125 jaar gelede het ds C Spoelstra predikant geword in die NHKA-gemeente Pretoria. Hy was die vierde predikant van die gemeente en in die SP Engelbrecht-museum word ’n foto van ’n jong ds Spoelstra vertoon; die foto het meer as ’n eeu lank in die konsistorie van die Du Toitstraat-kerkgebou gehang.
Ds C Spoelstra word in die breë Suid-Afrikaanse geskiedenis onthou as die skrywer van Bouwstoffen voor de Geschiedenis der Nederduitsch-Gereformeerde Kerken in Zuid-Afrika (in twee dele), sy magnum opus. Spoelstra het die Suid-Afrikaanse geskiedenis verryk, volgens sy biograaf dr Jan W Meijer, met ’n uitstekende bronnepublikasie van korrespondensie en dies meer tussen die Kaapse kerk en die Nederlandse Kerk (1652-1804). Dis bedoel nie net vir kerkhistorici nie, maar vir mense wat die Kaapse nedersetting wil bestudeer.
Uit navorsing deur Meijer oor die persoon en optrede van Spoelstra blyk dit dat in die vroeë amptelike geskiedskrywing ’n vertekende beeld van Spoelstra gegee word. Spoelstra was ’n sagte mens met gawes en tekortkomings, ’n man vol hoë ideale wat as gevolg daarvan ook groot teleurstelling ervaar het. En in Pretoria was hy eenvoudig die verkeerde man, op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek.
Hy het natuurlik sy goeie kante gehad, maar uiteindelik was hy tog maar die swart skaap onder die Nederlandse predikante wat in die NHKA gedien het. Sy lewensloop was inderdaad tragies, maar sy lewenseinde in ’n psigiatriese inrigting is ’n mite.
Kornelis (volgens sy geboortesertifikaat en vroeë amptelike dokumente) Spoelstra is op 20 September 1860 in die Friese stad Sneek in Noord-Nederland gebore terwyl die gesin in Workum gewoon het. Dit was ds Spoelstra se wens om as Cornelis bekend te staan – met ’n C. Sy vader, Abraham, was ’n tuinman, uit ’n familie van handearbeiders. Abraham se twee seuns was ’n uitsondering!

Sy broer Pieter was ’n sendingleraar in Nederlands-Indië (vandag Indonesië). Na laerskool word Cornelis ’n lettersetter by ’n boekdrukkery. Hy het ’n baie sterk motivering om predikant te word – hy is op 23 jaar hoërskool toe en finansier sy studies self met opoffering.
Hy was doelgerig en ywerig. Hy voltooi sy studies aan die Universiteit van Leiden. Op 1 Julie 1894 word hy as predikant van Zoeterwoude bevestig deur sy geliefde professor, JH Gunning. In Zoeterwoude is sy werk gewaardeer en redelik rimpelloos. In sy preke en lewe was sending, maatskaplike opheffingswerk en vroomheid (met Metodistiese trekke) sterk teenwoordig. Uiteindelik sou dit wys dat hy eerder aanklank by die Kaapse NG Kerk sou vind as by die NH Kerk in die Transvaal.
Op Hemelvaart 14 Mei 1896 kom die Spoelstra-gesin in Pretoria aan, en op 31 Mei is Spoelstra deur ds MJ Goddefroy bevestig as tweede predikant naas homself in die gekombineerde gemeentes Pretoria, Middelburg en Standerton. Die Pretoria Hervormde kerkgebou (na 1905 die Tivoli Theatre) was toe op die plek waar die stadsaalplein tans is. Sy dienstyd eindig voortydig op 1 Oktober 1897. Gedurende hierdie 16 maande was daar heelwat spanning en botsing in die gemeente – veral tussen die dominees. Dit was ook ’n jaar van groot rouverwerking vir albei: Mev Goddefroy is op 17 Mei 1896 oorlede en ds Goddefroy bly agter met nege kinders, en die Spoelstras se seuntjie is oorlede kort na sy eerste verjaardag.
Die dominees het verskil oor of Spoelstra hulpprediker was of selfstandige tweede leraar naas Goddefroy, daar was spanning oor finansies en die verhouding tot ander kerke en leraars, en meer. Meestal word daarvan uitgegaan dat die botsing in Augustus 1897 begin het toe daar ’n kwessie oor die terugbetaling van ’n lening van £10 ontstaan het. Skrywer van hierdie artikel het dit reeds in sy BD-skripsie in 1995 betwyfel en glo dis te gering om dergelike botsing te verklaar. Dit was eerder iets soos “die perfekte storm” in Augustus.
Goddefroy het die geld wat hy aan Spoelstra geleen het (weens hoë mediese koste), teruggevra (maar Spoelstra sou eers op 1 Oktober geld uit Nederland ontvang) en ’n hewige briefwisseling het gevolg met verwyte en dreigemente, ’n warm kerkraadsvergadering oor etlike dae in Oktober, wat draai by ’n vergadering van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering in Januarie 1898 en oënskynlik eindig by ’n Buitengewone Algemene Kerkvergadering op 30 Maart 1898.
Daar was selfs ’n mislukte arbitrasiepoging. Spoelstra kon lewenslank nie vrede maak met die NHKA nie. Hy het hom fel uitgelaat oor die Hervormde Kerk in sy publikasies Van Zoeterwoude naar Pretoria (1898), Zijn de Boeren vijanden der zending? (1901), en Het Kerkelijk en Godsdienstig leven der Boeren na den Grooten Trek (1915). Dis dan ook te verstane dat hy nie ’n goeie naam onder Hervormde kerkhistorici het nie.
Sedert einde 1897 tot 1906/1907 het hy tussendeur hard gewerk in vele argiewe aan die publikasie van sy Bouwstoffen. Hy was suksesvol predikant van 17 Desember 1899 tot 3 Januarie 1904 te Heino in Nederland, in Suid-Afrika 1904-1905 by NG Wynberg, en weer in SA 1911-1913 by NG gemeentes Strand, Potchefstroom en Franschhoek. Hy was teen April 1913 weer tuis in Den Haag – siek, maer en uitgebrand. In die laaste vyf jaar van sy lewe het hy met sy gesondheid gesukkel en kon hy net soms as emeritus preek in gemeentes. Die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het ook die Spoelstras ekonomies sleg getref.
Cornelis trou op 22 Junie 1894 in Den Haag met Alida Hunningher. Haar broer was ds C Hunnigher in Vlissingen. Die egpaar het vier kinders gehad: Cornelis Abraham * 26.05.1895 Zoeterwoude † 12.06.1896 Pretoria en begrawe in die Kerkstraat-Wes-begraafplaas; Carolina Antoinette Maria (Ina) * 03.03.1897 Pretoria; Cornelis Johannes George (Bob) * 07.02.1901 Zwolle – in die 1930’s tot 1960’s ’n bekende romanskrywer in Nederland onder skuilnaam A den Doolaard; en Alida Christiana (Attie) * 10.09.1905 Den Haag.
Ds Spoelstra is op 58 jaar op 12 Oktober 1918 om 17:30 in Ermelo oorlede in ’n privaathospitaal, Salem, vir pasiënte met longaandoenings. Hy is vermoedelik aan die Groot Griep oorlede, en toe op 18 Oktober begrawe in ’n klein private sendingkerkbegraafplaas. Mev Spoelstra sterf op 21 Augustus 1949 in Den Haag. Om die pot aan die kook te hou, het sy vir baie jare betalende loseerders in hul ruim huis ingeneem.
Indien die botsing in Pretoria nie plaasgevind het nie, sou Spoelstra se gawes as begaafde prediker en toegewyde navorser heel moontlik tot voordeel van die NHKA aangewend kon word.
(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)