Die eerste Algemene Kerkvergadering het van 2 tot 18 November 1824 in Kaapstad sitting geneem. Deur die loop van 2024 herdenk die Hervormde Kerk hierdie historiese gebeurtenis twee eeue gelede.

Die 1824 AKV moes ’n kerkorde opstel, sodat die Kaapse kerk selfstandig en onafhanklik van die Hervormde Kerk in Nederland kon funksioneer. Volgens die amptelike notule het die AKV soos volg besluit:

De Synode heeft besloten, dat den Kerkenorder door den Heer Commissaris Generaal Mr. J.A. De Mist, in het jaar 1804 ontworpen, beschouwd zal moeten worden als de grondwet der Hervormde Kerk in deze Volksplanting, van dewelke deze latere algemeene bepalingen van Kerkbestier slecht modficatien en byvoegzels zyn, uit de veranderde gesteldheid der tyden en omstandigheden geboren… Het Bestuur der Hervormde Kerk word uitgeoefend, Gemeentelyk, Ringswyze en Synodaal.

Die titel van die Algemeen Reglement wat die AKV in 1824 opgestel het, lees soos volg: Algemeen Reglement voor het bestuur der Nederduitsche Hervormde Kerk, in Zuid-Afrika, ontworpen in de Algemene Kerkvergadering, gehouden binnen de Kaapstad, op den 2 November, en volgende dagen van het jaar 1824.

Dit is belangrik om die titel van die Algemeen Reglement van 1824 reg te verstaan. Allereers is dit duidelik dat die naam as “Hervormde Kerk” vasgestel is. Dit blyk uit die herhaaldelike gebruik van “Hervormde Kerk” in die notule van die AKV en die Algemeen Reglement van 1824, asook korrespondensie tussen die gemeentes. Die voorafgaande  “Nederduitsche” was nie bedoel om deel van die naam te wees nie, maar eerder ’n aanduiding van die taal wat in die Kaapse kerk gebruik sou word. Dit is merkwaardig dat taal só prominent figureer, maar is te verstane gesien die verengelsingsbeleid van die Britse koloniale owerheid. Die verengelsing van die staatsdiens, onderwys en regspraak het teen 1824 al ver gevorder. Die predikante wat van Skotland na die Kaap beroep is, was deel van goewerneur Charles Somerset se strategie om die Kaap te verengels.

Ook die “Zuidelike-Afrika” wat in die titel van die Algemeen Reglement verskyn, was nie deel van die Kerk se naam nie, maar bloot ’n geografiese aanduiding. Hierin het die AKV die voorbeeld van die Hervormde Kerk in Nederland gevolg, wat net agt jaar tevore ’n Algemeen Reglement in gebruik geneem het. Die Nasionale Sinode van Den Haag het op 3 Julie 1816 vergader om ’n nuwe kerkorde goed te keur, met die titel Algemeen Reglement voor het bestuur der Hervormde Kerk in het Koningrijk der Nederlanden. Nadat die Algemeen Reglement in 1816 aanvaar is, het die kerk in Nederland amptelik as die “Hervormde Kerk” bekend gestaan.

Die naam “Hervormde Kerk” is nie lukraak gekies nie. Dit is algemeen gebruik, en is in verskeie amptelike dokumente gebruik. Een van die belangrikste is die Psalmberyming wat in 1776 in Nederland verskyn het. Die titel van die liedboek was Het boek der Psalmen, nevens de Gezangen bij de Hervormde Kerk van Nederland in gebruik. Die naam “Hervormde Kerk” verskyn in die liedboek se Acte van Consent, geteken deur JJ Kessler onder die amptelike wapenskild van die Stad Amsterdam, soos gemagtig deur die Nederlandse parlement.

Die AKV het in 1824 besluite geneem wat bepalend was vir die voortgang van die reformatoriese tradisie en gereformeerde kerke in Suid-Afrika. Wanneer kerklike vergaderings rigtinggewende besluite neem, is dit gewoonlik die resultaat van lang en moeilike prosesse. Kerklike besluite moet in gehoorsaamheid aan God geneem word, en dit moet die welwese en voortgang van die kerk dien. Goeie besluite verg gebed, noukeurige studie van die Woord, kennis van vorige besluite en die gebruike van die Kerk. Dit is nie ’n meganiese proses nie, maar die resultaat van intense worsteling met die vraag: Wat is die regte besluit in hierdie omstandighede? Wat verwag God van ons?

Sedert 1824 moes die AKV dikwels moeilike besluite neem. Terugskouend kan die besluite positief of negatief beoordeel word. Besluite is geneem oor die selfstandigheid van die Hervormde Kerk, die verhouding met die owerheid, teologiese opleiding, sending, apartheid, die vrou in die amp, homoseksualiteit, kerkwees in die toekoms, en vele meer. Besluite wat die AKV geneem het, weerspieël baie dikwels die kronkelgang van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en die vraagstukke waarmee die samelewing gekonfronteer word. Dit weerspieël ook iets van die geloofsworsteling en aanpasbaarheid van die kerk; om kerk te wees en te bly te midde van die veranderende sosio-politieke en ekonomiese landskap van Suid-Afrika.

Om die regte besluit te neem, verg onderskeidingsvermoë en dapperheid. Maklike besluite verander nooit die status quo nie. Omstandighede verander altyd, en stel die kerk voortdurend voor die eis om sigself krities te beoordeel en te hervorm. ’n Hervormde Kerk moet altyd weer hervorm (ecclesia reformata semper reformanda), en dit verg dapper besluite. In die konsistorie van die Grossmünster in Zürich, is ’n bekende spreuk van die Switserse kerkhervormer Zwingli verewig: Tut um Gottes willen etwas tapferes (om Gods wil, doen net iets dapper). Die ander beroemde Switserse teoloog, Karl Barth, het weer by geleentheid ons daaraan herinner dat die kerk altyd 30 jaar te laat dapper word.

Ons het die voorreg om 200 jaar van kerkwees te gedenk. Mag die worstelgang van die Hervormde Kerk die afgelope twee eeue ons inspireer om gelowig en gehoorsaam aan Gods Woord, en met dapperheid, die toekoms tegemoet te gaan.

(Prof Wim Dreyer is voorsitter van die Kommissie van die AKV)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap