Die kerkraad van Gemeente Pinetown

Sedert 27 November 2022 is ons effektief ’n nuwe gemeente van Jesus Christus. Vir ons en ons gemeenskap is dit ’n nuwe hoofstuk in die geskiedenis van Christus wat sy kerk bou – steeds op daardie selfde fondament van die apostels en die profete met Christus Jesus as ons hoeksteen, in wie ons opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

Ons bly amptelik dieselfde twee afsonderlike Kerke wat Christus se lig in die westelike dele van Durban laat skyn het – die Nederduitsch Hervormde Kerk Pinetown sedert 1985 en die Gereformeerde Kerk Pinetown sedert 1986. Maar in praktyk leef en bedien, groei en getuig ons nou saam as een geloofsgemeenskap, funksioneer ons as een gemeente – Gemeente Pinetown, deel van die GKSA en van die NHKA.

Nie een van die Kerke se lidmate of kerkraad was op soek daarna nie, ons is oortuig dat dit die Here is wat dit tussen ons, en met ons, bewerkstellig het. Vir jare het party mense wel al gewonder waarom twee gemeentes wat die Bybel en belydenisskrifte dieselfde verstaan, dan so apart en eenkant van mekaar aanbid. En dit terwyl ons lewens saam vervleg is in dieselfde skole, vriendekringe en samelewing. Maar nou is dit anders…

Hoe het dit gebeur?

Dit het begin met twee vrae – die Hervormde ouderling wat vra of die Gereformeerde predikant ook by hulle sou kom preek aangesien die las van leespreke nét te veel geraak het, en die predikant se vraag waarom ’n mens dieselfde preek sou preek – anderhalfuur na mekaar, skaars 1 km van mekaar aan twee gemeentes wat God en sy Woord dieselfde verstaan.

Die Hervormers het die eredienste by die Gereformeerde Kerk begin bywoon as ’n toetslopie, terwyl ouderlinge saam begin dink en praat het. Toe bevestig is dat ons dieselfde erns maak met God se Woord en ons gereformeerde belydenisskrifte, het beide gemeentes in aparte gemeentevergaderings besluit dat die kerkrade moet voortgaan om ’n ooreenkoms vir ’n langer termyn in plek te sit. Kommissies van beide Kerke het begin werk, met die Gereformeerde predikant as adviseur, en die voorstelle is so stuk-stuk deur die kerkrade oorweeg. Advies oor kerkreg is ingewin wat die kerkrade oorweeg het en party daarvan opgeneem het en ander nie.

Na sowat ses maande is die ooreenkoms met die gesamentlike gemeente gedeel wat dit eenparig ondersteun het. Die klassis van die Gereformeerde Kerk is genader vir advies en die ring van die Hervormde Kerk vir goedkeuring. Met beide vergaderings se ondersteuning, het Pinetown se Gereformeerde Kerk en Hervormde Kerk op 27 November 2022 formeel ooreengekom om voortaan in praktyk as een gemeente te funksioneer terwyl hulle amptelik twee afsonderlike Kerke bly.

Wat was belangrik as fondasie?

Daar is ’n paar baie belangrike beginsels wat in plek moes wees om so te kon saamkom.

Eerstens was dit belangrik om erns te maak met die oproep dat gelowiges die eenheid wat ons met die Drie-enige God het, ook met mekaar moet ervaar. Ons eenheid sal aan die wêreld getuig van Christus se koms en van God se liefde vir sy gemeente. Tweedens dat ons die Bybel as God se Woord van gesag aanvaar met dieselfde grammaties-historiese interpretasie daarvan, en dat die drie gereformeerde belydenisskrifte in alles met die Woord ooreenstem en in die gemeente so gehandhaaf word.

Ander hoekstene was meer prakties van aard. Ons bedien dieselfde breë gemeenskap, beide gemeentes was in beproewing om selfstandig volhoubaar te bly, en dat beide kerkverbande kerkregtelike ruimte bied vir samewerking. Die selfstandigheid van die kerkrade (ouderlinge) en gemeentes is deurentyd sterk gehandhaaf, met die predikant geadviseer om binne die beginsels van die Woord en die onderskeie Kerke se kerkreg te bly en om die finale bewoordings aan te beveel.

Die kerkgeboue is kwartaalliks gewissel totdat beide sodanig ingeleef is dat ’n keuse gemaak kon word op grond van funksionaliteit en nie op grond van persoonlike voorkeure en herinneringe nie.

Gemeente Pinetown se ooreenkoms

Gewoonlik behels bedieningsooreenkomste tussen kerke dat die predikant van een gemeente ook die ander gemeente bedien. Dit behels meestal net prediking, maar soms ook pastorale sorg, en is meestal gekoppel aan die predikant se dienstyd.

Gemeente Pinetown het ’n ander rigting gevolg wat waarskynlik meer uniek is, deur  langtermynsamewerking van die gemeentes self. Dit blyk veral in die ooreenkoms van hoe daar te werk gegaan sal word indien daar ’n nuwe predikant beroep sou word – sonder om enige van die twee kerkverbande se beginselgrense daarvoor te oorskry en sonder om die gemeenskaplikheid in die gemeente te bedreig.

In party sake kon totale eenheid bereik word, soos om een gemeenskaplike diakonie te hê, sonder onderskeid van kerkverband. Die roeping in die dienste van predikant, ouderling en diaken tussen die Kerke oorvleuel grootliks en ’n werkbare ooreenkoms is bereik oor die kleiner verskille in praktiese verantwoordelikhede. In ander sake moes toegewings van beide kante gemaak word, soos die werkruimte van vroue as ouderlinge van die Hervormde kant.

Waarheen verder?

Die proses om ’n nuwe weg te vind en ons voete daarop te vind, het heelwat interne energie gebruik. Maar hierdie Godswonder – soos een ouderling dit beskyf het – het begin om vrug te dra. Die samehorigheid en vreugde van ’n nuwe gemeente wat as’t ware oornag verdubbel het in getalle, is duidelik waarneembaar in eredienste. Tydens sosiale funksies is daar nie meer ’n onderskeid van wie sit waar en wie kuier met wie nie. Soos een suster dit gestel het: Ek het nooit in my wildste drome verwag dat dit so maklik en so lekker sou wees nie. Vir die eerste keer in jare kon selfs die finansies op 0,2% na klop vir 2023/’24. Soos wat ons saam in die samelewing is, soveel meer is ons nou saam in aanbidding van ons Here.

Ons is opgewonde oor wat die Here met ons gedoen het. Ons bly wel besorg oor ons roeping om die gereformeerde leer, die wonderlike waarheid van Christus se evangelie, in ’n gemeenskap te vestig wat steeds al minder Afrikaans en al meer Engels en anderstalig word.

(Ds Andries Burger is die Gereformeerde predikant in Gemeente Pinetown)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap