Een van ons oud-kollegas het dikwels gesê dat ons nie noodwendig mense met goeie preke na die kerk sal lok nie. Ons uitdaging is eerder om hulle in die kerk in te leef. Die stelling het bloot verwys na die feit dat egtheid en opregtheid in die uitlewing van ons geloof buitekerklikes na ’n ruimte lok waar die lewe vervullend lyk.

In onlangse tye is daar in verskeie kerklike publikasies groot gewag gemaak van groei: groei in getalle, groei in diepte en groei in ons verhouding met God. Binne dieselfde kader is daar ook nagedink oor kleiner gemeentes en hulle doeltreffende funksionering.

In die vroeë Christelike kerk was daar aanvanklik ’n tydperk van ongekende groei in getalle. Wetenskaplikes, soos Bart Ehrman, skryf in The Bart Ehrman Blog dat die Christelike kerk aanvanklik met ongeveer 300% per dekade gegroei het. Indien hierdie groei teen dieselfde gradiënt sou voortduur, sou daar, hipoteties gesproke, teen die jaar 160 nC reeds ’n miljard gelowiges op aarde gewees het. In die afgelope eeu het die aantal Christene wêreldwyd ingrypend toegeneem, van ongeveer 600 miljoen tot ruim meer as 2 miljard. Hou egter in gedagte dat die persentasie Christene in verhouding tot die totale wêreldbevolking in dieselfde tydperk met meer as 3% gedaal het. Dit is egter belangrik om te onthou dat om as ’n Christen op ’n sensusvorm te identifiseer, nie gelykstaande is aan kerklike betrokkenheid nie. ’n Beduidende persentasie gelowiges is eenvoudig afwesig van die kerk.

Waarom was die groei aanvanklik so groot? Wat het in die Griekse en Romeinse konteks ná Jesus se hemelvaart gebeur om dié dramatiese groei in lidmaattal te veroorsaak? Wat kan ons daaruit leer?

Alan Kreider ondersoek enkele van die eenvoudigste antwoorde op hierdie vrae in sy boek The Patient Ferment of the Early Church.

Kreider meen dat daar vier belangrike faktore was wat groei in die vroeë kerk bevorder het:

  1. Geduld. Die Grieke en Romeine was nie noodwendig bekend vir hulle geduld wanneer sake of projekte afgehandel moes word nie. Geduld is wel as ’n deug beskou wanneer iemand erge spanning of krisisse beleef het. Stoïsynse filosowe soos Seneca en Epictetus het geduld byvoorbeeld as ’n bron van innerlike krag en selfbeheersing gesien. Die vroeë Christelike kerk het geduld as een van die hoogste deugde geag. Hulle sou dus nooit die groei van die Christelike kerk probeer forseer nie. Dit was ’n natuurlike proses wat stukkie vir stukkie, onder leiding van die Heilige Gees, ontvou het. Geduld gaan immers oor vertroue op God. Kerkwees behoort ’n lewe van vertroue te wees: vertroue dat God sy kerk sal stuur in die rigting waarin dit behoort te gaan.
  2. Die tweede faktor in die ongekende groei was die sogenaamde habitus. Die Franse sosioloog Pierre Bourdieu het die woord habitus Habitus het volgens sy definisie verwys na kultuur, gewoontes, gebruike en so meer wat só deel van ’n mens se wese geword het dat dit op elke denkbare terrein van jou doen en late sigbaar is. Alan Kreider pas hierdie beginsel op die vroeë kerk toe. Indien geloof so diep in jou wese ingebed was dat dit as’t ware ’n tuiste in jou binneste gevind het, sou jou lewe daardie geloof opreg weerspieël. Hierdie egte, sigbare geloof het mense nadergetrek. Mense is by wyse van spreke in die kerk ingeleef deur ’n lewe van oortuigde geloof. Martin Luther het hierdie egte geloof beskryf as ’n saak van voornaamwoorde. Dit is een ding om te sê: Christus is die Heer, en iets anders om te sê: Hy is mý Heer. Die toe-eiening van die Heer se genade en die internalisering daarvan maak Hom vir almal sigbaar. Hierdie egtheid en oorgawe maak die lewe, die habitus, aanloklik.
  3. Die derde faktor in die vroeë kerk se groeiverhaal was toerusting (kategese) en aanbidding. Om mettertyd ’n ritme van diens en aanbidding aan te leer en uit te leef, was ’n aantrekkingskrag vir buitestaanders. Christene het meer erns met onderrig en aanbidding gemaak as wat aanhangers van ander gelowe van daardie tyd gedoen het.
  4. Laastens verwys Kreider na ’n fermentasieproses (ferment). Hoewel die vroeë geloofsgemeenskap nie spesifiek hierdie beeld gebruik het nie, beskryf dit die groei van die kerk treffend. Origenes het hierdie proses as God se onsigbare krag beskryf. Die tempo van fermentasie of gisting, en dus van groei, kon nooit geforseer of deur mense versnel word nie. Dit was ’n natuurlike proses; daarom was wag op die Here een van die eienskappe waarsonder die vroeë kerk nie sou kon groei nie.

Ons sal dalk nooit weer, persentasiegewys, die opbloei beleef wat daar in die vroeë kerk was nie. Ons sal dalk nooit weer dieselfde opgewondenheid oor hierdie nuwe geloof ervaar soos die vroeë Christene nie.

Die voortbestaan en potensiële groei van die kerk kan egter baat by nadenke oor hierdie vier begrippe: geduld, habitus, toerusting (kategese) en fermentasie. Hierdie begrippe getuig van vertroue op God en van eerlike, egte, diepgesetelde geloof wat sigbaar word. Dit getuig van die geduld wat nodig is om God se handewerk te sien ontvou. Opregte geloof en die oorgawe wat daarmee gepaardgaan, bevat op sigself dit wat buitestaanders na die Here kan lei.