Kom ek wees eerlik, ek is nie veel van ’n televisiemens nie en ek kyk ook nie dokumentêre films nie. My Octopus Teacher is egter die een-keer-in-’n-leeftyd-uitsondering. Dit is ’n meesterstuk waarvoor jou byvoeglike naamwoorde opraak.
Indien Graig Foster se verhaal wat ingeweef word by die seekat s’n jou nie vasgenael hou nie, sal die onderwaterfotografie dit doen. Enigiemand wat voel sy kreatiwiteit raak afgestomp, sal kan leer by hierdie man. Hy het al saam met grootwithaaie geswem, op die nes van ’n Nylkrokodil in die Okavango afgekom en by die Sanmense van die Kalahari leer spoorsny.
Graig Foster, vervaardiger van dokumentêre films, se ontmoeting met ’n seekat in die dieptes van ’n seewierwoud aan die kus by Simonstad was die begin van ’n liefdesverhaal soos geen ander nie. ’n Liefdesverhaal tussen ’n mens op soek na antwoorde op die raaisels van die lewe en ’n seekat wat letterlik na hom uitreik en sy leermeester word.
Ek het op haar verlief geraak. Maar ook op die wonderlike wildheid wat sy verteenwoordig en hoe dit my verander het. Sy het my geleer dat ek ook deel is van hierdie wêreld, ek is nie ’n gas nie, vertel Graig in sy film.
Ek vra myself af hoekom hierdie film my so geraak het en my selfs in trane gehad het. Die film is in September 2020 uitgereik. In daardie stadium is die greep van ons grendeltyd ’n bietjie verslap en het dit gevoel of daar al ’n windjie agter ons maskers inwaai. Ons is almal broos gelaat na die afsondering, en om hierdie verhaal te kon sien afspeel, was ’n emosionele ervaring. Om ’n seekat haar arm te sien uitsteek om aan Graig se hand te raak, het my ’n knop in die keel gegee.
Graig Foster het aan uitbranding gely toe hy in 2010 begin het om elke dag te gaan vryduik in die see by Simonstad. Dit is waar hy en sy broer Damon grootgeword het en dit is die see waarin Graig as seuntjie gedoop is. Graig se verhouding met sy seun, Tom, was in daardie stadium nie goed nie.
Daar in die seewierwoud, in die ysige water van die Atlantiese Oseaan, het Graig op ’n vroulike seekat afgekom, gekamoefleer onder ’n hopie skulpe. Daarna het hy elke dag onder die water na haar gaan soek en hul ontmoetings met ’n kamera vasgelê. Op ’n dag het sy versigtig onder ’n klip uitgeloer en met een van haar arms aan sy hand geraak en speels met haar suiers aan hom geklou. Die gebaar het hom verstom en gewys sy begin hom vertrou.
Die seekat het vir Graig die wonders van haar wêreld gewys, hoe sy meesterlik haar kos vang en van ’n streepkathaai (pyjama shark, Poroderma Africanum) ontvlug deur op sy rug te klim terwyl hy in die water na haar bly soek.
Maar in ’n ander vreesaanjaende toneel sien jy hoe ’n haai haar jag en een van haar arms afbyt voor sy onder ’n klip vir hom kan wegkruip. Na die aanval kon sy skaars beweeg en het sy glad nie geëet nie, al het Graig vir haar kos gebring. ’n Paar dae later het hy opgemerk ’n nuwe arm begin uitgroei.
Dit het my ’n vreemde soort selfvertroue gegee om te sien dat sy hierdie groot probleem kon te bowe kom. Op ’n vreemde manier het ons lewens mekaar s’n weerspieël en my verhouding met mense was aan die verander, vertel hy voor die kamera hoe sy hom gehelp het om ander weer te begin vertrou en self ’n pad na genesing te stap. Tom, Graig se seun, het saam met sy pa begin duik, en so het hul verhouding ook ’n pad van genesing geloop.
Graig se interspesievriendskap met die seekat was van korte duur, want die diere se lewensduur wissel van een tot twee jaar. Op dag 324 van hul verhouding het sy reguit na hom toe geswem en aan sy bors vasgeklou. Dit was die laaste dag dat Graig haar kon vashou. Sy is kort daarna dood. Graig het nooit vir die seekat ’n naam anders as seekat gegee nie.
Terug by die vraag hoekom hierdie eenvoudige verhaal my aangeraak het. Daardie verhouding wat ontstaan het, laat my wonder of ek nie terughunker na waar ek self vandaan kom nie? Dat ons na God se beeld gemaak is, die Skepper se beeld, met die opdrag wat die Skepper gee in Genesis dat ons moet heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en die diere op die grond. Ons is gemaak om ’n verhouding te hê met die diereryk. Dit is ons eerste opdrag om self vrugbaar te wees en te vermeerder, en tweedens die diereryk te onderwerp en daaroor te heers. Die opdrag uit die tweede skeppingsverhaal is: Gee vir hulle name. Daar moet ’n verhouding wees tussen mens en dier.
As dit is waarvoor ons gemaak is en ons as moderne mense dit in ’n groot mate verloor het, dink ek dit is die hunkering wat in my wakker word en miskien ook die donker wete dat dinge nie is soos dit moet wees nie. Graig Foster se daaglikse duik in die koue water sê vir my ons het iets gemis. Ek voel iets is verkeerd, en dit wat Graig op ’n daaglikse basis doen, laat my hunker na hoe dit moes wees. Dit het my gelaat met ’n gevoel van magteloosheid.
Hierdie magteloosheid het my teruggebring na ons as gelowiges se hoop. Daar is ’n wonderlike verhaal in die Bybel oor iemand anders se spesiale verhouding met ’n dier, ’n verhouding wat Jesus self gehad. Toe Jesus op pad was na Jerusalem, het Hy hulle opdrag gegee om vir Hom ’n jong donkie te gaan haal, waarop niemand nog gery het nie (Luk 19: 30). Hy wou op daardie dier Jerusalem ingaan. Dit is asof Jesus vir ons hier wil vertel wat alles kan gebeur as die Messias in beheer is. ’n Jong donkie wat nog nie ingebreek is nie, sal wild spook om die persoon op sy rug af te gooi, maar Jesus wat die see kalm kon maak, is ook in beheer van die donkie, en Hy stel ook vir Graig in ’n besondere verhouding met die seekat. ’n Verhouding gebaseer op vertroue.
Hoe meer jy weet dat jy gemaak is om ’n verhouding te hê met jou omgewing en die diere wat daarin leef, hoe meer sal jy verwonderd raak en dankbaar wees oor die wonder van menswees. Die film het vir my uitgewys dat ek inderdaad ’n verhouding kan hê met diere, plante en skoonheid, en dat die lewenslesse wat ek uit hierdie verhoudings leer, my kan help om van my eie menslike uitdagings te oorkom. CS Lewis het gesê: A man with a dog closes a gap in the universe. Ons Redder het gekom om alles wat skeefgeloop het, reg te maak. Elkeen van ons wat staan in ’n verhouding met ’n dier, die planteryk of die natuur, is besig met die heelmaak van dit waarvoor ons Christus ook sy lewe gegee het.
My Octopus Teacher is benoem vir die Oscar-kortlys vir dokumentêre films vir 2021.
NHSV Streekvoorsitter: Vaalrivier
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)
