Deo Volente – As dit God se wil is. Soos menige Afrikaanssprekende kind wat in ’n Christelike huis grootgeword het, het ek hierdie sinnetjie meermale gehoor. Ek het ook opgelet hoe mense sê: Ek sien jou, DV, môreoggend, by die kantoor. In my kringe het dit beteken, as dit God se wil is. Vir ander kon dit ook beteken het, as dit bedoel is om te gebeur of as niks in die pad daarvan kom nie. Gedagtig aan hoe mense in my grootwordjare ook soms DV amper as ’n selfvervullende profesie aangewend het (of selfs vir God probeer gyselaar hou het daarmee), het twee van my onlangse ervarings my opnuut laat wonder hoe ons oor die wil van God nadink.
Die eerste een: Een Vrydagaand sit ek aan tafel saam met kollegas en nagraadse studente uit Duitsland wat ons Fakulteit by die Universiteit van Pretoria besoek het. My sitplek aan tafel is langs ’n mediese dokter wat nou besluit het om Teologie te bestudeer. Hy vra my uit na hoe dit gebeur het dat ek Teologie gaan studeer het en ’n predikant geword het. Ek vertel vir hom my verhaal oor roeping, soos ek dit ook onlangs vir ’n boek oor roeping neergeskryf het. Na my verhaal klaar is, keer die dokterstudent terug na een spesifieke deel van die verhaal, naamlik oor hoe ek my gewaarwording oor my roeping beskryf het. Soos vele digters in die Ou Testament wat oor die maag as die setel van denke of gewete of gevoel geskryf het, het ek nog altyd oor my roeping gesê dat ek het iets in my maag gevoel het – ’n tipe trekkrag. My tafelgenoot wil meer hieroor weet: Hoe het dit gevoel? Hoe het jy geweet? Hoe sou jy dit regtig beskryf?, vra hy. My antwoord: Ek weet nie hoe dit ‘gewerk’ het nie. Ek het geen stem uit die hemel gehoor nie, geen natuurteken gesien nie, geen Bybelversie is my in die hand gestop nie, geen droom het my in die middel van die nag laat wakker word nie. Trouens, vertel ek hom: Ek het dit nog nooit regtig verstaan nie. Al wat ek weet, is sedert ek op daardie trekkrag gereageer het, het die meetsnoere vir my in lieflike plekke geval, soos die Psalmdigter in Psalm 16 gesê het. Pasop, sê ek vir hom, hier is nie sprake van voorspoedsteologie nie – om tot by die universiteit te kom, was moeilik, en die reis sedertdien, met tye donker en onseker. Die mediese dokter/teologiestudent luister aandagtig. Op die ou einde, sê ek vir hom, het ek besluit om die misterie van die hele saak te aanvaar. Met elke vurk in die pad hoor ek steeds nie ’n helder stem nie. Ek is steeds bekommerd of ek die regte koers inslaan, en ek wonder aanhoudend hoe om oor God se wil te dink. Vir my is dit nog meer kompleks tydens tye wanneer daar die een of ander stryd aan die gang is, en alle betrokke partye God se Naam aanroep en daarop aanspraak maak dat hulle God se wil uitvoer.
Dit bring my by die tweede ervaring: Soos met soveel ander mense, moet ek na ’n interessante jaar ’n keuse maak oor ’n potensiële vurk in die pad, in my loopbaan. Vir weke wik en weeg ek, en wend my byna tot die welbekende pros and cons-metode om die voor- en nadele van elke keuse te probeer vasstel. Byna elke oomblik dink ek aan daardie eerste trekkrag en ek wonder hoe ek (of enigeen) ooit klinkklaar sal weet wat God se wil is. Gedurende hierdie tydperk van selfgesprekke en gesprekke met God, kom ek meerdere kere af op die welbekende verhaal van die man wat midde-in ’n vloed op sy dak vasgekeer was en tot God om hulp en verlossing gebid het:
Terwyl hy op die dak sit, kom iemand met ’n reddingsbaadjie verby en bied dit vir die man aan. Die man antwoord: Nee dankie, God gaan my red. ’n Kort ruk daarna kom ’n motorboot verby en die man kry die geleentheid om in die boot te klim. Nee, sê die man, ek het gebid en God gaan my gebede verhoor, en my red. Nog later vlieg ’n helikopter oor die dak en ’n tou word na die man toe laat sak, met die aanbod: Hou aan die tou vas, ons trek jou op. ’n Derde keer weier die man, en benadruk dat sy geloof standvastig is en dat God hom sal red. Na ’n paar uur verdwyn die dak van die huis onder water en die man verdrink. Na sy dood, by die poorte van die hemel (so loop die verhaaltjie), vra hy vir God: Hoekom het U nie my gebede verhoor nie? God antwoord: Ek het vir jou ’n reddingsbaadjie, ’n motorboot en ’n helikopter gestuur. Wat moes Ek nog gedoen het? Hierdie verhaaltjie en my vurk in die pad, herinner my aan Abram se vraag aan God in Genesis 15: Maar hoe sal ek weet, Here?
Na meer as 20 jaar waartydens ek met teologie besig is, het ek gedink ek sal weet. Ek is egter daaraan herinner dat die pad met God twee altyd-teenwoordige eienskappe (pole) het, en dat die pad tussen hierdie eienskappe in ’n kreatiewe spanning ontvou: misterie (die trekkrag in my maag) en onderskeidingsvermoë (die drie reddingsboeie wat God gestuur het). Hierdie pad kan nooit in een van hierdie pole opgelos word nie. Die pad is ’n kreatiewe spanning wat deur onderskeidingsvermoë (rede; kennis; verstand) en misterie (geloof; vertroue) in stand gehou word.
Op die ou einde beteken dit dat ons ’n pad kies met die beste en ook beperkte kennis tot ons beskikking, en ons vertrou vir God om dit saam met ons deur te loop. Ek weet nie of ek meer kan glo dat iemand gestraf word deur God as hulle links sou kies, wanneer hulle regs moes gegaan het nie, of regs gaan, toe hulle links moes gegaan het nie. In elk geval is dit ’n vraag of die kompleksiteit van menslike lewe en ons verhouding met God in twee klinkklaar, aparte roetes, op ’n binêre wyse, afgebaken kan word. Veel nader aan die werklikheid is dat ons met ’n kaleidoskoop beide gekonfronteer en geseën word, en for better or for worse, ons weg daardeur moet vind – soms met verrassende en soms met hartverskeurende gevolge. Ek vir een, glo opnuut dat ek nie die toekoms alleen sal aanpak nie:
Wat de toekomst brengen moge,
mij geleidt des Heren hand
moedig sla ik dus de ogen
naar het onbekende land
Die einde van een jaar en die begin van ’n nuwe een is ook op sigself ’n oorgang. Ek hoop dat ons dit saam met God, met beide die ontvanklikheid vir die misterie en die helderheid van onderskeidingsvermoë, sal aanpak.
(Prof Tanya van Wyk is dosent aan die Universiteit van Pretoria en predikant by die Nederlandssprekende Gemeente in Johannesburg)