I am certain of nothing but the holiness of the heart’s affections and the truth of imagination, skryf die Britse digter John Keats volgens oorlewering aan sy vriend Benjamin Bailey in 1871. Die brief is geskryf na aanleiding van Keats se gedig “The Eve of St Agnes”, en handel oor die egtheid van verbeelding en die wyse waarop dit ons menslike manier is om iets wat bokant begrip en verstand is – maar eg – te beskryf. Miskien is dit ’n poging om met ons pinkies ’n misterie te probeer aanraak, terwyl ons eintlik weet dat dit voortdurend buite ons bereik bly.
En dit is presies wat sy sewejarige kleindogter gedoen het in ’n skoolopdrag om sinnetjies te maak wat die klankgreep “ui” bevat, het Wilhelm Jordaan meer as tien jaar gelede in een van sy bekende rubrieke, “Van mens tot mens”, geskryf. Sy het haar sinnetjies soos volg neergeskryf:
God bly in ’n groot huis.
Die muis is in God se huis.
God dra ’n trui.
God se nuwe trui is bruin.
God se huis is bruin.
God maak nooit ’n vuis.
God wuif vir my.
God eet uie.
Sy kleinkind het God probeer konkreet maak, terwyl sy haar oorgee aan die geheim – die misterie – wat God is. Dit het sy gedoen deur middel van haar verbeelding en die taal tot haar beskikking. Volwassenes is meestal anders, het Jordaan destyds geskryf. Ons stry belese en ergerlik oor die geheim van God en maak wel soms ’n vuis en probeer krampagtig God vasklem, afgebaken in ons grootmenshande … maar God is nie daar nie.
Hierdie krampagtige en hovaardige afbakening van God het kop uitgesteek vroeër hierdie jaar nadat ’n storm losgebars het oor die taal wat in verwysing na God gebruik is tydens ’n legitimasiegeleentheid van die NG Kerk. Een leraar het manlike voornaamwoorde vir God (hom, hy) uitgebrei deur haar by te voeg. En ’n ander leraar het, op die spoor van Wilhelm Jordaan se kleindogter, die misterie van God met beeldspraak verwoord. Maande later wonder ek steeds waaroor die hewige en venynige debat werklik gehandel het. Dit kon tog nie gewees het nie oor die verruiming en die verskeidenheid van die taal wat ons gebruik om God mee te beskryf: amptelike kerklike komitees, vergaderings en sinodes is dit tog lankal eens dat beide ek glo in God die Vader (Apostoliese Geloofsbelydenis) en ek glo in die een geestelike Wese wat ons God noem (Nederlandse Geloofsbelydenis) bely kan word en dat die een nie die ander uitsluit óf ongedaan maak nie. Dit kon ook nie gehandel het nie oor die erkenning dat alle menslike taal en woorde ewe onvoldoende is om God te beskryf, want die kerkvader Augustinus het eeue gelede beklemtoon dat die oomblik dat jy dink dat jy God volledig “verstaan”, is dit wat jy dink jy begryp, juis nie “God” nie. Na maande se nadenke hieroor, lyk dit tog asof die debat wat ontstaan het, ’n duidelike teken is dat ons wel krampagtig, God binne-in menslike hande (vuiste) afgrens.
Metafore as beeldspraak vir God het altyd ’n “is” en ’n “is-nie” karakter. Daar is ’n kreatiewe spanning in die taal wat ons gebruik om God te beskryf omdat dit net tot op ’n punt be-gryp-baar is en ons onsself daarna moet versoen met die wete dat ons woorde net té kort skiet. God “is” van daardie woorde/begrippe wat ons gebruik om God mee te beskryf, maar God “is nie” daardie woorde nie, omdat God groter is en nie vasgevang kan word in daardie woorde nie. Voorbeeld: God is ’n rots. Ja: God is sterk, standvastig. Ja: God se tydloosheid is vergelykbaar met iets wat eeue lank al bestaan. Ja: Die elemente van die weer kan God nie onderkry nie. En tog ook: Nee – God is nie so hard nie; God is nie ’n fisiese klip of rots nie. God is nie onaangeraak deur menslike lyding nie. God is nie leweloos nie. ’n Metafoor waarmee ek nog altyd besonder baie gesukkel het en wat in ons Afrikaanse kerktaal en geloofstaal dikwels gebruik word, is dat God ’n koning is. Vir die mense van die Bybel sou dit ’n beeld gewees het wat uit hul leefwêreld met monargieë en koninkryke sou kom. Hulle sou verstaan het wat dit beteken. Maar wat beteken dit vir my? Is God ’n president? ’n Kanselier? ’n Premier? En gegewe die aaklighede van koloniale mag – kan ons werklik daarmee identifiseer? Tog gaan mense nie ophou om dit te gebruik nie, want, soos ek baie keer al moes hoor, is dit nou nie asof ’n mens probeer om te kenne te gee dat God ’n aardse koning is nie. Nou toe nou.
Wat is dan die probleem met meerdere taalkunstenaars se pogings om die onsêbare te sê, trouens, te erken dat ons nie God in ons grootmenshande kan toesluit nie? Ons het mos dan juis taalkunstenaars – en sewejarige dogtertjies – broodnodig om ons daaraan te herinner dat ál ons taal oor God “as ek in eerbied wonder”-taal is. Ons taal is ’n belydenis dat God tegelyk naby ons is – aards – maar nie vasgevang kan word nie – hemels. Net beeldende taal is in staat om hierdie geweldige afstand te oorbrug én dit in stand te hou! Die treffendste voorbeeld hiervan is sekerlik die gedig “Alomteenwoordigheid” van die Afrikaanse digter TT Cloete:
hy weet nie van afsondering nie sit nie
skilderagtig geraam in die hemel nie hy is oral
hy loer oudergewoonte in by ’n stal
is geen haarbreedte van dié wat bid nie
by die roepende padda in die kuil
is hy by die stil visse in die poel
by die kind wat in sy oë seer voel
en die bruidjie wat plaasver in haar eie arms huil
Dit is een van die allermooiste beskrywings van God wat teenwoordig is in die aardse en alledaagse, maar juis by ál hierdie dinge betrokke is en dus alomteenwoordig is – dus bo-menslik. Geen kerk of kommissie of sinode sal hiermee kan baklei nie, want dit beskryf iets van God se eienskappe wat juis in ons oud-belydenisse saamgevat is. En wat van DJ Opperman se gedig “Wederkoms”, wat nie in die Bybel voorkom nie, en wat ’n onbekende metafoor gebruik (magneet), maar presies die tipe taal is wat die Psalmdigters oor God se grootsheid sou gebruik het:
God het as magtige magneet
Sy vinger
deur ’n wit wolk
gesteek:
dakke en bome en mense
beur en buig krom
soos alles ontspyker, ontwortel, ontaarde
na Hom.
En dan kom ons by die gewraakte gedig wat die venynige debat veroorsaak het: “Gebed om ’n reënboog” deur Rosa Smit wat verskyn het in die bundel Krone van die narsing, wat ’n oorhoofse Christelik-godsdienstige tema het:
heilige prisma
ek wat ’n klein-klein liggie prik
bid dat jy my dwarsdeur jou moet pluk
dat ek sewekleurig na omhoog
in ’n loflied jou kan loof
Diegene met meer wetenskaplike kennis as ek sal kan bevestig dat ’n prisma ’n deursigtige voorwerp is wat lig deurlaat – sewekleurige lig. En dat ’n prisma meestal drie kante het. Rosa Smit het hier iets probeer sê, met taalkuns en menslike beeldspraak, van die nietigheid van die mens (klein liggie), die grootsheid en rykheid van die Drie-enige God se Lig, en die versugting (gebed) dat daardie groot Lig in my en jou klein lig weerspieël sal word – dat ons as’t ware as instrumente gebruik word. ’n Pragtige gebed aan die vooraand daarvan om as predikante “na al die nasies” te gaan en God se karakter met woord en diens uit te straal. In verwondering lees ek die versreëls en dank God vir iemand se talent om my te help om die onsêbare te sê.
Derhalwe, hier in Augustus – vrouemaand – kan ek ongelukkig nie die moontlikheid buite rekening laat nie dat hierdie beeldspraak van Rosa Smit ’n slagoffer was van pogings om die manlikheid van God ten alle koste te beskerm en derhalwe vir God in ons hande af te baken. Want op dieselfde geleentheid is God met meerdere voornaamwoorde beskryf – en nie almal daarvan was manlik nie.
Vergun my dan die geleentheid om met my ontoereikende taal iets oor God se “alomteenwoordigheid” in my eie lewe te probeer beskryf – want God het ook vir my, ’n vrou, op die hart getik (aldus Karl Barth), en ook ek, kan nie anders nie as om uit te roep: Ek glo! Dit doen ek te midde van ál my menslike tekortkominge, en ook te midde van ’n konteks waarin “ouer” aan “moeder” gekoppel was – en vroulike voornaamwoorde en beeldspraak vir Goddelike versorging nie ’n ongewone of boosaardige verskynsel sou gewees het nie:
God bak beskuit
in my ouma se wye plaaskombuis,
en skep die wonderwerk
van varsgebakte karringmelk.
Later – breek God vir ons elkeen
’n stuk, en ons deel, gemeensaam,
in die smaak van geluk.
En môre-oggend voor sonsopkoms
as die vroeg-oggend donkerte my bedruk,
kan ek getroos uit die bed verrys,
want op die kombuistafel
wag die wonderwerk van varsgebakte anys.
God bak beskuit
in my ouma se wye plaaskombuis.
(Hierdie teks is ’n persoonlike meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)

Wonderlik! Of nee, beter beskrywings is “insiggewend” of Iets om oor na te dink en wat meer as een keer gelees moet word.
Baie dankie vir die aanstuur hiervan.
Wonderlik om te hoor, dankie Adinda!
Tanya
Daar is ‘n hele spektrum van gelowige Christene. Sommige ken die moontlikhede van beeldspraak en kan ook kreatief met taal omgaan. Ander is minder vaardig met beeldende taal en hou daarom, uit eerbied vir God, by die beeldspraak en metafore wat die Bybel bied en waarmee hulle grootgeword het. Ek dink ons moet, wanneer ons in die openbaar optree of wanneer ons gedagtes op skrif vir die algemene publiek toeganklik gemaak gaan word, maar die gesindheid openbaar wat Paulus in 1 Korinthiers 8:13 verwoord: “Daarom, as kos my broer laat struikel, sal ek beslis vir ewig nie weer vleis eet nie, sodat ek nie my broer laat struikel nie.” Daar is dus in akademiese kringe plek vir kreatiewe taalgebruik wanneer dit oor God gaan, maar daar is ook perke daaraan wanneer ons met opregte, vroom gelowiges te doen het.
Baie dankie Tanja Ja ons taal bly maar gebrekkig as ons van God praat en selfs as ons met God praat. Daarom moet ons ja en nee mekaar altyd deurkruis. God is altyd weer anders. Ons spreke is onvolledig engebrekkig.
Ek deel 100% Andries Breytenbach se mening. Ek is sekerlik maar baie kinderlik in my geloof in die 3-enige God. “My Bybel” leer my “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien”
“.Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken”
Ons drie-enige God ken ons harte en dit is wat belangrik is. Ons moet ophou gis en aannames maak en verstaan dat daar dinge is wat ons nie nou sal verstaan nie en dat taal en vertaling ‘n groot uitdaging is.