Die bekende frase beauty lies in the eye of the beholder het bekendheid verwerf danksy die Ierse skrywer, Margaret Wolfe Hungerford, wat dit in haar roman, Molly Bawn, wat in 1878 gepubliseer is, gemunt het.

Lank voor Hungerford se roman gepubliseer is, het William Shakespeare in Sonnet 130 reeds verwys na sy geliefde wat nié helder oë soos die son gehad het nie, nié lippe wat so rooi soos koraal was nie. Haar hare het soos drade aan haar kop gehang. Haar wange was vaal, nie rosig nie. Haar reuk was nie die woorde van bekende digters waardig nie. Haar stem het nie soos strelende musiek geklink nie. Haar manier van stap het nie positiewe gevoelens by hom wakker gemaak nie. Son, koraal, blosende wange, elegante treë en ’n strelende stem was tipiese terme waarmee jongmanne in Shakespeare se tyd hul geliefdes beskryf het. Sonnet 130 eindig met die verklaring van die skrywer dat sy geliefde vir hom kosbaarder as almal was, meer as diegene oor wie se skoonheid daar sogenaamde leuens geskryf is. Beauty in the eye of the beholder.

Niemand twyfel daaraan dat die waarneming van enige toneel, situasie of persoon in ‘n mindere of meerdere mate deur ons eie agtergrond en voorkeure gevorm word nie. Ons sal dus waarskynlik nooit suiwer objektief na die wêreld en wêreldse dinge kan kyk nie.

Daar is etlike voorbeelde hiervan in ons persoonlike lewe, in die politieke milieu van die dag en op elke denkbare terrein. In die afgelope maande met die oorlog wat in die Midde-Ooste gewoed het, waarin duisende mense gesterf het en honderdduisende haweloos gelaat is, het juis die tipiese kampe gevorm. Pro oorlog, kontra oorlog. Pro hierdie groep, kontra daardie groep. Pro hierdie leier en kontra daardie een. Ons het vinnig geleer met wie ons oorlogsake kan bespreek en met wie ons dit eerder moet vermy. My ouers het donkiejare gelede gesê dat as jy by gaste kuier, jy nie godsdiens, rugby of politiek moet praat nie, juis omdat elkeen se unieke standpunte en voorkeure tot spanning en onmin kan lei.

Reg en geregtigheid en standpunte daaroor lê, soos skoonheid, ook in die oog van die waarnemer. Wie staan aan die kant van reg en wie aan die kant van onreg?

Oorloë sal kom en gaan, politieke bestelle skuif soms geruisloos van die een na die volgende en soms met ‘n donderende rumoer, maar daar is keer op keer vloei. 

Geregtigheid, gesien vanuit ’n Bybelse perspektief, is egter blywend. Ons interpretasie en verstaan mag van tyd tot tyd nuanseverskille ondergaan, maar Bybels gesproke kan geregtigheid net ’n dieper inhoud kry deur die genade van Jesus Christus. Deur die oë van sy offer gesien, is elke gelowige in die reine. James KA Smith meen dat God die uiterste voorbeeld van geregtigheid is. Dit wat ware reg en geregtigheid verteenwoordig, het dus nie soveel met mense te doen as wat ons dalk sal dink nie, maar eerder met God.

Smith stel dit treffend wanneer hy sê dat geregtigheid, soos dit uiteenlopend in verskillende mense se gedagtes leef, nooit ’n suiwer intellektuele verstaan van ’n bepaalde gebeurtenis of aksie in ons wêreld kan wees nie. Geregtigheid, en ons verstaan daarvan het meer te doen met die herstrukturering van ons liefde en voorkeure om in lyn te kom met dit wat Gód liefhet. 

Die belangrikste is dat hierdie herskepping van ons eie verstaan van liefde om aan God s’n gelyk te wees, dus ook ’n rehabituation, of te wel herstel na die oorspronklike bedoeling van God, moet insluit. Ons soeke na geregtigheid kan dus nie in eenvoudige pro en kontra groepe verdeel word nie. Ons soeke begin en eindig by ons bestudering en verstaan van God se geregtigheid. Gelowige pro’s en kontra’s behoort steeds in harmonie ’n roete, wat iets van God se geregtigheid weerspieël, te vind.

Die enigste manier waarop ons kan praat van ’n objektiewe verstaan van die wêreld, is om God te probeer verstaan. Ook hierin lê ’n klompie voetangels opgesluit. Selfs ons verstaan van die Bybel en interpretasie van die wil van God kom tog nie altyd met mekaar ooreen nie. Frank Schaefer het, toe hy as predikant sensitiewe etiese uitsprake oor sy eie seun se homoseksualiteit moes maak, gesê dat as jy dan fouteer in jou denke, verstaan, uitsprake, soeke en worsteling, doen dit dan aan die kant van liefde. Indien jy onbewustelik, of meegesleur deur die kragte wat op jou inwerk, aan die verkeerde kant van geregtigheid beland, laat jou standpunt dan ten minste met liefde gekleur wees.

Ons verskil inderdaad van mens tot mens wat ons verstaan van die werklikheid betref. Die voorbeeld van liefde wat God deur Jesus Christus kom stel het, vra dat ons in sy liefde sal leef. Dit vra dat ons die suiwerheid daarvan sal nastreef. Liefde is immers nie net ’n eienskap van God nie, maar ’n wesenskenmerk. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde (1 Joh 4: 8, AFR83).