Koei-eiers, ook bekend as hoendereiers, is eetbare eiers wat van koeie afkomstig is. Hierdie onsinnige reaksie op ’n eenvoudige vraag (en ander soortgelyke blapse) het Frankryk se regering genoop om die Franssprekende geselsbot, Lucie, vir eers te onttrek van die web – aldus CNN op 27 Januarie vanjaar.

Lesers van Die Hervormer het in die Maart 2023-uitgawe behoorlik kennis geneem van die toe nog relatief nuwe verskynsel van geselsbotte wat aangedryf word deur kunsmatige intelligensie (KI). Op daardie stadium was dit hoofsaaklik OpenAI se ChatGPT en Google se Bard wat die verbeelding aangegryp het. Vandag is daar talle ander indrukwekkende botte soos DeepSeek, Claude, Bing Chat, Amazon Lex, BlenderBot, Perplexity, Kuki, en vele meer. Dit is nou ’n goeie tyd om die afgelope twee jaar in oënskou te neem – twee jaar is immers baie lank in tegnologietyd.

Geselsbotte het intussen ’n deel van ons daaglikse lewens geword. Die tegnologie is reeds goed gevestig in finansiële instellings, groot besighede en sommige staatsinstellings se kliëntediens, ook in die opstel van gevorderde sakeplanne, en in bemarking en verkope, opvoedkunde en opleiding, geneeskunde en gesondheid, navorsing, joernalistiek, toerisme, ensovoorts. Daar is gemeentes wat dit reeds met vrug gebruik in, onder andere, Bybelstudie, bedieningsbeplanning, toerusting en algemene gemeentebestuur.

Dit beteken nie mense is intussen vervang soos wyd voorspel is nie. Daar is ’n groeiende besef dat geselsbotte bloot ’n aanvullende instrument is. KI sal waarskynlik nooit mense in die werkplek op groot skaal vervang nie. Mense wat KI bemeester het, gaan egter wel mense wat nie KI-vaardig is nie, mettertyd vervang.

Die Franse Lucie is natuurlik in goeie geselskap. Geselsbotte het al berug geraak vir spekskiet. Dit is ’n groot risiko om op KI staat te maak om jou werk te doen. In die hooggeregshof in Pietermaritzburg is ’n regsfirma onlangs deur ’n regter voor stok gekry toe sy vasgestel het dat sewe hofbeslissings wat aangebied is in die argumentvoering in ’n hoë-profielsaak, eenvoudig nie bestaan nie. Die firma staar nou ’n ondersoek deur die Regspraktykraad in die gesig weens die gefabriseerde regspresedente. Ek het voorheen in hierdie kolom beskryf hoe ChatGPT sonder om te blik of te bloos selfs ’n Bybelkarakter uitgedink en haar fiktiewe tragiese lewensverhaal as die waarheid voorgehou het.

Aan die ander kant, ons toekoms kan nie verbeel word sonder KI nie – en die kerk behoort beslis nie negatief te wees oor die ontwikkeling nie. Boekdrukkuns, die binnebrandenjin, die telegraaf, elektrisiteit, radio, televisie, klankversterking, klankopnames, persoonlike rekenaars en gevorderde sagteware, die internet en e-pos, GPS, sosiale media, virtuele byeenkomste, beeldprojeksie, slimfone met hul magdom gesofistikeerde toepassings, ensovoorts – elke nuwe tegnologiese uitvinding is met groot vrug deur die kerk gebruik. Dit sal ook só wees met geselsbotte.

KI gaan ongetwyfeld nog meer verweef raak met ons daaglikse lewe. Hoe integreer ons dit op ’n sinvolle manier in ons geestelike en kerklike lewens? Dit verg ’n denkskuif – ons is immers nie meer net gebruikers van tegnologie nie, ons is bestuurders daarvan. Presies hóé om die denkskuif te maak, val ongelukkig buite die skopus van hierdie artikel.

In die redaksionele artikel twee jaar gelede het ek die volgende slotopmerking gemaak: Sal ek vir ChatGPT vra om ’n preek vir Sondag te skryf? Nee, beslis nie. Nie nou al nie… Hierdie stelling, veral die ooglopende implikasie van die laaste sin, is met verontwaardiging begroet – vreemd genoeg (of dalk nie so vreemd nie…) nie van lidmate van die NHKA nie, maar deur sommige lesers van ander kerk- en geloofsgenootskappe (en ek was natuurlik heel beïndruk dat ons publikasie so wyd gelees word…). 

Ek is steeds van mening dat KI nie bruikbare preke kan maak nie (nog nie). Selfs die botte se vaardigheid in teksuitleg is twyfelagtig (dalk omdat hulle groei en ontwikkeling tot ’n groot mate afhanklik is van dit wat hulle gevoer word?). Alle resultate behoort steeds geverifieer te word. Maar wát as daar ’n tyd aanbreek wanneer ’n geselsbot in reaksie op die regte vrae en agtergrondinligting wel met ’n beter preek of preekraamwerk as ek vorendag kan kom, in ’n fraksie van die tyd wat dit my neem? Sal dit in die belang van die verkondiging van die evangelie en van Sondag se kerkgangers wees om die bot se insette te ignoreer? Natuurlik nie.

Daar is egter ook ’n ander kant. Geselsbotte kan weliswaar ’n waardevolle stuk gereedskap wees – maar dit kan nooit die hartklop van ’n menslike verhouding vervang nie. Dit kan nie deernis en empatie hê nie; dit kan nie glo of spirituele ervarings hê nie. Botte skiet ver te kort aan lewensvaardigheid, effektiewe opinievorming, gesonde oordeel en kreatiwiteit – en weet niks van ons kosbare gedeelde menswees nie. Ons gaan in die toekoms steeds op mekaar (en op ons geloof in God) aangewese wees (en straks selfs nog meer) waar en wanneer dit regtig saak maak. Geen KI-stelsel sal ooit emosionele diepte, menslike warmte, ’n persoonlike teenwoordigheid, sosiale interaksie en ’n beliggaming van Christelike liefde kan vervang nie. Dat ons God se hande en voete in hierdie wêreld is, dít bly ons unieke roeping en voorreg – en geen bot gaan daardie rol ooit kan oorneem nie.

Daar kan nou gevra word: Het ’n geselsbot hierdie artikel geskryf? Gewis nie! Het ek by ’n bot kers opgesteek oor hul eie ontwikkeling en beperkings? Natuurlik, drie maal – en geen haan het daarná gekraai nie…

Share via
Copy link
Powered by Social Snap