepaalde ekklesiologiese verskuiwing in die Hervormde Kerk plaasgevind wat deur die besluite van die AKV verwoord is. Die 69ste AKV (2010), 70ste AKV (2013), 71ste AKV (2016) en 72ste AKV (2019) het ingrypende besluite oor kerkwees in die 21ste eeu geneem. 

Verskeie AKV’s het die fokus laat val op die Kerk as volk van God, huisgesin van die Vader, liggaam van Christus en tempel van die Heilige Gees. Die organiese eenheid tussen Christus en die kerk is duidelik verwoord. As deel van die ekklesiologiese verskuiwing is kennis geneem van mense se soeke na die sin van die lewe en spiritualiteit. Teen hierdie agtergrond was die formulering van ’n enkele metafoor om uitdrukking te gee aan ’n vernuwende kerkbegrip onontbeerlik. Die keuse het geval op kerkwees in Christus se voetspore. Dit verwoord iets van ’n Christosentriese ekklesiologie en ’n sterk fokus op dissipelskap, diensbaarheid en getuienis. Die heel eerste Christene het bekend gestaan as mense van die Weg – Jesus Christus is die Weg, en die Waarheid en die Lewe. In Christus se voetspore verwoord iets van hierdie geloofsreis. Daar word onderskeid getref tussen ’n institusionele en organiese verstaan van kerkwees. Organiese kerkwees impliseer ’n diep bewussyn van die organiese eenheid tussen Christus en sy kerk, ’n groter fokus op die missio Dei.

Die begrip missio Dei dui op:

  • God Drie-enig wat self besig is om sy skepping te transformeer en te verlos;
  • Die Kerk as ’n geloofsgemeenskap wat deelneem aan God se handelinge deur te getuig van Jesus Christus;
  • Die verkondiging van die evangelie deur Woord en sakrament;
  • Die Kerk as geloofsgemeenskap wat dissipels van Jesus Christus word.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Artikel 3 van Geloofsverklaring 2025 verwoord is. Dit verteenwoordig ’n bepaalde verstaan van die Kerk, as ’n gemeenskap van gelowiges, net soos ons elke Sondag in die erediens bely, wanneer die gemeente die Twaalf Artikels met oortuiging bely. Die gemeenskap van gelowiges is ook afgesonder vir diens aan God. Die woord afgesonder ken as heilig, die taal van die Belydenis van Nicea: Ek glo in een, heilige en algemene kerk…

Hierdie gemeenskap van gelowiges dien mekaar as broers en susters, en leef as God se kinders, as God se familie en huisgesin. As broers en susters in die geloof versorg ons mekaar in liefde. Daarmee word barmhartigheid as een van die merkers van kerkwees op die voorgrond geskuif. Die denkskuif wat hier verwoord word, dui daarop dat die Kerk nie meer in terme van kerklike strukture (institusioneel) verstaan word nie, maar eerder as ’n lewende en dinamiese geloofsgemeenskap (organies). Dit verteenwoordig ’n skuif van ’n institusionele na ’n organiese kerkbegrip.

Die stelling van Geloofsverklaring 2025 dat die Kerk aan Jesus Christus alleen behoort, moet gelees word teen die agtergrond van die Barmen Verklaring, wat die Duitse Belydende Kerk voor die Tweede Wêreldoorlog verwoord het. Die Kerk het in daardie omstandighede dit nodig gevind om hul vryheid teenoor die owerheid en politieke mag te verklaar. Die owerheid het die Kerk vir politieke doeleindes misbruik, en die burgerlike godsdiens het ’n wesenlike gevaar geword. Burgerlike godsdiens gebeur wanneer die Kerk as verlengstuk van ’n politieke party dien, of as die draer en beskermer van ideale van die volk beskou word. In Suid-Afrika is burgerlike godsdiens, en die misbruik van die Kerk vir politieke doeleindes, ’n wesenlike gevaar. Die enigste teenvoeter teen burgerlike godsdiens is om onomwonde te verklaar: Die Kerk behoort aan Christus alleen; Hy is die enigste Hoof en Heer van die Kerk.

Geloofsverklaring 2025 verwoord ook iets van ons verstaan van die Kerk as ’n geloofsgemeenskap wat deur die Heilige Gees gelei word, en leef in die verwagting van die wederkoms. In teologiese taal word die Kerk beskryf as ’n pneumatologiese en eskatologiese gebeure. Die Kerk is nie staties nie, maar gebeur telkens waar die Woord onder leiding van die Heilige Gees verkondig word, en mense deur die werking van die Heilige Gees gelowig word. Die gebeure-karakter van die Kerk deurbreek ook die institusionele en statiese verstaan van die Kerk.

Geloofsverklaring 2025 praat in Artikel 4 oor die Roeping van die Kerk. Dit word soos volg verwoord:

God het die Kerk geroep en opdrag gegee om die werk van Christus voort te sit.

Die Kerk doen dit deur God se genade met Woord, lied en sakrament te vier; teenoor alle mense te getuig dat Jesus Christus die Here en die enigste hoop vir die wêreld is; en in liefde aan ons naaste diensbaar te wees.

Met hierdie formulering word die Christosentriese dimensie van kerkwees beklemtoon. Die Kerk is nie besig met eie belange, agenda of oorlewing nie, maar met die koninkryk van God. Die Kerk is nie die koninkryk van God nie; die Kerk kan alleen getuig van die koninkryk van God wat gekom het en steeds kom. Christus het mense tot bekering geroep omdat die koninkryk naby gekom het (Mark 1: 14-15). Die roeping van die Kerk is niks anders nie.

Die Kerk getuig dat Jesus Christus die hoop vir die wêreld is. Die Kommissie van die AKV het reeds in 2002, onder leiding van prof Theuns Dreyer as voorsitter, hierdie visie geformuleer, en dit is steeds die visie van die Hervormde Kerk: Jesus Christus, die evangelie, en geloof in God Drie-enig is die enigste werklike hoop vir die wêreld. Daarvan getuig ons en dit verkondig die Kerk.

So is Geloofsverklaring 2025 ook ’n kragtige getuienis dat die evangelie hoop bring vir ’n wêreld en aarde wat deur menslike geweld en sonde vernietig word. 

(Prof Wim Dreyer is emerituspredikant en leraar van Gemeente Outeniqua)