Lees Handelinge 1 en 2
Die openbaring vind ons in die geskiedenis van God die Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees. In hierdie progressie vind ons die vergestalting van God se openbaring reeds in Matteus in daardie bekende benaming Immanuel: God met ons en/of God by ons.
Hierdie ontsluitingsmoment bring God na ons, na die mens se omgewing en omstandighede. ’n Moment wat geskiedenis, datum en tyd verander. ’n Onbegryplike oomblik, die onsigbare God in sigbare menslike vlees en bloed. Die onaanskoulike ten aanskoue van die mensdom. In terme van die Ou Testament ’n onverklaarbare gebeurtenis. Niemand kan God sien en bly lewe nie. Christus kom en kom woon en wandel meer as 30 jaar lank op aarde, en Hy is die Een wat sterf vir dié wat Hom gesien het, en dié wat Hom gesien het, sterf nie.
Die kruisiging kom in die geskiedenis amper as ’n korreksie op die openbaringsverwagting. Jesus Christus kan nie die Messias wees nie. Verander hierdie stukkie geskiedenis, vee dit uit soos Herodes wou, en die mensdom se geskiedenis maak sin en keer terug na normaal.
In skrille kontras hiermee vind ons die hemelvaart. Die evangelie van die koninkryk van God breek aan en word vergestalt in hierdie gebeurtenis. Die openbaringsmoment Immanuel maak plek, vir in stede van God by ons, ons by God. In stede van ’n aardse koninkryk, die koninkryk van God. In stede van vashou aan hierdie wêreld, ’n verlossing van hierdie wêreld.
Die onomkeerbare werklikheid kom tot openbaring in die uitstorting van die Heilige Gees. Die pneumatologiese werklikheid vergestalt in die verkondiging van Jesus Christus. Die tasbare mens Jesus Christus kom nou na vore in die tasbare dade van die verkondiging van die verlossing. Die vernietigbare mens word vervang met die onvernietigbare werk van God. Die Woord en Gees is die nuwe werklikheid, albei lewend en onaantasbaar. Die Heilige Drie-eenheid kom tuis in ons en dring ons na die Vader se sending van sy Seun na hierdie bedorwe wêreld. Dit skep ook opnuut die drang na ons Vader se huis waar ons opnuut kan tuiskom wanneer ons in hierdie openbarende ontdekkingsreis van God ingetrek word en deel in al die wonderlike gawes wat ons as erfgename van die een Lewende God ontvang in die dood van ons Verlosser Jesus Christus.
Die Drie-enige God openbaar Hom as’t ware in hierdie wonderlike gebeure as die God wat na ons toe kom, die God wat werklik in ons werklikheid deurbreek, en ons dan ook weer kom saamdring na Hom. God laat geen deel van die menslike bestaan sonder ’n blik op Hom nie, sodat ons, ek, in ons soeke na God, God by my wil hê, en ek Hom wil kruisig of wegredeneer – tot uiteindelik by: ek wil by Hom wees…
Die totaliteit van die geskiedenis, die hede en die werklikheid, ontvang in God se genade ’n blik op tyd en ewigheid. Hierdie blik ontvou daagliks in die werklikheid in die nabyheid van Woord en Gees, in die ontdekking van God se dade in ons werklikheid. Amen.