Psalm 8 laat geen twyfel oor die mens se menswaardigheid nie. God self het ons met eer en waardigheid bekroon. In Bybelse taal: God gee aan alle mense waarde. God tree met alle mense in verhouding.
Jesus verpersoonlik menswaardigheid soos volg:
- Jesus lê sy lewe af vir mense.
- Hy gee aan mense ’n nuwe lewe in Hom.
- Jesus raak die verworpenes aan.
- Hy bevry die verstotenes en maak siekes gesond.
Die woordeboek se definisie van menswaardigheid is: Dit is die toestand om geëerd, gerespekteerd en hooggeag te voel. Menswaardigheid behels dus hoe ons onsself beskou, sowel as die manier waarop ander ons behandel.
Elke gemeenskap het mense wat as gevolg van hul omstandighede arm, hulpeloos en kwesbaar is. Die gesindheid en reaksie van ander kan wel ’n bedreiging vir hierdie mense inhou. Dit is hartseer hoe hul menswaardigheid dikwels geïgnoreer of geskend word. Ons hoor en sien dikwels hoe mense sonder respek as nikswerd bejaardes en armes behandel word. Ons moet sagter na mense kyk. Ons moet met ander oë kyk. In 1 Samuel 16: 7 lees ons: Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie – die mens kyk na die uiterlike, maar die Here kyk na die innerlike.
Jefgeni Jeftusjenko skryf: In 1941 het Mamma my Moskou toe geneem. Daar het ek ons vyande, die Duitsers, vir die eerste keer gesien.
Byna 20 000 krygsgevangenes het die dag deur die strate gemarsjeer as oorlogstriomf. Die toeskouers was meestal vroue met growwe hande, kleurlose lippe, skouers inmekaargetrek van vermoeienis en koue. Daar was seker nie een van hulle wat nie ’n geliefde deur die hand van ’n Duitser verloor het nie. Die vroue het vorentoe gebeur, hul vuiste gelig, haat in hul oë.
Dit was die eerste keer dat die vroue die Duitse soldate, die vyand, van naby gesien het. Die Duitse soldate was maer, ongeskeer, met dowwe oë en bloedbevlekte verbande om hul koppe en voete. Leunend op hul krukke of op hul kamerade, het hulle in stilte of met geboë hoofde aangesukkel.
Na ’n rukkie het daar met die toeskouers iets gebeur. Hulle het ook begin stil word. ’n Ou vroutjie met stukkende skoene het tussen die skare vorentoe gedruk. By die rye soldate het sy iets, in ’n vuilerige doek toegedraai, uit haar handsak gehaal… ’n paar korsies swart brood. Onbeholpe het sy dit gedruk in die hand van ’n jong Duitser wat wankelend van uitputting voor haar verby geslinger het. Skielik begin daar toe van oral af vroue na die soldate toe hardloop. Brood, sigarette, enigiets wat byderhand was, is woordeloos in die verkluimde soldatehande gedruk…
Die soldate was vir die vroue mense.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
