Tannie Ena Mans is een van die nuutste intrekkers in Ons Tuis, Riviera in Pretoria. Haar volle titel is eintlik Mev dr Mans, aangesien haar eggenoot, dr CJ Mans, ’n predikant van die NHKA was.

Sy is op 11 Junie 1928 in Kroonstad in die Vrystaat gebore as Ena Müller. Haar vader, FPM Müller, het vir Vrystaat rugby gespeel! Ena lê belydenis van geloof af op 10 Oktober 1945 in die NG Kerk Kroonstad, en matrikuleer in 1947 aan Hoërskool Kroonstad.  Sy studeer huishoudkunde by Tukkies (Universiteit van Pretoria), maar haar eerste liefde, boeke, seëvier en sy aanvaar ’n pos by die Biblioteekvereniging vir Opleiding en Studie as bibliotekaresse. Tegelykertyd studeer sy weer aan Tuks in ’n ander rigting. Sy eindig in 1953 tweede in bevel van die Naslaanafdeling van die Staatsbiblioteek met die Kinderbiblioteek.

Sy tree op 17 Oktober 1953 in die huwelik met ds Cornelius Johannes Mans. Ds HO Viviers van die NG Kerk in die Vrystaat bevestig hulle in die huwelik op Steynsrus, distrik Lindley. Haar ouers woon toe op die plaas Blesbokfontein. Corneels Mans, gebore 19 Junie 1929 in Marico se wêreld, is op 31 Januarie 1953 georden as predikant in Gemeente Primrose aan die Oos-Rand.

In 1955 verhuis hulle na Kenia, Oos-Afrika, Gemeente Rensburgrust. Daar beleef Ena ’n vreemde, gevaarlike lewe te midde van ’n noodtoestand met die Mau-Mau. Dames doen inkopies met ’n rewolwer op elke heup. Daarna trek hulle in 1959 Rustenburg toe, na Gemeente Rustenburg-Suid.

Uit die aard van haar man se beroep was sy baie betrokke by gemeentelike aktiwiteite. Reeds van baie jonk af, sedert 1954, is sy ’n aktiewe lid van die Vrouelandbou-unie (VLU), en haar betrokkenheid by die VLU kan soos ’n goue draad deur haar hele lewe gevolg word. In Rustenburg word die egpaar geseën met twee spruite: Christoffel (noemnaam Christoff) Johannes op 4 Oktober 1959, gedoop 31 Januarie 1960 deur ds Mossie van den Berg, en Josephine (noemnaam Josephine) Johanna op 8 Junie 1964, gedoop deur prof Bart Oberholzer op 1 November 1964. Christoff is op 24 Mei 2019 oorlede.

Na hul verhuising in 1967 Krugersdorp toe, na Gemeente Krugersdorp-Oos, is Ena onder andere Voortrekkeroffisier, lid van die ouerkomitee van Laerskool Suiderkruis en lid van die Monumente Blommeklub. Vir agt jaar is sy betrokke by die Jac van Belkum-kinderhuis met 200 kinders, wat in hul gemeente was. Dr Mans was lid en later viseskriba van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en sy besondere studieveld was die Dogmatiek.

Nadat haar eggenoot op 25 Oktober 1974 oorlede is, verhuis sy in 1975 met twee jong kinders na Odélaan 320, Villieria in Pretoria, waar sy woon tot einde Januarie 2020. Sy is steeds lid van die VLU, ’n getroue lid van die Eendrachtkring (emerituspredikante en predikanteweduwees van die NHKA), met ’n wakker belangstelling in gemeenskap- en kerksake.

Tannie Ena Mans het kosbare skenkings aan die SP Engelbrecht-museum gedoen. Die meeste voorwerpe was spesifiek gebruik in die pastorie van Gemeente Rensburgrust, Kenia, Oos-Afrika in die 1950’s: Kolestrykyster – maak oop en vul met kole; twee pragtige olifantpoottafeltjies; ’n koperasbak; ’n ketel; ’n fraaie geborduurde kaggelskerm; en dr Mans se leertassie waarin hy sy gestyfde hempsboordjies (krae), beffies en strikkies gebêre het – met sy proefpreekbeffie gemaak deur mev Bessie Mulder, eggenote van prof ES Mulder, en nog beffies gemaak deur mev Mans self. Ook ’n draaiende lessenaarstoel van dr Mans en ’n 1948 picture hat gemaak van leghorn-strooi (tuinpartytjiehoed) wat Ena in 1948 drie pond (£) uit die sak gejaag het!  Asook ’n kerkbankie van Gemeente Rustenburg-Suid saam met gekleurde waterverfsketse deur die argitek van die gebou en binneruim van Rustenburg-Suid se kerk.

Ons bede is dat tannie Ena nog gelukkige en geseënde jare sal hê.

(Ds C Johann de Bruin is kurator van die SP Engelbrecht-museum)

Share via
Copy link
Powered by Social Snap