The fact that I am a woman does not make me a different kind of Christian, but the fact that I am a Christian makes me a different kind of woman. Hierdie is die woorde van die bekende Christenskrywer en sendeling Elisabeth Elliot, wie se lewe gekenmerk is deur opoffering, verlies en standvastige geloof.

Vrouemaand bied ons nie net ’n kans om vroue se prestasies te vier nie, maar ook om te besin oor die pad wat ons gestap het, en die pad wat voorlê.

As Christenvroue leef ons met ’n ander perspektief – een wat nie slegs gewortel is in kultuur of tydgees nie, maar in die ewige waarheid van God se Woord.

In ’n wêreld waar vroue daagliks aan uiteenlopende verwagtinge moet voldoen – professioneel, persoonlik, geestelik – kan dit maklik voel asof ons nooit genoeg is nie. Maar die waarheid is: Ons waarde lê nie in wat ons bereik nie, maar in die Een aan wie ons behoort. Ons identiteit is vas in Christus – nie in prestasie of posisie nie, maar in genade.

Een van die grootste lewenslesse wat ek oor die jare geleer het, is dat dit nie altyd die persoon met die luidste stem is wat die meeste impak maak nie, maar die een wat bereid is om stil in geloof te wandel. Ware invloed word nie altyd op verhoë verwerf nie, maar in die daaglikse gehoorsaamheid, die opofferinge wat min sien, en die liefde wat sonder erkenning uitgedeel word.

In ’n wêreld wat prestasie bo karakter plaas, herinner God se Woord ons: Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal! Uiterlike skoonheid hou nie, ’n mooi voorkoms is nie alles nie; as sy die Here dien, dán verdien ’n vrou om geprys te word (Spreuke 31:29-30, AFR83).

Die vrou van Spreuke 31 is nie ’n perfekte vrou nie, maar ’n voorbeeld van ’n vrou wat haar lewe gebou het op wysheid, eerbied en diensbaarheid. Sy is sterk, ja, maar haar krag lê in haar afhanklikheid van God. Dit is ’n kragtige herinnering: Om in Christus te wees, verander alles. Dit maak van ons vroue wat anders leef, anders liefhet, en anders dien.

Mag hierdie Vrouemaand vir jou nie net ’n tyd van viering wees nie, maar ook van verdieping.

Mag jy jou waarde herontdek in wie God sê jy is. Mag jy weet dat jy nie net genoeg is nie – jy is geskape met ’n doel, met invloed, met ’n roeping wat niemand kan verander of wegvat nie.

Wees dapper. Wees sag. Wees gehoorsaam. Want jy is nie net ’n vrou nie – jy is ’n geseënde vrou in Christus.