Foto byskryf: Di Jan van Staden, Gert van Staden, drr André Ungerer en Christo Viljoen

Gemeente Bronkhorstspruit het die naweek van 6-7 April 2019 hul stigting gevier. Hoewel die amptelike stigtingsdatum aangegee word as in 1911, bestaan die gemeente reeds sedert 7 Februarie 1869. Dit beteken dat die gemeente vanjaar 150 jaar oud is.

Die gemeente het aanvanklik bekendgestaan as die Konsulentgemeente van Pretoria. Daar is ’n lang stuk geskiedenis wat ’n merkwaardige plek ingeneem het in die gemeente se ontstaan. Sonder om te diep te delf in ou geskrifte en gemeentelike notules, word net kortliks melding gemaak van die gebeure rondom die totstandkoming van die Nederduitsch Hervormde Kerk se Gemeente Bronkhorstspruit.

Die stigting van die Konsulentgemeente van Pretoria is op die Algemene Kerkvergadering van 7 Februarie 1869 goedgekeur. Tydens kerkbyeenkomste en vergaderings tussen 1860 en 1880 om kerkvereniging te bewerkstellig, was daar baie omstredenheid en onderhandelings. In hierdie tydperk het die Konsulentgemeente van Pretoria egter besluit om nie deel te word van die voorgestelde Verenigde Kerk nie.

Die middelpunt van die nuutgestigte gemeente was naby Bronkhorstspruit op oudl MJ Prinsloo se plaas, Witfontein, waar ’n klein sink kerkgebou opgerig is.  Hierdie gemeente en kerkie staan alom bekend as die ark van die Nederduitsch Hervormde Kerk. Die volgende woorde uit ’n ou notule is bewys van die mense se behoefte om onafhanklik te funksioneer:  …gevoelt ons integendeel tevreden te blijven het geen wij was en nu nog ben, namelijk Nederduitsch Hervormd… Uit hierdie besluit van ’n klein groepie hardkoppige kerkraadslede het ’n groot gemeente ontstaan, wat later selfs moes uitbrei na nog gemeentes, omdat daar meer lidmate was wat die sentiment gedeel het.

Ná 150 jaar het Gemeente Bronkhorstspruit hierdie geleentheid gevier met ’n heerlike basaar. Sekerlik sonder ossewaens en perde en sinkgeboutjies, maar wel met ’n pragtig versierde teetuin, naaldwerk en alles wat ’n basaarganger se hart begeer. Outydse pap-en-kaiings, pannekoek, vetkoek en kerrie-en-rys. Oorgenoeg opregte basaarpoeding en vars groente en gemmerbier. Die Boerboel-skou is al sinoniem met die Hervormde Kerk se basaar en dié jaar se opkoms was weer eens ’n aanduiding van hoe gewild dié enorme waghonde is.

Ons het die feesvieringe op gepaste wyse afgesluit met ’n spesiale kerkdiens op Sondag 7 April. Ds Jan van Staden se preek met die tema Van elke Nuwejaarsdag af tot Oujaarsdag toe … genade en verantwoordelikheid, met sy Skriflesing uit Deuteronomium 11: 8-12, het ’n boodskap van hoop en belofte aan die gemeente gebring. Vers 9 van hierdie gedeelte, As julle gehoorsaam is, sal julle baie lank bly woon in die land wat die Here met ’n eed beloof het om aan julle voorvaders en hulle nageslag te gee. Dit is ’n land van melk en heuning, was gepas vir hierdie besonderse geleentheid.

Dr André Ungerer het namens die Kommissie van die AKV aan die gemeente ’n groeteboodskap gebring, onder andere in die vorm van ’n klip met ’n kragtige boodskap daarop gekerf uit Josua 24: 27, Sien julle dié klip? Dit sal ons gemeente en sy nageslag op konkrete wyse herinner aan God se getrouheid en leiding.

Saam met baie spesiale gaste, onder andere dr Riaan Steyn wat soos altyd uitstaande orrelspel gelewer het om die geleentheid net nog meer spesiaal te maak, asook ds Schalk en mev Lettie van Schalkwyk, ds Gert van Staden en dr Christo Viljoen, was daar ’n gevoel van groot dankbaarheid om hierdie dag te kon vier. Die verlede is vasgelê, die toekoms lê onbekend, maar gelukkig is dié met vertroue stewig in Gods hand.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap